Ons vier vanjaar die 500ste geboortejaar van Johannes Calvyn en die 200ste geboortejaar van Charles Darwin. Is ons hier op twee onvergelykbare en onkruisbare spore, of staan albei in dieselfde tradisie? Kan ons geloof uit sowel die nalatenskap van Calvyn as van Darwin put, of staan ons in hierdie twee lyne voor ’n onwrikbare keuse: óf geloof saam met Calvyn, óf ateïsme saam met Darwin?

Die jaar is ingelui met 600 rooi Londense busse wat rondry met die advertensie “There’s probably no God. Now stop worrying and enjoy your life”. Dit het gelei tot ’n hele “busoorlog” waarin Christengroepe teen-advertensies op die busse laat aanbring het. Een daarvan was die aanhaling uit Psalm 53: “The fool hath said in his heart, there is no God”.

Die indruk wat geskep word, onder andere ook deur Richard Dawkins met sy The God delusion” is dat ateïsme die enigste en logiese gevolg van Darwinisme is: As jy in evolusie glo, moet jy God verwerp en andersom, en as jy in God glo, moet jy evolusie verwerp.

Een ding is duidelik, en dit is dat Darwin en die evolusieteorie die Christelike geloof onder geweldige druk plaas – groter as die druk wat ontstaan het deur die uitvindings van Kopernikus en Galileo. Kopernikus (1473-1543) het die teorie dat die aarde die middelpunt van die heelal is, nek omgedraai met die ontdekking dat die aarde om die son wentel; en Galileo (1564-1642) het ontdek dat nie die aarde of die son die middelpunt van die heelal is nie, maar dat daar meerdere sonnestelsels is. Hoewel hierdie teorieë die Christendom tot in sy wese geskok en die manier van Bybeluitleg fundamenteel uitgedaag het, kon dit tog binne geloofskonsepte geakkommodeer word omdat die idee van die mens as die kroon van die skepping en die beelddraer van God steeds gehandhaaf kon word ondanks die nuwe ontdekkings.

Maar met die teorieë van Darwin kom die tradisionele verstaan van die skeppingsverhaal en die ingewortelde geloof dat die mens verhewe is bo die res van die skepping en die enigste draer is van die beeld van God, ernstig in die gedrang. Dit word onmoontlik om in ’n God te glo wat in ses dae alles perfek geskep en georden het, én ook die evolusieteorie te aanvaar. Darwin se teorieë staan skynbaar lynreg teenoor die teorieë soos weergegee in Genesis 1 en 2. Darwin het geleer dat:

·         die aarde baie oud is;
·         die plant- en dierespesies nie ewig en onveranderlik is nie;
·         evolusie plaasvind op die grondslag van vertakking; en
·         die mens nie die eindpunt van lineêre en progressiewe evolusie is nie.

Daarom vind die Christendom, wat nog met Kopernikus en Galileo kon saamleef, dit ontsettend moeilik om met Darwin saam te leef. Dit lyk asof ons voor ’n eenvoudige keuse te staan gekom het: Óf jy glo die Bybel, óf jy glo die evolusieteorie, wat van jou ’n ateïs maak.

Hierdie oorvereenvoudigde keuse berus egter op ’n verkeerde verstaan en interpretasie van die Bybel.

Juis daarom is dit so betekenisvol dat die geskiedenis ons vanjaar terugneem na sowel Calvyn as Darwin. Dit is ons Calvinistiese erfenis wat ons help om die Bybel met redelikheid en verstand reg te interpreteer volgens die bedoeling van die Bybel. Hoewel daar baie kritiek teen die Calvinisme en veral die uitwasse van die Calvinisme uitgespreek kan word, vier ons in hierdie jaar opnuut die erfenis wat ons van Calvyn het, naamlik dat godsdiens en rede nie teenoor mekaar staan nie en dat ons geloof ook rasioneel benader moet word. Die Calvinisme voorsien aan ons ’n teologiese en filosofiese basis op grond waarvan ons die Bybel ernstig opneem en tegelyk ook onderwerp aan kritiese, wetenskaplike denke.

Die krities-denkende teologie het ons geleer dat die Bybel nie gelees moet word as ’n handboek vir die geskiedenis of die biologie nie. Die Bybel is ’n geloofsboek wat ons help om onsself met ons vermoëns en beperkinge te verstaan in die lig van die onbegryplike God. Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 bring vir ons die troos van ’n God wat oor ons beskik en roep ons om mede-verantwoordelikheid vir die skepping te neem. Dit is nie bedoel om vir ons ’n detail-uiteensetting te gee van hoe die skepping plaasgevind het nie. Ons weet vandag daardie geskrifte het waarskynlik in die tyd van die Babiloniese ballingskap ontstaan en dat die bedoeling was om aan Israel troos en identiteit te gee te midde van ’n hopelose situasie.

Ons Calvinistiese tradisie help ons om elke Bybelteks ernstig op te neem as die Woord van God en juis daarom te verstaan binne die konteks waarin dit tot stand gekom het en volgens die inherente bedoeling daarvan. Dieselfde tradisie help ons ook om die wetenskap en aanvaarde wetenskaplike teorieë ten volle ernstig op te neem en dit eerder met ons geloof te integreer as om mense voor onmoontlike en ongeldige keuses te stel. Dit is nie óf geloof óf evolusie nie, maar én-én. Ons kan albei omhels. Ons uitdaging is om ons geloofstaal nuut te verwoord.

Die implikasie is natuurlik dat ons nie sal kan volhou om in ’n teïstiese God te glo wat ver verwyder van sy skepping ’n afsonderlike bestaan het nie. Die verhouding tussen God en die skepping blyk vol misterie te wees, wat nie verklaarbaar is met oorvereenvoudigde konsepte soos “kreasionisme” of “intelligente ontwerp” nie.

Net so sal ons nie met oorvereenvoudigde konsepte kan werk oor die verhouding tussen God en mens nie – ’n God wat die mens goed geskape het, maar magteloos toegekyk het hoe die mens verdorwe het; ’n God wat straffend en veroordelend sommige begenadig en ander verwerp. Ons sal God moet herontdek as Gees en Liefde wat op ’n misterievolle wyse in en by ons teenwoordig is; as die God wat in Jesus meely en betrokke is by hierdie wêreld.

Die implikasie is ook dat ons ons geringheid binne die vertakkinge van die skepping besef en tegelyk ons medeverantwoordelikheid as beelddraers van God aanvaar. Die implikasie is verder dat ons nie geloof as geheime en bevoorregte toegang tot God sal sien nie, maar as ’n werkopdrag om God se koninkryk te laat kom – in die samelewing en in die skepping.

Só kom geloof en wetenskap naby mekaar. Só kan Calvinisme en Darwinisme nie net in dieselfde jaar nie, maar in dieselfde asem genoem word.

[Hierdie artikel het reeds in “By” (bylae tot Beeld) van 28 Februarie 2009 verskyn.]

Share this / Deel hierdie: