1.         Inleiding

Hoe kry ‘n mens ‘n beeld van Jesus? Ons het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie, en ook nie met ons eie oë gesien nie. Daar is wel ‘n aantal portrette van hom. Daarvan is die vier evangelies en die ander geskrifte van die Nuwe Testament die belangrikste. Maar diegene wat hierdie tekste geskryf het, was self ook geen ooggetuies van Jesus nie, want Hy het van ca 6 v.C. tot ca 30 n.C. geleef, terwyl die evangelies ‘n lang tyd na sy dood eers geskryf is, naamlik tussen 70 en 90 n.C.

 

Vanuit historiese oogpunt het ons nouliks gegewens oor Jesus uit ander bronne as die Nuwe Testament. Om dus ‘n beeld van Jesus te kry, moet ons veral die vier evangelies lees, want hierin word ‘n aantal portrette van Jesus geskets. Die evangeliste kan vergelyk word met verskillende portretskilders wat dieselfde persoon geskilder het. Ons het dus 4 portrette van Jesus, wat gemaak is deur mense wat hom nie self gesien en geken het nie. Die evangeliste het hulle tekste geskryf lank nadat Jesus reeds gesterf het. In sy portret gee elke individuele evangelis ‘n eie visie van Jesus, bring eie aksente aan om so duidelik te maak wie Jesus was en wat Hy vir hom (hulle) beteken het.

 

Selfs die woord “Jesus” is in die eerste plek ‘n woord te midde van ander woorde. In die evangelies staan dit telkens in ‘n bepaalde sins-verband. Hy is daar ‘n mens van papier, wat in die loop van die verhaal ‘n duidelike gesig kry. Hier is ons afhankelik van wat die verteller ons laat sien. Jesus kry allure deur middel van dit wat die verteller(s) hom laat sê en doen, deur middel van sy interaksie met ander personasies, en deur middel van die wyse waarop sy medestanders en sy teenstanders op Hom reageer. In die evangelies gee die vertellers Jesus die geleentheid om Homself te profileer. Hulle plaas Hom in die hoofrol, in byna elke scène is Hy op die toneel aanwesig, en in ‘n groot mate bepaal Hy die verloop van die vertelde geskiedenis. Al die ander personasies staan op een of ander manier in ‘n rol wat deur Hom bepaal word.

 

2.         Vier portrette

In die skildering van Jesus speel die omskrywing van Jesus as Seun van God ‘n belangrike rol, maar die invulling en die uitwerking daarvan verskil van evangelie tot evangelie.

 

Die portret van Matteus, wat tussen 80-90 n.C. ontstaan het, begin soos volg: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham. Abraham was die vader van Isak, … Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word” (Matt 1:1-2; 16). Matteus plaas Jesus dus binne die Joodse afstammingslyn van Abraham en Dawid. Jesus word voorgestel as iemand wat in ‘n konkrete tyd op ‘n konkrete plek gewoon het – soos alle mense dit wel doen. Hy word gebore uit ouers, leef in Palestina van die eerste eeu van die nuwe jaartelling, binne ‘n bepaalde godsdiens, naamlik die Joodse. Tegelykertyd wil Matteus beklemtoon dat Jesus nie maar sommer net ‘n mens was nie, maar wel die “Seun van God”. Hy laat sien hoe spesiaal Jesus se geboorte was: hy is gebore uit die maagd Maria, wat swanger geword het deur die bemiddeling van die Heilige Gees.

 

En wat beteken dit om “Seun van God” te wees? Matteus probeer dit alreeds aan die begin van sy evangelie saamvat deur na die volgende woorde uit die boek Jesaja te verwys: “en hulle sal Hom Immanuel noem, wat beteken God met ons” (Matt 1:23). Jesus het dus sy wortels in God, maar leef as mens. Dit blyk egter ook ‘n lastige punt vir die evangelis om kontinu aan reg te laat geskied. Aan die begin van die evangelie beskryf hy dat Maria deur die Heilige Gees swanger geword het, en dat Josef nie die vader van Jesus is nie. Maar is dit dan nie sinneloos om die evangelie te begin met ‘n lang geslagsregister wat Jesus via Josef aan Dawid verbind nie? Josef het dan juis niks hiermee te make nie?

 

Markus begin sy portret op ‘n heel ander manier: “die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin so” (Mark 1:1). Hy begin dus deur Jesus die Christus te noem, en ook onmiddellik die “Seun van God”. Ook in die daaropvolgende verhaal van die doop by die Jordaan beskryf hy hoedat ‘n stem uit die hemel kom en sê: “jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek My” (Mark 1:11). Markus beskryf dus nie slegs met sy eie woorde Jesus as die Seun van God nie, maar verwys tegelykertyd ook na die stem uit die hemel (God), wat Jesus “my Seun” noem. Die leser kry dus vanaf die allereerste vers te hoor wie Jesus is. Tog moet hulle eers deur die hele boek lees om eers te besef wat met die “Seun van God” bedoel kan word. Eers na sy dood kan hierdie aanduiding openlik gebruik word, sonder dat daar enige misverstande kan ontstaan. Markus wil dit op sy leser se hart druk dat dit juis in Jesus se lyding en dood tot uiting kom in hoe ‘n groot mate sy lewe deur God onderskryf word.

 

Die evangelie van Lukas begin weer op ‘n heel ander manier: “Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om ‘n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is” (Luk 1:1-4). Lukas vertel dus hier dat hy self Jesus nooit gesien het nie, maar dat hy van ooggetuies van Jesus gehoor het. Daarom wou hy self gaan ondersoek instel of dit inderdaad waar is en dan self ook ‘n verhaal hieroor skryf. Hy begin sy verhaal by die ouers van Johannes die Doper, asook die geboort van Johannes die Doper. Hy vervolg dan sy verhaal met die aankondiging van die geboorte van Jesus: “die engel sê toe vir haar: ‘moenie bang wees nie Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee ’ … Maar Maria sê vir die engel: ‘Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?’ Die engel antwoord haar: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God’” (Luk 1:30-31; 34-35). Lukas laat dus ook hier vanaf die begin die menselike en die goddelike in Jesus saamkom.

 

By die vierde evangelis, Johannes, tref ons weer ‘n ander beeld van Jesus aan. Hy begins soos volg: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh 1:1-4). Die evangelie van Johannes lyk in vergelyking met die ander drie evangelies, wat figuratiewe beelde van Jesus aan ons bied, veel eerder soos abstrakte kuns. Hy gaan ook wat die goddelikheid van Jesus aanbetref ‘n stap verder: reeds voor sy geboorte op aarde as mens, bestaan Hy al as die Logos, die Woord. Hy het as’t ware uit die hemel neergedaal, het tydelik op die aarde gewoon, en keer dan weer daarheen terug.

 

3.         Slot

Uit ‘n sinkroniese lees van die evangelies kry ons ‘n verskeidenheid portrette van Jesus, wat soms sterk van mekaar verskil. Elke tekstuele eenheid, hoe klein ookal, plaas ‘n eie aksent op die wyse waarop Hy uitgebeeld word. Matteus en Lukas begin met die geboorte van Jesus. Markus verwys glad nie na sy geboorte nie en begin dadelik met sy doop. Johannes, daarenteen, begin met Jesus se bestaan wat alreeds sy menselike bestaan op aarde voorafgaan, naamlik as die pre-eksistente Logos. Hy laat Johannes die Doper van Jesus getuig: “Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God” (Joh 1:34).

 

Bibliografie

Koschorke, M 2007. Jesus war nie in Bethlehem. Darmstadt: WBG.

Van Wolde, E 1999. Jezus, de zoon van God?, in: W. Weren et al (reds.), Jezus: de zoon van God?, 7-15. Zoetermeer: Meinema.

Weren, W 1999. Vier vensters op Jezus, de zoon van God, in: W. Weren et al (reds.), Jezus: de zoon van God?, 24-38. Zoetermeer: Meinema.

Share this / Deel hierdie: