Inleiding

Die idee dat kabbala ‘n uitgewerkte leer is wat ‘n mens kan bestudeer om iets daarvan te verstaan, is ‘n illusie. ‘It is like describing the structures of a sonnet without discussing the different contents of each poem’, skryf Joseph Dan (2006:42). En dit is waar. My uiters kursiewe bespreking van kabbala doen presies dit: slegs die buitelyne van hoogs komplekse denke en redenasies word getrek, of moet ek liewers sê – word deur gebroke stippellyne aangedui!

   In hierdie bydrae staan ek ‘n oomblik stil by die hart van hoogbloei kabbala: Zohar, ein sof, weereens die sefirot en shekinah.

 

Zohar

Teen die draai van die dertiende eeu was daar verskillende groepe kabbaliste in Provence en Spanje, en aan die begin van die veertiende eeu, ook in Italië, Duitsland en Oos-Europa. Gedurende hierdie tyd verskyn ‘n belangrike figuur in Noord-Spanje op die toneel: Rabbi Moses de Leon. Van sy herkoms en opvoeding is min bekend. Klaarblyklik was hy ‘n swerwersfiguur wat terselfdertyd ook goed vertroud was met die werke van die Joodse filosowe en kabbaliste van sy tyd. Blykbaar het hy selfs ‘n kopie van die filosoof Maimonides se ‘Gids vir die Verwarde’ in sy besit gehad. Hy het hom egter eerder aangetrokke gevoel tot die mistiese neigings van Nachmanides en het as kabbalis sy beroemdheid verwerf.

   Die Zohar (glans/heerlikheid), is een van die belangrikste leerstukke van kabbala, selfs vandag nog. Volgens oorlewering is dit ‘n baie antieke dokument wat dateer uit die tweede eeu. Dit is geskryf deur een van Rabbi Akiba se tydgenote, ‘n bekende merkavah-geleerde met die naam Simeon ben Yohai terwyl hy vir twaalf jaar lank in ‘n grot vir die Romeine weggekruip het. Sy enigste geselskap was sy jong seun. Nachmanides het hierdie antieke dokument in 1265 ontdek en dit met sy seun na Katalonia teruggestuur. ‘n Wonderbaarlike warrelwind het vanuit die hemel gekom, die manuskrip opgeraap en dit in die hande van die wagtende Moses De Leon se hande laat beland. Sy dure plig was nou om dit wat hy gehad het, te kopieer en te versprei. So het hy stukkies en brokkies verkoop aan enigeen wat in esoteriese tradisies belang gestel het.

   Maar Nachmanides het sy eie leerlinge gehad. Een van hulle, Rabbi Isak van Akra was gelukkig genoeg om die Jodeslagting in Akra (Palestina) vry te spring. Vir die heel eerste keer hoor hy van die Zohar wat eintlik veronderstel is om sy eie leermeester se ontdekking te wees. Hy maak kontak met De Leon, en dié herhaal sy storie vertroulik. Hy rig selfs ‘n uitnodiging aan Isak om die oorspronklike manuskrip te kom sien. Maar voordat dit kan gebeur, word De Leon, toe al 65 jaar oud siek, en sterf.

   Die verkope van die stukkies Zohar het De Leon egter nie ryk gemaak nie, want toe hy sterf, laat hy sy wedeuwee en dogter brandarm agter. Skynbaar het iemand (dis onseker of dit Rabbi Isak of iemand anders is) vir hulle ‘n groot som geld aangebied om die oorspronklike manuskrip te koop, en toe kom die storie op die lappe: De Leon was ‘n kreatiewe denker en die Zohar is die vrug van sy eie pen! En dit is die huidige stand van sake: hedendaagse geleerdes, met enkele uitsonderinge, is daarvan oortuig dat die Zohar deur Rabbi Moses ben Leon geskryf is.

 

Inhoud

Dis onmoontlik om die inhoud van die Zohar in enkele paragrawe op te som. Vervolgens ‘n paar hooftrekke.

   Alles wat tot dusver oor kabbala en kabbala-tradisies gesê is, kom daarin voor. Behalwe biografiese besonderhede en verhale van antieke wysheidsleraars, is daar ook verwysings na die skeppings- en merkavah-literatuur. Zohar dra ‘n deeglike kennis van Bahir en die sefirot, verfyn hierdie konsepte en brei daarop uit.

Ein sof en die sefirot

Die struktuur van die goddelike sfeer begin by ein sof. Dit is eintlik ‘n negatiewe term en beteken ‘sonder einde’. Wat die goddelike betref, het dit betrekking op iets oneindig, ewig, perfek, verhewe, absoluut en onveranderlik. Ein sof is die eerste en fundamentele bron is waaruit die suiwerste goddelike lig vloei. Hierdie krag is die waarborg van alle lewe in die goddelike sowel as die aardse sfere – die bestaan sowel as die onderhoud daarvan. Hierdie begrip van ein sof is vreemd aan antieke Joodse denke, en ‘n sekere kabbalistiese denkstroom handhaaf dan ook dat ein sof ‘n term is wat nie in die Skrifte gevind kan word nie. Die volmaakte en onveranderlike aard daarvan is buite taal, en daarom eintlik onbeskryflik.

   Vanuit ein sof vloei die onderskeie sefirot voort. ‘n Mens kan jou dit voorstel as ‘n reusagtige antropomorfiese figuur. Volgens die Zohar is alles ‘n weerspieëling van alles: die struktuur van die kosmos word weerspieël in die struktuur van die menslike liggaam en nog kleiner, die menslike siel. Die boonste drie sefirot is die goddelike hoof; daaruit vloei die twee arms; die sesde is die menslike liggaam – of hart; die volgende twee sefirot is die twee bene; die negende die fallus, die manlike; en die tiende is ‘n afsonderlike liggaam, die vroulike goddelike krag.

   Onder andere word die Bybelse name vir God, asook die onuitspreeklike tetragram JHWH in die sisteem van die sefirot geïntegreer. Byvoorbeeld, die eerste klein amper onsigbare jod word in die eerste sefira verteenwoordig, he is volgende, en waw wat ook die syfer 6 verteenwoordig, is die sentrale punt. Die laaste he verteenwoordig die vroulike goddelike krag, die shekinah.

 

Shekinah

Shekinah is die vroulike goddelike krag in die wêreld. Alhoewel dit ‘n sentrale begrip vir kabbala en in die Zohar is, is dit ook ‘n woord wat nie in die Hebreeuse Bybel voorkom nie. En net soos kabbala, is dit afgelei van ‘n gewone alledaagse woord, naamlik die Hebreeuse werkwoord shkn wat eenvoudig beteken om te bly of te woon. In die woestyntyd het God in die tabernakel ‘gewoon’, en later toe die tempel gebou is, het Hy daar in Jerusalem ‘gewoon’. Die Talmoed het die begrip shekinah van hierdie werkwoord afgelei om spesifiek die tempel in Jerusalem as God se woning aan te dui. Latere Rabbynse literatuur gebruik shekinah as een van die vele abstrakte titels om na God te verwys sonder om sy Naam te gebruik, soos byvoorbeeld ‘Die Heilige geseënd is Hy’ ensovoorts. En, alhoewel die grammatikale geslag van shekinah vroulik is, gee antieke literatuur geen aanduiding dat hierdie aanspreekvorm vir God van die ander verskil nie.

   Met die aanvang van die Middeleeue word ‘n nuwe betekenis aan shekinah toegedig. In die jaar 930 was Rav Saadia Gaon die leier van die Jode in Babilonië. Hy was ‘n rasionalis, en verwysinge na ‘n fisieke, terselfdertyd oneindige perfekte God was vir hom heeltemal onaanvaarbaar. Ten alle koste wou hy antropomorfiese verwysings na God in die Bybel oorkom. Sodanige beskrywings het volgens hom betrekking nie op God nie, maar op ‘n geskape engel – weliswaar verhewe en wonderbaarlik – maar nietemin geskape. Die Hebreeuse Bybel noem dit kavod (eer, heerlikheid), en die rabbi’s noem dit shekinah. Volgens Saadia is shekinah ‘n laer mag, apart van God, iets wat fisiese eienskappe kan aaneem en wat deur mense ook waargeneem kan word. Die belangrikste funksie van shekinah is dat dit God se mag aan die profete openbaar. Aldus Saadia Gaon.

   ‘n Verdere verwikkeling vind plaas in die elfde en twaalfde eeue. Saadia se sieninge word bevraagteken. Hoe kan dit wees dat die antieke profete nie God beskryf het nie, maar slegs ‘n geskape engel? Dit kan tog nie! In die middel van die twaalfde eeu beskryf Rabbi Abraham Ibn Ezra die kavod-shekinah as ‘n mag wat van God self voortvloei, maar ‘n mag wat wel waargeneem en in antropomorfiese terme beskryf kan word. Dus, geen engel nie, maar ‘n mag wat van God self af kom. Esoterici en piëtiste van Duitsland in die laat twaalfde eeu het hierdie idee beaam: shekinah is ‘n goddelike mag wat homself aan die profete openbaar. Op hierdie stadium is dit nog ‘n manlike mag: daar is geen duidelike aanduidings dat shekinah meer as ‘n grammatikale geslag is nie.  

   Eers die boek Bahir verwys na shekinah as ‘n aparte vroulike goddelike mag. Ibn Ezra se voorstelling van kavod-shekinah bly behoue, maar word aangebied as ‘vrou, bruid of dogter’ van die manlike goddelike mag. Vir die latere kabbaliste, en ook die Zohar, is shekinah as vroulik, en ‘n sentrale element in die beskrywing van die goddelike wêreld. Sy is soos die maan. Sy is afhanklik van die primêre goddelike lig wat sy weerkaats. As die tiende en laagste sefirah in die goddelike sfeer, is sy die naaste aan die materiële wêreld, die naaste aan die mensdom, die naaste aan die lyding van die volk Israel. Terselfdertyd word sy ook die meeste blootgestel aan bose magte wat dreig om haar te oorweldig, en weg te ruk van haar eggenoot, die manlike goddelike figuur. Dan is die harmonie van die goddelike wêreld en die totaliteit van die ander nege sefirot heeltemal versteur. Baie kabbalistiese rituele en goddelike ervaringe word dus op shekinah gerig met die doel om haar van haar ‘ballingskap’ te bevry en haar weer met haar eggenoot te herenig.    

 

En wat van die bose?

Antieke Joodse denke en die Rabbynse tradisie soos wat die talmoed-midrasj-literatuur dit weergee, ken nie die dualistiese stryd tussen goed en kwaad nie. Die ‘bose’ is nie ‘n afsonderlike of vyandelike mag wat oorlog voer teen God nie. Satan is ‘n mag binne die goddelike hof en val binne God se sisteem van geregtigheid. Die Dooie See-rolle en vroeg-Christelike literatuur wat ‘n apokaliptiese stryd tussen goed en kwaad beskryf, was op daardie stadium onbekend. In ‘n midrash van die agste eeu, beskryf Rabbi Eliezer wel ‘n sataniese rebellie teen God, maar dit sou eers in die twaalfde eeu as ‘n laaste hoofstuk in die boek Bahir opgeneem word.                                            

   Eers in ongeveer 1265 verskyn ‘n verhandeling van Rabbi Isak ben Jakob ha-Cohen wat hy noem, ‘Uitstralings vanaf die Linkerkant’. Hierin beskryf hy ‘n sisteem van sewe goddelike maar bose magte. Die eerste noem hy Samaeldie Hebreeuse woord vir ‘links’ is smol – en die sewende, ‘n vroulike staan bekend as Lilith. Hierdie twee karakters is bekend in vroeëre Joodse geskrifte, maar Rabbi Isak is die eerste om hulle as ‘n paar teenoor God en die shekinah voor te stel. Samael en Lilith is dus deel van ‘n hiërargiese struktuur van bose demone wat voortdurend ‘n stryd voer om die goeie magte van die heelal te oorweldig. Siekte en pes is ook van die negatiewe magte wat uit hierdie struktuur voortvloei. Lyding en kwaad word dus nie herlei na die gebeure in Genesis 3 nie, maar vloei voort uit hierdie sisteem van negatiewe magte. Uiteindelik sal alles tot ‘n einde kom in ‘n finale apokaliptiese stryd tussen Samael en die messias, en die messias sal triomfeer.

   Alhoewel baie van Rabbi Isak se tydgenote sy dualistiese wêrelduitkyk en messiaanse verwagting ignoreer het, het Rabbi Moses de Leon hom wel ernstig opgeneem en sy denke in die Zohar uitgebrei.

 

Slot

Omdat kabbala met mistiek, magie, astrologie, numerologie en esoteriese ervaringe geassosieer word, spreek dit mense aan, veral diegene met ‘n diep spirituele behoefte. Vandag bestaan wyduiteenlopende kabbala-bewegings, nie net in Joodse kringe nie. Mense vanuit alle geloofsoortuiginge – selfs nie-gelowiges – wend hulle tot kabbala. Daar bestaan nog steeds ortodokse kabbala-skole, maar daar is ander wat nie van New Age-denke onderskei kan word nie. Kabbala wat meer as 800 jaar gelede in Europa van die Middeleeue verskyn het, het dus nie van die toneel af verdwyn nie, maar is steeds op dinamiese wyse in die post-moderne wêreld teenwoordig om vir mense ‘n spirituele heenkome te bied wat hulle miskien nie elders kry nie.                

 

Bronne

  • Bodoff, Lippman 2003. Jewish Mysticism: Medieval Roots, Contemporary Dangers and Prospective Challenges in The Edah Journal 3.1.
  • Dan, Joseph 2006. Kabbalah. A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press.
  • Dedopulos, T 2005. Kabbalah. An illustrated introduction to the esoteric heart of Jewish mysticism. New York: Gramercy Books.
  • Idel, Moshe 1988. Kabbalah: New Perspectives. New Haven: Yale University Press.
Share this / Deel hierdie: