Sonder die kerk was daar geen kuns nie. Of in elk geval nie soos ons dit vandag ken nie. Dit was die kerk wat skilders en komponiste in diens geneem, hulle betaal en talle opdragte gegee het. Hulle moes die kerk se boodskap vir gewone mense ‘hoorbaar’ en ‘sigbaar’ maak. Dié kuns het die westerse mens so ingrypend gevorm en geslyp dat die diepte daarvan ’n mens nou nog oorrompel. En miskien lê dié oorrompelende in die poging om iets oor God in die mooiste kleure en aangrypendste musiek te sê; om iets van die onsigbare, die misterie op ’n doek vas te lê en tog ook nie alles te sê nie; om iets oor die onuitspreeklike te sing sonder om dit volledig vas te vat.

Johann Sebastian Bach se kerkmusiek en veral die Weihnachtsoratorium (‘Kersoratorium’) is hiervan ’n voorbeeld. Dit is g’n allemansmusiek nie en die piëtisme van sy kantates is vir vele onaanvaarbaar. Ek onthou ’n Desemberdag in 1985 toe ’n paar van ons destydse UNISA-kollegas (onder andere Jimmie Loader, Christina Landman, Pieter de Villiers en ekself) bymekaargekom en Bach se driehonderdjarige geboortedag herdenk het. Elkeen moes iets oor Bach sê en iets voorspeel. Jimmie en ek het elk ’n brief aan die kantor van die Thomaskerk in Leipzig geskryf waarin elkeen sy eie ervaring van Bach verwoord het. Hy oor Bach se musiek sonder woorde en ek oor Bach se musiek met woorde. Twee perspektiewe wat my nog altyd bybly en dalk ook met kerkverband saamhang: vir die Hervormer val die piëtisme moeilik op die oor terwyl iemand uit die N G Kerk meer tolerant is.

Die sewentiende eeuse Piëtisme was ’n verset teen die verstarring en dogmatisme van die ortodoksie en het ’n meer bevindelike geloof beklemtoon. Alhoewel die Piëtisme in verskillende kerke en lande verskillend gelyk het, het Bach dit op ’n grootste manier musikaal verwoord.

In die Weihnachtsoratorium gebeur daar egter iets besonder. Die hoorder word verby die piëtisme gevoer en in ’n grootse wêreld van die musiek gedompel; word estetiese en religieuse ervaring een; is die religieuse die impuls vir die musiek, maar maak die musiek die geloof ’n grootse religieuse ervaring.

Die oratorium bestaan uit ses kantates wat vir die feesdae in Desember 1734 en Januarie 1735 geskryf is: drie vir die kersdae, een vir Nuwejaarsdag, nog een vir die Sondag na Nuwejaar en die laaste vir die fees van Christus se verskyning (op 6 Januarie). Albert Schweitzer het al gesê dat ’n mens nie met een slag na die oratorium moet luister nie want dit is te diep en maak jou moeg. Die eerste deel (of kantate) van die oratorium dra die opskrif, Jauchzet, frohlocket (‘Juig, wees bly’), en bestaan uit nege onderafdelings. ’n Koor begin, dan sing ’n tenoor ’n resitatief, dan volg ’n resitatief en ’n aria deur ’n alt. Hierna volg ’n koraal (deur ’n koor), ’n resitatief van ’n tenoor, ’n koraal (deur ’n sopraan), ’n basaria en ten slotte ’n koraal (deur ’n koor). En wat so aangrypend is, is die tipiese Bachklanke wat soos spatsels oor die hele werk verspreid lê en ’n mens kort-kort oorweldig.

Helder trompetgeskal, tromme en ’n koor verklank reg aan die begin die gees van kersfees: Jauchzet, frohlocket! auf, preiset die Tage. Uitdruklik word gesê: wees bly, juig, verban alle klagtes, dien God en verheerlik sy naam. Dít is die ware kersgees.

Onmiddellik hierna volg ’n resitatief: die tenoor sing Lukas 2:1-6 voor. Almal moes hulle vir ’n volkstelling laat inskryf; ook Josef en Maria, maar Maria was swanger. Tipies van Bach word ‘musikaal’ op dié stukkie Skrif geantwoord. Die alt doen dit. Sy sing van haar liefste Bruidegom ( … mein liebster Bräutigam) wat gebore gaan word en mense sal troos. Sion moes hom daarop voorberei om den Schönsten (‘die mooiste’) en den Liebsten (‘die liefste’) gou te sien en met oorgawe lief te hê. In ’n koraal word dié gedagte met ’n vraag verder gevoer: Wie soll ich dich empfangen / Und wie begegn’ ich dir? (‘Hoe sal ek U ontvang en hoe U ontmoet?’).

Vervolgens sing die tenoor Lukas 2:7 voor. Maria se eersteling is in ’n stal gebore omdat daar geen plek in die herberg was nie. Dít bied Bach as ‘t ware die geleentheid om met twee korale te antwoord. Die tweede sluit die eerste kantate van die oratorium af met ’n aangrypende stukkie Bachteologie: Ach mein herzliebes Jesulein,/ Mach dir ein rein sanft Bettelein,/ Zu ruhn in meines Herzens Schrein,/ Daβ ich nimmer vergesse dein!’. Vry vertaal: Liewe Jesussie, maak vir U ’n sagte bedjie in my hart sodat ek U nooit vergeet nie.

Die woorde is egter nie alles nie, maar wel die musiek. Dit is asof die musiek die woorde anders laat klink; nuwe betekenis daaraan gee; die hinderlike beskrywings van Christus versag; die gelowige anders na kersfees laat kyk; sy/haar geloof as ‘t ware esteties versterk.

Dit is jammer dat vandag se gelowiges nie altyd die vaardigheid het om Bach te verstaan en te geniet nie. Kerkmusiek het tot ‘bands’, ghitare en oppervlakkige gospelliedjies vervlak en die estetiese het uit die geloofservaring verdwyn. Dikwels sê die lirieke nie veel nie, stel die musiek geen uitdaging nie; word geloof nie meer deur die kuns gevoed nie; word ’n estetiese ervaring nie meer ’n religieuse ervaring nie. Uiteraard verskil smaak en kan moeilik tussen ‘diep’ en ‘vlak’ geestelike musiek onderskei word, maar wie Bach eenmaal ervaar het, sal die verskil ken.

Share this / Deel hierdie: