Kersfees is lig-tyd. Bloot op sekulêre vlak: wat is Kersfees sonder die liggies in die winkels, die liggies in die strate, die liggies aan die kersboom? Op ‘n meer geesverheffende vlak: Kersfees herdenk die koms van Christus na die wêreld, Jesus Christus is die Lig wat in ons donker kom skyn.

          Ons maak groot planne rondom Kersfees. Alles moet feestelik en lekker wees. Almal moet gelukkig wees. Waar gaan ons Kersfees vier, en wie gaan almal kom? Watter kersgeskenk gaan die liggies in iemand se oë laat blink?

Wat is die realiteit?

Die Kersseisoen is meestal ‘n donker tyd. ‘n Tyd van familie-vetes. ‘n Tyd

van groot spanning en onmin. ‘n Tyd waaroor daar veral oor die kos baklei word. Diegene wat Kersdag kom, maak moeilikheid, diegene wat verkies om nie te kom nie, word kwalik geneem.  

          Kersfees raak ‘n nagmerrie.

National Geographic (November 2008 vol 214 No5) skryf ‘n insiggewende artikel: ‘Our Vanishing Night’ (p 102-123). Die aarde ly tans onder lig-besoedeling. In most cities the sky looks as though it has been emptied of stars, leaving behind a vacant haze that mirrors our fear of the dark and resembles the urban glow of dystopian science fiction…We’ve lit up the night as if it were an unoccupied country, when nothing could be further from the truth.

Hierdie artikel spreek in die eerste plek ‘n ekologiese probleem aan. Kunsmatige beligting laat ons dae al hoe langer en ons nagte al hoe korter word. Dit bedreig die voortbestaan van sekere insekte-spesies en vlermuise. Nagtegaals sing op onvanpaste tye. Hulle weet nie meer wanneer die nag eindig en die daeraad breek nie. Seeskilpaaie vind al hoe minder donker strande waar hulle hul eiers kan lê. Ook die mens se biologiese ritme het donkerte nodig – genoeg slaap is essensieel vir optimale funksionering. In a very real sense, light pollution causes us to lose sight of our true place in the universe, to forget the scale of our being, which is best measured against the dimensions of a deep night with the Milky Way – the edge of our galaxy – arching overhead. Om die donker voortdurend te verdryf, het vernietigende gevolge. Dit versteur die balans van die natuur.  

Wat het dit met godsdiens te doene?

Ons het ‘n lig-teologie geskep. Ons ontken die donker kant van geloof. Ons is kinders van die lig, ons lewe in die lig. Ons het mos twyfel, sonde en wanhoop oorwin. Ons het selfs die dood oorwin.  

Maar ons lig-beheptheid skep angs. Ons word bang vir die donker, bang vir wat alles in die donker kan gebeur. Miskien is ons ten diepste bang vir die waarheid wat ons in die donker gaan skrikmaak.

Ons het die afgelope naweek saam met Willem en Joke Nicol op ons plasie naby Vrede in die Vrystaat deurgebring. Dit het ons weer eens opgeval hoe helder die sterre in die donker nag skyn. Ons het oor baie dinge gesels en uiteraard ook oor godsdiens en die geloof. En oor Kersfees. Hoekom is so min mense tydens Kersfees gelukkig? Wat gebeur in hierdie tyd wat eintlik vir mense nuwe hoop moet gee?  

Ek het gewonder of ons dalk besig is om te hard te probeer. Ons probeer so hard om gelukkig te wees. Ons probeer so hard om te hoop. Wat daarvan, het ek gevra, as ons dit waag om die wanhoop hartstogtelik te omhels?

Willem sê vir my wat Karl Rahner op ‘n keer geskryf het: Toe ek in die donker kom en gedink het dat dit die nag van wanhoop is, het ek mettertyd agtergekom dat dit al die tyd die heilige en geseënde nag is – met die lig diep binne-in.

Share this / Deel hierdie: