(Om met ander ‘n ervaring te deel van ‘n pa met Dementia)

 

Om afskeid te neem van iemand met wie ons die lewe op ‘n besondere wyse gedeel het of met wie ons in ‘n spesifieke relasie gelewe het, is doodgewoon swaar. Weliswaar uiteenlopend hartverskeurend swaar. Uiteenlopend hartverskeurend, want die lewenswaar word deur die dood van die ander persoon oor jou gebring daar waar jy is. Daar waar jy is in relasie tot die een waarvan afskeid geneem word. As kind – van ‘n ouer. As ouer – van ‘n kind. Of van ‘n familielid of vriend. Elke keer losskeurend anders. Losskeurend want ons is mos aanmekaar vasgegroei. En boonop gaan die omstandighede waaronder jy die ander een groet nog jou hartskamers se trooskrag beproef. Die elke keer anders, word elke keer met ander woorde van troos vergesel.

 

So dikwels het ek al gehoor dat mense wat kinders aan die dood moes afstaan, sê: Die lewe is nie gerat om van kinders afskeid te neem nie. Dis so. Verinneweerd moet ‘n kind gegroet word, meestal onder die swaarste omstandighede. Hartverskeurend en lewensontwrigtend. Ontnugterend. Maar wanneer ouer mense sterf, dan hoor ons so dikwels, ten spyte van die swaar van afskeid, die versagtende woorde: Maar sy – of hy – het darem ‘n vol, lang en goeie lewe gehad. ‘n Lewenskans. Dis tog anders om so afskeid te neem beweer baie ander mense. En dan dink ek by myself: So asof ons sondermeer getroos kan groet in erkenning van ‘n ander persoon se lewenskans. So asof die erkenning van die lewenskans die herinneringsskeur sondermeer kan oorbrug. Selfs onder die mees onwaardige menslike omstandighede.

 

So iets van al hierdie bogenoemde woorde – so iets van ‘n anderste mengsel van al hierdie afskeidswoorde (die “jonger nie gerat” en die “voller lewenskans”) – is deel van my ervaring en gemoed as jongste kind van vyf wat met my tagtigerjarige pa wat Dementia het, moet saamleef. Nie wil nie, maar moet. Is dit nie al klaar liefdeloos om die “wil” met “moet” te verruil nie? Nee, want die besondere swaar om saam te moet lewe met iemand wat Dementia het, lê juis daarin dat elkeen van ons as kinders en veral ons ma wat al meer as vyftig jaar met my pa getroud is, tegemoetgekom word deur die onbegryplike wat soos ‘n skemer oor jou neerdaal. Geruisloos en amper genadeloos word elkeen van ons daar waar ons is, losgeskeur van ons pa en ons moeder se man. Omdat ek ver weg woon, en ons as gesin van Gauteng slegs een maal per jaar oor Desember tuis is by my ouerhuis in Port Elizabeth, het hierdie losskeur eers onvermydelik geloop deur die dal van ons ma se kommer en onbegrip.Wat is dan tog besig om te gebeur? Geloop deur die dal van haar aanvanklike vrae. Deur die dal van haar ontwrigtende kommer. Waarom is pa dan anders? Waarom tree hy dan nou so anders op? Hoe ver en seer sy moes reis voordat sy eers iets daarvan hoorbaar teenoor ons kon  noem, en die genadige genadeloosheid nadat dit as siekte benoem is, het eers maar nou – soveel later – vir my gedeeltelik sigbaar geword. Hoe lank het ons nie maar ontkennend – ook in onbegrip – saamgereis nie. Het ek en van ons as kinders “wil” en “moet” verward uitmekaargehou. Onvermydelike besluite wat later deurgepraat en gehuil moes word.

 

En nou eers dat die skemer van Demetia baie swaarder toegesak het en dit amper heeltemal nag is, meer as ses jaar later, wroeg in my gemoed die onklaarheid van groet sonder om afskeid te neem. Van om nou saam te wees, sonder om herkenbaar kontak te maak. Van om te praat sonder om gehoor te word. Te probeer begryp dat selfs bybelse trooswoorde dikwels nie klaargepraat is nie. Dat die lewe onder sekere omstandighede sekere woorde nog aanvul. Soos met die woorde van Ps 103. Want selfs al is die lewensduur van die mens (vgl Ps 103:15ff) soos die van gras, soos die veldblom wat oopgaan soos die psalmdigter tereg stel, is dit in die geval van Dementia nie waar dat as die woestynwind daaroor waai, dat die veldblom weg en leeg is nie. Hy is (amper heeltemal?) weg, maar sy plek is nie leeg nie. En daarmee moet ons leer saamlewe. Met ‘n vol leë plek. Saamlewe met die duistere lewensmengsel van nie gerat en lewenskans. Dis ‘n vreemde kruis vir ons as gesinslede om te dra, die van groet van “‘n my pa” sonder om afskeid te neem.

Share this / Deel hierdie: