Inleiding

Volgens tradisie het kabbala te make met oorlewering en ontvangs, en die aard en inhoud daarvan kan teruggevoer word na die Sinaï-gebeure (sien kabbala: 01). Feite wys egter daarop dat kabbala eintlik eers teen die einde van die twaalfe eeu in die suide van Europa verskyn het. Teen daardie tyd was daar al geskrifte in omloop, en ofskoon die kabbaliste volgehou het dat hierdie geskrifte baie antiek en outentiek was, is baie daarvan interpretasies, herbewerkings van ouer dokumente, of selfs oorspronklike individuele nuutskeppinge. In hierdie aflewering wil ek ‘n paar van die heel basiese boublokke van kabbala bekyk.

 

Ma’aseh bereshit en ma’aseh merkavah

… Oftewel, ‘die werk van die begin’ en ‘die werk van die strydwa’. In die vroeë Mishna (Hagiga 2:1) van die eerste eeu, word gewaarsku oor die bestudering van tekste wat handel oor die skepping van die heelal – soos beskryf in die eerste hoofstukke van Genesis –  en oor die hemelse strydwa – soos beskryf in die eerste hoofstuk van Esegiël. Om hierdie gedeeltes te bestudeer of daaroor te spekuleer, is gevaarlik, fisies, sowel as psigies.

   Hierdie waarskuwing word toegelig met ‘n gelykenis. Rabbi Akiba ben Josef was eeu een van die mees gerespekteerde wysheidsleraars van sy tyd. Drie ander rabbi’s het hom genader met die versoek dat hulle almal gesamentlik God se heilige teenwoordigheid opsoek. Rabbi Akiba moes hulle deur die pardes begelei (pardes dui op  ‘n heilige koninklike tuin waarvan paradys afgelei is). Maar Rabbi Akiba, deeglik bewus van die gevare, het hulle ernstig gewaarsku om eers die heidense Griekse teorie te verwerp wat aanvoer wat die heelal deur water gevorm is. Dit besoedel gedagtes, en met besoedelde gedagtes kan ‘n mens nie voor God verskyn nie.   

   Die vier rabbi’s het die pardes ingegaan en voor die suiwer marmerklippe van God se troon te staan gekom. Rabbi Zoma het onmiddellik van sy kop af geraak; Rabbi Azzai het morsdood neergeval; Rabbi Abua het sy geloof verloor, ‘n ketter geword en is blykbaar later veroordeel weens moord op ‘n jong meisie. Net Rabbi Akiba was sterk en vroom genoeg om in vrede in te gaan, en in vrede uit te kom.

 

Rabbi Akiba                   

Daar word vertel dat Rabbi Akiba ‘n nederige skaapwagter was wat eers op 40-jarige ouderdom leer lees en skryf het. Maar toe hy die wonder van die geskrewe woord ontdek, het hy hom dag en nag aan studie en meditasie toegewy en na vyftien jaar die leier van sy mense, die Jode geword. Nadat die Romeine Judea verwoes het, het die Sanhedrin na ‘n dorpie in Galilea verskuif, en Akiba het die hoof geword. Nou kon hy Skrifgesag en Skrifinterpretasie bepaal. Hy het die mag gehad om oorgelewerde wette en leringe te verkondig, maar ook om nuwe interpretasies te bevestig of te verwerp.

   Akiba het geglo dat die kleinste detail van die Heilige Skrif deur God geïnspireer is. Elke woord, letter, of leesteken bevat iets van die waarheid van God se wette. Hierdie waarheid kan ontsluit word deur diepgaande studie en nadenke van die kleinste stukkie Skrif. Akiba het hom ook toegespits op numerologie en ander tekste. So het hy ‘n voorspelling van Israel se bevryder in die boek Numeri ontdek, ‘n messiaanse militêre leier wat hy ‘Seun van die Ster’ – oftewel Bar Kochba genoem het. Uiteindelik het Simon bar Kochba die Judeërs in ‘n verset teen die Romeine gelei, en alhoewel die Romeine aansienlike verliese gely het, is die Joodse opstand onderdruk en die Jode goed op hul plek gesit.

   Rabbi Akiba is gevange geneem en wreed gemartel. Sy antwoord daarop was om pyn te ignoreer en blymoedig sy laaste sh’ma op te sê. God het hom van sy lyding verlos, en hy het heengegaan.

 

Antieke esoteriese verhandelinge

Die hekalot – (hemelse tempels of paleise) en merkavah (hemelse strydwa) geskrifte is ‘n klein versameling Joodse dokumente wat uit die laat antieke tyd dateer. Hekalot en merkavah is algemene terme wat in hierdie geskrifte voorkom, en daarom word dit so genoem. Vier onderwerpe word aangeraak:

  1. Kosmologie en kosmogonie. Die proses van die skepping en die wyse hoe God die heelal bestuur, word in detail beskryf. Dit sluit ook in die struktuur van die paradys tesame met besprekings oor astronomie.
  2. Toorkuns en toorformules. Die harba de Moshe – die swaard van Moses is die bekendste binne hierdie kategorie. Ander onderwerpe is mediese geneesmiddels, liefdesdrankies, en die vermoë om op water te loop.
  3. Esegiël se visioen van die hemelse strydwa, asook ander gedeeltes wat God se hemelse woning beskryf. Dit sluit in, uitgebreide angelologiese lyste, die name van al die engele en hul funksies, asook geheime name vir God en die aartsengele.
  4. yordey ha-merkavah – ‘neerdalers na die strydwa’. Hierdie term is ironies. Dit beskryf ‘n aktiewe prosedure, om ‘op te gaan na die goddelike sfeer’, so hoog dat ‘n mens God in al sy heerlikheid kan aanskou.

Hierdie tekste maak nie gebruik van Skrifgedeeltes nie, maar verhaal direkte, persoonlike spirituele ervaringe. Ek het gehoor … ek het gesien … ek het ervaar …

 

Sefer Yezira – [Boek van die Skepping]

Hierdie verhandeling vorm die kern van kabbala, maar, soos die ironie van die lewe dit wil hê, was dit oorspronklik glad nie as ‘n esoteriese werk bedoel nie. Sefer Yezira is ‘n kosmologiese wetenskaplike verhandeling. Dit beskryf die proses van die skepping hoofsaaklik deur die krag van die letters van die alfabet, en verteenwoordig die vroeë Joodse konsep van grammatika. Die gedagte dat die heelal deur die mag van die goddelike woord geskape is, is inderdaad ‘n antieke Joodse aanname. God skape deur sy Woord, en Sefer Yezira ontwikkel hierdie idee sistematies.

   Volgens oorlewering sou die patriarg Abraham die geheime van hierdie werk geken het, maar na alle waarskynlikheid dateer dit uit die derde of vierde eeu. Joodse rasionaliste en wetenskaplikes van die tiende en elfde eeu het dit oorgeneem en geïnterpreteer, maar spoedig daarna het esoterici, mistici en kabbaliste dit begin gebruik.

   Sefer Yezira beskryf ‘n sisteem van kosmogonie en kosmologie maar breek radikaal weg van verduidelikings is Genesis, die Talmoed en die Midrashim. Min aanhalings uit die Skrif word gebruik. Volgens Sefer Yezira is die heelal nie geskape nie, maar ‘uitgekap’ deur 32 wonderbaarlike paaie van wysheid wat in drie boeke ingegraveer is. Die paaie bestaan uit tien sefirot plus die 22 letters van die Hebreeuse alfabet. Latere kabbaliste sou goddelike magte of kragte aan die sefirot toedig, maar aanvanklik het dit slegs kosmiese dimensies gedui: Noord/Suid; Oos/Wes; OP/Af; Begin/Einde; Goed/Sleg. Die 22 letters is op verskillende wyses en in verskillende kombinasies by die skeppingsproses betrokke. Elke letter, of groep letters beheer een aspek van een van die drie basiese vlakke van bestaan, naamlik die kosmiese, die tyd en die mens, om alles mooi in balans te hou.

   Latere kabbaliste sou nuwe betekenis gee aan die terminologie van die Sefer Yezira en die sefirot, maar die argument van die oorspronklike dokument is dat grammatika die heel basiese wet van die natuur is.                                      

    

Pietiste van Duitsland in die Middeleeue

Outentieke kabbalisme is sterk beïnvloed deur ‘n beweging van Joodse esoterici en mistici, hoofsaaklik in Duitsland in die 12e en vroeg 13e eeu. Die meeste leiersfigure het uit een familie gekom, die Kalonymus-familie en die bekendstes was Rabbi Juda ben Samuel die Vrome (oorlede 1217) en sy familielid en dissipel, Rabbi Eleazar ben Juda (oorlede 1230).

   Europa het ‘n baie donker tyd belewe. Kruisvaarders, met die doel om die Heilige Land uit die hande van die Moslems te bevry, het die Jode langs die pad in Frankryk, Duitsland en Engeland wreed uitgemoor. Joodse piëtiste het ‘n sisteem van godsdienstige etiek ontwikkel wat gerig was daarop om mense deur intense martelaarskap te help. Hulle het ‘n baie pessimistiese uitkyk op die wêreld gehad. Alles wat gebeur, is ‘n reeks beproewinge deur God om die enkele regverdige en moedige individue voor te berei vir ‘n ewige saligheid in die volgende wêreld.

   Die belangrikste idee wat die latere kabbaliste oorgeneem het, was die piëtiste se siening dat die goddelike wêreld uit etlike lae bestaan. Elke laag vloei voort vanuit ‘n hoër vlak. Daar is een, oneindige onveranderlike goddelike hoof, en hieruit vloei sekondêre goddelike magte voort wat verantwoordelik is vir openbarings aan profete en die aanhoor van menslike gebede. Die werke van hierdie piëtiste is hoogs esoteries en spekulatief van aard, en nie vir praktiese doeleiendes nie.

 

Die boek Bahir [boek van helderheid]

Daar word aanvaar dat hierdie boek die vroegste werk van outentieke kabbalisme is. ‘Bahir’ in Hebreeus kan twee betekenisse hê wat heeltemal teenstrydig is: enersyds het dit betrekking op donker, maar ook op helder. Die heel eerste teks wat in die Bahir bespreek word, is Job 37:21 waar die woord bahir voorkom. [Dit is tog interessant dat die Ou Vertaling van hierdie teks vir helder gekies het, en die Nuwe Vertaling vir donker! Hoe ook al Sefer Bahir word oor die algemeen met ‘Boek van Helderheid of Verligting’ vertaal.]

   Bahir is ‘n kort verhandeling wat uit 60 paragrawe bestaan en amper soos ‘n midrash lyk. Die meeste paragrawe het die tipiese aanhef: dit begin met die naam van ‘n wysheidsleraar gevolg deur wat hy sou gesê het. Die stellings het betrekking op verse uit die Skrif, maar maak ook gebruik van gedeeltes uit die Talmoed, midrash, hekalot – en merkavah literatuur. Die mistiese betekenis van Skrifgedeeltes, van Hebreeuse letters en leestekens word bespreek, en een van die belangrikste bronne is die Sefer Yezira. In Bahir egter, word die tien sefirot goddelike attribute en kragte wat van God voortvloei.

   Die wêreld is nie ‘n produk van die Skepping – soos in Genesis – nie, maar net soos God was dit eintlik maar altyd daar, die verskyning van iets wat bloot latent was. Die eerste sefirah wat uit God voortvloei, is Keter Elyon, die kroon van perfekte goddelikheid. Hieruit vloei ‘n reeks sefirah, een na die ander voort. Vanuit Keter, vloei Hokmah (wysheid) en Binah (intellek), en hierdie drie sefirot is die primêre beginsels. Nou volg die ander sefirot, die een na die ander in perfekte harmonie en balans, en alhoewel alles abstrakte begrippe is, weerspieël dit tog iets van God se volmaakte skepping. Balans en harmonie is uiters belangrik: wysheid en intellek; genade en strengheid; goed en kwaad; manlik en vroulik. Al die sefirot is ten nouste met mekaar verbind deur die letters van die Hebreeuse alfabet, tesame is hulle die energie van God waarin sy wese manifesteer.

   Bahir is die eerste Joodse verhandeling wat op ‘n positiewe manier die konsep van sielsverhuising, en die reïnkarnasie of hergeboorte van dieselfde siel beskryf. Verder kom daar drie konsepte voor wat nie in vroeëre Joodse bronne gevind word nie:

  1. die goddelike wêreld bestaan uit 10 goddelike uitsprake;
  2. ‘n gender dualisme, ‘n vroulikheid word geïdentifiseer;
  3. die beeld van die goddelike wêreld as ‘n boom – ilan.  

Die vroulike krag in die goddelike wêreld – Shekinah – en die Boom van die Lewe is belangrike begrippe in kabbala-literatuur, maar hieroor, asook ‘n bespreking van ein sof  en die Zohar in ‘n volgende aflewering.

 

Bronne

  • Bodoff, Lippman 2003. Jewish Mysticism: Medieval Roots, Contemporary Dangers and Prospective Challenges in The Edah Journal 3.1.
  • Dan, Joseph 2006. Kabbalah. A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press.
  • Dedopulos, T 2005. Kabbalah. An illustrated introduction to the esoteric heart of Jewish mysticism. New York: Gramercy Books.
  • Idel, Moshe 1988. Kabbalah: New Perspectives. New Haven: Yale University Press.
Share this / Deel hierdie: