Inleiding
Lydenstyd. Ons herdenk die lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus. In Jesus se lydensverhaal, ontlok die rol en karakter van Judas Iskariot nie positiewe emosies by Christene nie. Ten spyte daarvan dat hy deel van die binnekring, een van die Twaalf was wat baie naby aan Jesus gelewe het, het hy sy Meester verraai, en dit nogal met die spreekwoordelike ‘Judas-kus’. Maar is dit die enigste prentjie van Judas Iskariot?

Die naam: Judas Iskariot
Verwysings na Judas Iskariot kom slegs in die vier Nuwe Testamentiese evangelies en die boek Handelinge voor. In die eerste eeu was ‘Judas’ (Hebreeus Judah, Grieks Ioudas) ‘n baie algemende Joodse naam, en dis vanselfsprekend dat die verskillende Judasse op die een of ander manier van mekaar onderskei moes word. Die betekenis van Iskariot is egter nie duidelik nie. ‘n Paar populêre verklarings is:

· Ish-Keriot – letterlik die Hebreeus / Aramees vir ‘Man van Keriot’. Keriot mag op ‘n streek in Judea dui, maar daar is ook twee Judese dorpies wat Keriot genoem is;

· Johannes 6:71 en 13:26 impliseer dat Judas die seun van Simon Iskariot was, Iskariot sou dus ‘n op familienaam kon dui, maar die tekste is hieroor onduidelik;

· Iskariot identifiseer Judas as ‘n lid van die sicarii – ‘n rebelse Joodse moordbende wat alles in die stryd gewerp het om die Romeine uit Judea te verdryf. Hierdie bende was egter eers in die veertiger- vyftigerjare van die eerste eeu (onder Bar-Kochba) aktief, dus, na Judas se tyd;

· Sikarios in Grieks beteken ook ‘sluipmoordenaar’ (vandaar die benaming sicarii vir die latere Joodse beweging) – die evangelieskrywers kon dit bloot as ‘n gepaste bynaam vir Judas gebruik het.

Dit is dus nie heeltemal duidelik waarom Judas ook die beskrywing ‘Iskariot’ gekry het nie, maar die vier evangelies in die Nuwe Testament is dit eens: hy is die een wat daarvoor verantwoordelik was dat Jesus gevange geneem en ter dood veroordeel is.

Die aanvang van Pasga

Dit is baie moeilik om vas te stel wat presies daardie nag met die aanvang van die Joodse Pasga gebeur het. Al waaroor die vier Nuwe Testamentiese evangelies saamstem, is dat Jesus en sy dissipels saam geëet het, en dat Judas op die een of ander wyse by sy inhegtenisname betrokke was. Markus (14:4), Matteus (26:49) en Lukas (22:48) beskyf hoedat Judas onder bedenklike omstandighede vir Jesus met ‘n soen verraai het. Markus (14:32) en Matteus (26:36) is betreklik seker dat hierdie toneel in die tuin van Getsemane afgespeel het; Lukas (22:39-40) vertel slegs dat Jesus volgens gewoonte na die Olyfberg toe gegaan het. Johannes (18:3-8) weet niks van Getsemane of ‘n verradelike soen nie. Volgens hierdie evanglieskrywer het Judas bloot die afdeling soldate en wagte in diens van die priesterhoofde en Fariseërs na ‘n tuin oorkant die Kedronspruit gelei waar hy geweet het Jesus en die ander dissipels sou wees. En daar gee Jesus Homself min of meer vrywillig oor.

Dis ‘n donker nag van skrik en verwarring. Judas, een uit Jesus se binnekring het die Meester in die hande van sy teenstanders oorgegee. Hy is egter nie die enigste een wat Jesus in die steek laat nie. Petrus, ten spyte van al sy mooi beloftes, verloën Hom meer as een maal (vgl Mark 14:66-68; Matt 26:69-75; Luk 22:56-62; Joh 18:15-18; 25-27). Maar ook nie net Petrus nie: uiteindelik wanneer Jesus in hegtenis geneem word, laat ál sy dissipels Hom in die steek en hardloop weg (Mark 14:50; Matt 26:56). ‘’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ‘n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop’ (Mark 14:51-52).

Verraad, verraad, verraad! Verraad nie slegs van die kant van Judas nie. Al Jesus se dissipels het Hom op die een of ander wyse in die steek gelaat. Miskien, selfs nog voor daardie donker nag het twyfel aan meer van hulle as net Judas geknaag?

Die Laaste Avondmaal

Op die aand van sy inhegtenisname wat later die nag sou plaasvind, vier Jesus en sy dissipels die gebruiklike Joodse Pasgamaaltyd. By hierdie geleentheid kondig Jesus aan dat Hy eintlik gekom het om te ly en uiteindelik te sterf. En dan maak hy die skokkende opmerking dat een uit die binnekring Hom gaan oorgee. ‘n Mens kan die dissipels se reaksies op verskillende wyses interpreteer. Christelike lesers se eerste reaksie is om te aanvaar dat die dissipels met die vraag, ‘Dit is tog nie ek nie?’ te kenne wil gee dat hulle nooit aan so-iets sou dink nie (Mark 14:17-20; Matt 26:21-22; Luk 22:21-23; Joh 13:22). Maar die moontlikheid dat meer as een van hulle ook teen daardie tyd oorweeg het om die rug op Jesus te keer, kan nie uitgesluit word nie. Dit was alles behalwe ‘n gemoedelike vreedsame maaltyd. Verhoudinge tussen die Romeinse owerhede en die Jode was nie goed nie. Voortdurend was daar oproer wat onderdruk moes word. En op daardie stadium was Jesus alreeds ‘n omstrede figuur wat ook met die godsdienstige leiers van die volk gebots het. Dit is dalk net moontlik dat meer as een van Jesus se dissipels se lojaliteit in twyfel getrek kan word, dat meer as een van hulle ook in die versoeking was om Hom te verlaat. ‘Weet Hy dalk dat ek dit oorweeg?’ was dalk die vraag op meer as een van hul lipppe. Maar Judas Iskariot sou egter die een wees wat daadwerklik daartoe oorgaan om Hom aan die owerhede uit te lewer. Waarom?

Motiewe vir die daad

Vir die spreekwoordelike ‘dertig sikkels silwer’? Die moontlikheid dat Judas dit vir geld gedoen het, kan egter nie bewys word nie. Slegs in Matteus (26:14-15) is geld ‘n motief: hier vra Judas vir die priesterhoofde wat hulle hom sal betaal as hy Jesus in hul hande laat kom, en dan aanvaar hy hul aanbod van dertig silwerstukke. Maar volgens Markus (14:10-11) en Lukas (22:3-6) kom die geldelike vergoeding van die priesterhoofde se kant. Judas gaan na hulle toe, eerstens met die voorstel dat hy hulle sal help om Jesus in die hande te kry. En uit blydskap belowe hulle om hom daarvoor te betaal. Dit wil nie voorkom asof hy in die eerste plek net aan die geld gedink het nie. Johannes weet egter niks van enige betaling van enige kant nie, maar saam met Lukas (22:3) voeg hy ‘n ander motief by: die Satan het in Judas ingevaar (Joh 13:27). Wat Judas dus doen, is uit en uit boos.

Geld kom weer ter sprake by Judas se dood. Matteus (27:1-5) se weergawe wek simpatie vir Judas. Toe hy sien dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy berou gekry het oor wat hy gedoen het. Hy wou die dertig silwerstukke aan die priesterhoofde gaan teruggee, maar hulle wou dit nie hê nie. Toe vat hy dit, gooi dit in die tempel en hang homself op. Hierdie weergawe impliseer ‘n onuithoudbare sielewroeging by Judas. Die doodsvonnis is oor Jesus uitgespreek, en hy is die een wat direk daarvoor verantwoordelik is. Maar … spyt kom te laat, en hy kan nie langer met sy daad saamleef nie. Lukas (as Lukas-Handelinge saam gelees word) daarenteen, skets ‘n ander prentjie. Judas het wel die geld gebruik en daarmee grond gekoop. Op sy eie stuk grond het hy vooroor geval, oopgebars en sy ingewande het uitgepeul (Hand 1:18). So ‘n grusame dood klop met Judas se bose daad.

‘n Ander moontlike verklaring waarom Judas Jesus oorgelewer het, is dat hy ‘n toenemende teleurstelling in Jesus ervaar het. Dat Jesus die een of ander vorm van messiaanse hoop verpersoonlik het, kan in al vier evangelies afgelei word, naamlik die beskrywing van sy intog in Jerusalem, net voor die Pasga (vgl Mark 11:1-11; Matt 21:1-11; Luk 19:28-38; Joh 12:13-14). Al die evangelieskrywers sinspeel op Sagaria 9:9 en Psalm 118:26 – of dit nou ‘n direkte aanhaling of indirekte verwysing is. In daardie tyd was daar onder die Joodse bevolking steeds nog altyd die hoop dat daar iemand onder hulle – soos ‘n Dawid – sou opstaan en hulle van die juk van ‘n vreemde moondheid sou bevry, sodat hulle weer ‘n onafhanklike selfstandige koninkryk kon word. Miskien het Jesus se charismatiese persoonlikheid en onverskrokke uitsprake die indruk gewek dat Hy so-iemand sou kon wees. Judas – en dalk was hy nie die enigste nie – het egter besef dat hierdie hoop nie in Jesus gaan realiseer nie, en ‘n diepe teleurstelling lê ten gronde van sy optrede. Dit sou hom beter te staan kom as hy homself positief aan die kant van die godsdienstige leiers van die volk skaar, as aan die kant van ‘n opstoker wat voortdurend met almal bots.

Oor Judas se vermeende motiewe, is daar egter in die evangelies hoegenaamd geen duidelikheid nie.

Verraai of oorlewer?

‘Judas’ en ‘verraaier’ is vir Christene min of meer sinoniem, en ‘verraai / verraaier’, is die woorde wat die meeste Afrikaanse vertalings gebruik om Judas en sy optrede te beskryf. Die Griekse woord wat die vier evangeliste egter meestal gebruik, is paradidonai – beter vertaal met ‘oorlewer / oorgee’. En dikwels word die passiewe vorm van die werkwoord gebruik – byvoorbeeld Markus 14:41: ‘Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.’ Dit het ‘n teologiese implikasie, naamlik dat die evangelieskrywers te kenne wou gee dat hulle in Jesus se ‘oorlewering’ en teregstelling ook ‘n Goddelike plan gesien het. Net soos by Paulus (vgl Rom 8:32), is die gedagte van die Nuwe Testamentiese evangelies ook dat God, deur Jesus se lyding en sterwe, verlossing vir baie sondaars bewerk. Jesus word oorgelewer om God se verlossingsplan te bewerk, en Judas is direk instrumenteel. Dit is wel waar dat Judas se beeld toenemend (en chronologies deur die evangelies) versleg: in Markus 14:10-11 staan Judas se liefdelose besluit bloot in skerp kontras met die liefdevolle optrede van die vrou wat Jesus se voete gesalf het; in Matteus (26:14) gaan vra Judas geld om Jesus oor te lewer; in Lukas (22:3) en Johannes (13:27) vaar die Satan in Judas in. Maar nêrens ‘verraai’ Judas vir Jesus nie; hy lewer Hom oor. ‘Verraaier’ is dus ‘n onvanpaste term wat op Judas van toepassing gemaak word.

‘n Uiters positiewe voorstelling van Judas kom uit die Gnostiese Judas-evangelie wat moontlik uit die middel van die tweede eeu dateer. Judas is nie die skurk nie, maar die held van die verhaal. Hy word deur Jesus in goddelike verborgenhede ingewy. Hy is die dissipel wat insig in God se geheime plan het, wat meer as enige een van hulle weet, en wat ‘n besondere verligting ontvang wanneer hy Jesus oorlewer.

In die vier Nuwe Testamentiese evangelies is daar egter ‘n bepaalde spanning wat nooit opgehef word nie. Judas se optrede word nie goedgekeur nie, maar die feit dat hy Jesus oorlewer, is eintlik tog in lyn met God se plan.

Slot

Ons maak ‘n groot fout as ons Judas voorstel as ‘n geldgierige verraaier, want dis nie hoe die Nuwe Testamentiese evangelies hom teken nie. Uit die verskillende verhale waarin hy ‘n karakter is, is hy ‘n tragiese figuur. Moderne letterkunde sal hom miskien as die spreekwoordelike ‘tragiese held’ beskryf. Eers was hy deel van ‘n intieme binnekring, maar hy het toenemend van hulle vervreemd geraak, om watter rede ookal. En op ‘n kritieke moment neem hy ‘n besluit – ‘n tragiese besluit wat skrikwekkende gevolge het: iemand word ter dood veroordeel. Daar is egter geen omdraaikans nie. Judas is permanent verstote, buitekant. Buitekant mens, buitekant God. Soos Johannes 13:30 dit beskryf, as Judas uitgaan, is dit ‘nag’. Judas is ‘n figuur wat diep gely het: die evangelie van Matteus wat van sy selfmoord vertel, beeld sy intense sielewroeging die skerpste uit. Die ironie is dat hy eintlik die regte ding gedoen het, sonder dat hy dit geweet het!

Sou daar ‘n Paasverhaal sonder Judas Iskariot gewees het? Ek twyfel. In die drama rondom Jesus se inhegtenisname en doodsvonnis speel Judas ‘n sleutelrol, ‘n rol waarmee elke mens kan identifiseer: twyfel, teleurstelling, vervreemding, verkeerde besluite, tragiese gevolge. Jesus se lyding staan nie los van menslike swakhede nie, maar is ten nouste daarmee verwikkel. Judas Iskariot herinner ons daaraan dat Pase ‘n gepaste tyd is om Jesus se lyding te herdenk en om ons eie gebrokenheid te erken. Maar mag ons deurgaans van God se liefde, Jesus se genade en die Heilige Gees se betrokkenheid in ons lewens bewus bly.

Bronne

Paffenroth, K 2006. ‘Judas Iscariot.’ Paginae 439-440 in in Sakenfeld, KD (red), The New Interpreter’s Dictionary of the Bible, Volume 3. Nashville: Abingdon Press.

Söding, T 2001. ‘Judas Iskarioth.’ Pagina 600 in Betz, HD et al (reds), Religion in Geschichte und Gegenwart, Band 4. Tübingen: Mohr Siebeck.

Van Oort, J 2006. Het Evangelie van Judas. Kampen: Ten Have.

Share this / Deel hierdie: