10 Desember 2012

Kersfees en die God van die Ou Testament

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham … (Mt 1:1).

Matteus is in 90 nC êrens in Sirië (dalk Antiochië of Damaskus of Tirus) geskryf en toe aan Christen-Jode, wat die spanning tussen kerk en sinagoge intens beleef het, gestuur. In die beginjare van die kerk was die verhouding nog gemaklik en ontspanne en het sommige buitestanders selfs gemeen die Christendom was net ‘n onderafdeling van die Joodse godsdiens.

          Mettergaan het die verskille tussen Jood en Christen so verskerp dat ‘n breuk tussen kerk en sinagoge onafwendbaar was. Christen-Jode moes radikaal met dinge soos die besnydenis en die sabbat breek en talle Joodse gewoontes afsweer. ‘n Duidelike skeidslyn tussen Jood en Christen het deur vele gesinne en families, dorpe en streke geloop en mense onherroeplik van mekaar vervreem. Oornag het kerk en sinagoge vyande van mekaar geword en mekaar op talle maniere beveg. 

Vir baie Joodse Christene was hierdie breuk met hul verlede bittermoeilik. Jerusalem se val in 70 nC deur die Romeine het dinge ook net vererger. Anders as Jerusalem se val in 586 vC was daar na 70 nC geen hoop op ‘n nuwe toekoms vir die Jode of hulle stad nie. Alles was finaal verlore. En tog ook nie.

In Matteus word die Joodse Christene met die Ou Testament getroos. Die evangelie begin met ‘n geslagsregister wat vanaf Abraham oor Dawid tot by Jesus strek. Israel se lewensgeskiedenis het dus nie aan die einde van die Ou Testament doodgeloop nie, maar het op ‘n ander, nuwe manier in die Jesusgebeure voortgeleef.

En die God waarvan die Joodse Christene in Matteus gelees het, was dieselfde as die God van die Ou Testament. Vir hierdie mense wat in Joodse huise gebore is en in Joodse families groot geword het, was dit ‘n geweldige troos. Al het hulle baie dinge verloor, was God darem nog daar en was Hy steeds naby aan hulle.

Dieselfde God wat elke dag saam met Abraham gestap, Israel uit Egipte uitgelei en hulle daagliks in die woestyn versorg het, was ook in die ‘nuwe bedeling’ by gewone alledaagse mense teenwoordig. Op hierdie God van hulle vadere kon die Joodse Christene van die eerste eeu steeds hoop en vertrou.

Kersfees bind ons opnuut aan die Ou Testament. Dit maak ons hegter aan die lewenservaring van gewone Israeliete vas; aan die gevoel van moedeloosheid en wanhoop waarmee ook hulle geworstel het. Dit bind ons ook aan dieselfde God en sy oorrompelende liefde vir Israel; sy deernis en troos wat in Jesus so gepraat het dat ons die trillings van sy woorde nou nog in ons hart ervaar. 

Here, dankie vir nog ‘n somerkersfees hier onder die suiderkruis en U woorde uit ‘n ou verlede wat ons nou nog troos. © jler

Share this / Deel hierdie: