Volgens Karl Jaspers moet alle denke, alle filosofie by jou eie ervaringe begin. ‘Eerstepersoonservaringe’ het hy dit genoem. Dit is hierdie ervaringe wat jou oor die lewe laat dink en jou die sin van die alledaagse laat ontdek (Jaspers 1956:5-111; 1980:7-29). Sulke persoonlike ervaringe was ook die beginpunt van onderstaande. Veral twee gebeurtenisse die afgelope week of wat het my intens oor Kersfees 2008 laat nadink. Een was ’n baie moderne opera (Dr Atomic) en die ander ’n Bachwerk (die Weihnachtsoratorium).

Albei lê in jare en in tema geweldig ver uitmekaar. Die een vertel van die atoombom en die ander van kersfees. En tog word albei deur ’n gevoel van kleinheid saamgebind. Kleinheid voor die groot wêreldgebeure asook die menslike onvermoë om uiteindelik finaal te sê wat kersfees is (elke poging is tydsgebonde).

 

Eers iets oor die opera

Die afgelope jaar het Metropolitan Operahuis ’n paar operas direk aan miljoene mense in filmteaters en oor die televisie uitgesaai. Teaters in Johannesburg en Pretoria het sedert Junie opnames hiervan in kunsteaters vertoon en elke opera was ’n heerlike ervaring. Daar was telkens kundige kommentaar, agter-die-skerms-onderhoude en ’n gevoel dat jy deel van die gebeure was.

Die afgelope ruk was dit toe Dr Atomic se beurt. Dit is baie modern. Eintlik maar net drie, vier jaar oud. Die komponis is skaars sestig en het bekend geword vir sy opera Nixon in China en sy koorwerk, On the Transmigration of Souls (2002 ) wat elf September gedenk en wat in 2003 met die Pullitzerprys vir Musiek bekroon is. Dr Atomic is sy jongste en die musiek is vreemd, die woorde ongewoon en dit bevat selfs grepe uit die fisika en natuurwetenskap. Dit is juis hierdie andersheid wat ’n mens boei en wat jou dwing om verder te dink.

Dr Atomic speel af in Julie 1945 tydens die laaste stuiptrekke van die Tweede Wêreldoorlog. Duitsland het reeds oorgegee, maar Japan veg verwoed voort en derduisende sou nog sterf. Êrens by El Alamos in die woestyn werk briljante jong Amerikaanse wetenskaplikes dag en nag om die oorlog te stuit deur die atoombom te maak. Die leier-wetenskaplike is die briljante Dr J. Robert Oppenheimer wat elke medewerker met die hand uitgesoek het. Na jare se werk het die toetsdag al hoe nader gekom. Dae voor die toetsbom moes ontplof het allerlei morele vrae Oppenheimer en sy groep begin kwel. Sêmaar alles loop verkeerd en die aarde se atmosfeer ontvlam? Moes die Japannese vooraf oor die bom ingelig word? Kon die ontploffing groot dele van die mensdom uitwis?

En toe kom daardie dag in Julie 1945. Die ure voor die toetsing was ondraaglik en sommige het selfs gesê die projek moes vir eers gestaak word. Oppenheimer het deurgedruk, die toetsbom het ontplof en alles het volgens plan verloop. In daardie ure het almal geweet die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Volke kon mekaar binne sekondes uitwis en ook die aarde vernietig. ’n Swaar morele wolk het Oppenheimer en sy wetenskaplikes omvou.

Tot sy dood sou Oppenheimer met hierdie morele druk worstel. Aan die einde van sy lewe het hy in televisie-onderhoud dié Juliedag gedenk en aangrypend gesê: ‘We knew the world would not be the same. A few people laughed, a few people cried, most people were silent. I remembered the line from the Hindu scripture, the Bhagavad-Gita. Vishnu is trying to persuade the Prince that he should do his duty and to impress him takes on his multi-armed form and says, “Now, I am become Death, the destroyer of worlds.” I suppose we all thought that one way or another’ (http://www.atomicarchive.com/Movies/Movie8.shtml).

En Dr Atomic verwoord hierdie vrees en ondraaglike angs net voor toetsdag. Dit is egter Oppenheimer se hartklop wat ’n mens in dié opera voel. Geen brawe onverskrokke man nie, maar iemand vol twyfel en van alle pretensie en trots gestroop. Aangrypend klink sy gebed aan die einde van die eerste bedryf: ‘Batter my heart, three person’d God; for, you/ As yet but knocke, breathe, shine, and seeke to mend;/ That I may rise, and stand, o’erthrow mee, and bend / Your force, to breake, blowe, burn and make me new … Take mee to you, imprison mee, for I / Except you’enthrall mee, never shall be free, / Nor ever chast, except you ravish mee’. Dié woorde kom uit John Donne se Holy Sonnet XIV van 1633 of later en is maar een van talle gedigte wat in die opera gesing word. Oppenheimer het in sy donker oomblikke graag gedigte gelees en dit is waarom Dr Atomic in ’n sekere sin ook poësie of ’n film-in-digvorm is.  

 

Sê die atoom iets?

Dr Atomic is aangrypend, maar nie noodwendig mooi nie. Geen mooi meesleurende melodieë wat in jou kop bly maal nie, maar tonele vol mense wat oor toetsdag praat asook momente vol angs en vrees. Dae nadat ’n mens dit gesien het bly dit jou nog by. ’n Mens probeer dit vergeet want dit is kersfees, maar jy kan nie. Die tonele, die poësie, die ongelooflike sang (soos bv Gerald Finley wat J. Robert Oppenheimer vertolk), die vreemde musiek, maar veral die slottoneel wil jou maar net nie los nie. In die slottoneel is almal saam op die verhoog; die musiek rek die spanning ondraaglik lank uit; die vrees lê op elkeen se gesig. En dan skielik is daar ’n ligflits. Alles was ’n groot sukses. Die opera is klaar, maar die wêreld het verander.

Dit is Kersfees 2008 en Dr Atomic herinner aan die verskriklike wat mense nou nog aan mekaar doen. Dit herinner aan ongebreidelde mag, verfynde wapentuig, massamoord en eindelose stryd. Dr Atomic beklemtoon die onafheid van menswees, die vasgevangenheid van mense in ’n spesifieke tyd en die magteloosheid om dit te oorkom. Dr Atomic vertel van die mens wat deur sy eie toedoen oor die afgrond hang en hom-/haarself in ’n oogwink kan vernietig. Dr Atomic fokus op die mens se ontsaglike kleinheid, nietigheid en weerloosheid voor groot gebeure en die aanslae van die lewe. 

Dit is Kersfees 2008 en geweld, moord en ander verskriklike dinge is nog steeds by ons. Dit sal ook nooit weggaan nie. Altyd sal ons saam Oppenheimer moet sing:  ‘Batter my heart, three person’d God … Take mee to you, imprison mee, for I / Except you’enthrall mee, never shall be free, / Nor ever chast, except you ravish mee’.

Johann Sebastian Bach het dit weer op sý manier en vir sý tyd probeer verwoord.

 

’n Man uit ’n ander tyd en wêreld

Johann Sebastian Bach was anders. Totaal anders. Hy het alles binnekant toe geneem en vir die probleme van sy eeu weinig oog gehad nie. Dit kon ook nie anders nie want hy is radikaal deur die Piëtisme, die godsdiens van sy tyd gevorm. Die Piëtisme was enersyds ’n teruggryp na die lewende geloof van die Reformasie en andersyds ’n verset teen die Ortodoksie (met die klem op die ‘pura doctrina’, die suiwere leer en die verbale inspirasie). Tien jaar voor Bach se geboorte het Philip Jakob Spener (1635-1705), die vader van die Duitse Piëtisme, ’n boek geskryf wat beroemd geword en tot vandag toe bekend is. Spener se Pia desideria verwoord sy hartsverlange dat die kerk sal verander en dat die dorre prediking sal verdwyn.

Spener wou die ware Christendom anders formuleer. Dit moes nie net uit kennis bestaan nie, maar veral ook uit ‘praxis’, praktyk. En om dit te kon bewerkstellig, moes die Reformatoriese ‘priesterskap van die gelowiges’ ernstig geneem word, moes die Christelike boodskap ten diepste ervaar word, moes die prediking verinnerlik word, moes elkeen die Bybel intensief bestudeer, moes gelowiges konventikels (groepe) vorm, moes hulle saam bid en die Bybel lees, moes ’n lewende, persoonlike vroomheid as vrug van die wedergeboorte sigbaar gemaak word en moes dogmatiese polemiek (so tipies van die Ortodoksie) tot die minimum beperk word.

Dit was die wêreld waarin Bach in 1685 gebore is. Lewenslank was hy aan Lutherse gemeentes as orrelis, komponis en ‘musiekdirekteur’ verbonde en die Piëtisme het deel van sy geestelike lewensasem geword. Hy het dit in lange teue ingeadem en dit het sy lewenswerk geslyp. Elke Sondag moes hy vir die musiek in die kerk sorg en dit het groot druk op hom geplaas. Hy het tekste nodig gehad en het ruim van die Piëtiste se gedigte en liedere gebruik gemaak. Georg Christian Schemelli se Musicalisches Gesangbuch is goeie voorbeeld hiervan. Dit het uit nege honderd vier en vyftig liedere bestaan wat in die gees van die Piëtisme gedrenk was, maar wat deur Bach (omdat hy dit nodig gehad het) nuut oorgewerk of herbewerk is.

Bach het ook angs geken. ’n Angs nie vir bomme of geweld nie, maar vir sonde. ’n Angs wat deur die Piëtisme aangewakker en as ‘t ware lewend gehou is. En soos die Piëtiste het hy ook veel van trane gemaak; die amper reddende krag van ’n gebroke sondaar se trane. In ’n vroeë kantate (BVW 12) beklemtoon Bach ook hierdie gesindheid: Weinen, Klagen, Sorgen, Zagen.

 

’n Trooswerk vir die atoomeeu: die Weihnachtsoratorium

In die Weihnachtsoratorium van 1734/5 klink die Piëtisme onteenseglik deur. Dít kan nie ontken word nie. So sing Maria van haar liefste Bruidegom ( … mein liebster Bräutigam) wat gebore gaan word en mense sal troos. Sion moes hom daarop voorberei om den Schönsten (‘die mooiste’) en den Liebsten (‘die liefste’) gou te sien en met oorgawe lief te hê. In ’n koraal word dié gedagte met ’n vraag verder gevoer: Wie soll ich dich empfangen / Und wie begegn’ ich dir? (‘Hoe sal ek U ontvang en hoe U ontmoet?’).

Vervolgens sing die tenoor Lukas 2:7 voor. Maria se eersteling is in ’n stal gebore omdat daar geen plek in die herberg was nie. Dít bied Bach as ‘t ware die geleentheid om met twee korale te antwoord. Die tweede sluit die eerste kantate van die oratorium af met ’n aangrypende stukkie Bachteologie: Ach mein herzliebes Jesulein,/ Mach dir ein rein sanft Bettelein,/ Zu ruhn in meines Herzens Schrein,/ Daβ ich nimmer vergesse dein!’. Vry vertaal: ‘Liewe Jesussie, maak vir U ’n sagte bedjie in my hart sodat ek U nooit vergeet nie’.

Dit is so dat hierdie woorde soms swaar op die gereformeerde oor val, maar die musiek maak alles anders. Dit is asof die musiek die woorde anders laat klink; nuwe betekenis daaraan gee; die hinderlike beskrywings van Christus versag; die gelowige anders na kersfees laat kyk; sy/haar geloof as ‘t ware esteties versterk.

Pragtig hoor ’n mens dit veral in die Weihnachtsoratorium se begin. Dit is so oorweldigend. Helder trompetgeskal, tromme en ’n koor verklank die gees van kersfees: Jauchzet, frohlocket! auf, preiset die Tage. Uitdruklik word gesê: wees bly, juig, verban alle klagtes, dien God en verheerlik sy naam. Dít is die ware kersgees. Dít is ’n vreugde wat soveel sin en betekenis aan kersfees gee; ’n blydskap wat jou troos en nuwe moed gee.  

 

’n Geseënde kersfees

Johann Sebastian Bach kon ook nie anders nie. Soos elke mens was ook hý aan sy tyd uitgelewer. Die Piëtisme was die dampkring waarbinne hy moes leef en werk. Die Piëtisme sou hom die woorde en teologie gee, maar hy sou dit op sy eie manier musikaal verwerk het. En die Weihnachtsoratorium is ’n voorbeeld hiervan. Dit is die musiek wat alles bymekaarbring; wat die teologiese skerpkante afvyl; wat mense tot vandag toe saambind; wat gelowiges nou nog gelukkig en opgewonde maak.

Maar die wêreld van Dr Atomic is nog dieselfde. Oorlog, geweld, wapens is nou nog deel van ons. Dit sal ook nooit verdwyn nie. Bach en die Weihnachtsoratorium kan dit ook nooit laat verdwyn nie, maar dit kan hierdie lewe egter vir oomblik ligter, makliker, draagliker maak.

 

Mag u almal ’n diepe kersvreugde ervaar.

 

Bakhuizen Van den Brink, J N 1968. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

Jaspers, K 1956. Philosophie, Vol I. Berlin:Springer-Verlag.

Jaspers, K 1980. Was ist philosophie. München: Taschenbuch.

Pelikan, J 1986. Bach among the theologians. Philadelphia: Fortress Press.

http://www.atomicarchive.com/Movies/Movie8.shtml

Share this / Deel hierdie: