17 Desember 2012

God begin altyd weer opnuut.

Ek sal My ontferm (Jer 30:18) … Daar kom ’n tyd … dat Ek … ’n nuwe verbond sal sluit (Jer 31:31).

God het ook uit die geskiedenis geleer. Een is die mens se totale onbetroubaarheid. Vroeg in die Ou Testament lees ‘n mens dit al. God het die mens gemaak en vir hom gesorg, maar hy was gou ontrou (Gen 2).

          Iets sleg het toe met die mens gebeur. Hy het iets verloor soos ‘n kreupele geword. Vir ewig sou hy mank loop en weerloos teenoor rampe, siekte en die dood staan. God sou ook nie meer op hom kon reken nie want sy hele wese was korrup. 

          Met dié probleem sou die profete worstel. Op ‘n stadium was dinge so sleg dat die toekoms van die geloof donker gelyk het. Amos, die eerste van die groot profete, het geen toekomshoop gehad nie. Hosea se hart het gebreek, maar die einde was onafwendbaar. Baie jare later is arme Jeremia gemartel omdat hy durf sê het dat Jerusalem met tempel en al voor die voete van die Babiloniërs sal verkrummel.

          Die profete se frustrasie kan ‘n mens verstaan. Na Dawid en Salomo het ‘n geskiedenis van totale verwording gevolg. Met die uitsondering van ‘n paar het die konings almal gedoen wat hulle wou. Agas was verskriklik. Op ‘n stadium het hy die tempel se deure toegesluit en op elke hoek in Jerusalem altare vir ander gode gebou. Tereg word gesê hy het ‘die Here, die God van sy voorvaders, uitgetart’ (2 Kron 28:25). Manasse was nog erger. Hy het ‘gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart’ (2 Kron 33:6). ‘n Mens kan sommige van die vroeë profete se neerslagtigheid verstaan.

          Ongelooflik mooi word dan gesê God het nie moed opgegee nie. Koning vir koning het die rug op Hom gedraai en geslagte lank het Israel ander gode aanbid, maar nogtans het God aangehou. In Jeremia se donkerste uur het hy van God se erbarming gepraat en van ‘n nuwe verbond. God sou dié keer egter ‘n kortpad volg. Hy sou hulle nie weer voor ‘n berg (soos Sinai) laat bymekaarkom nie en sy wil op kliptafels skryf nie, maar Hy sou sy woorde sommer direk op hulle harte skryf.

          Lewenslank kan ‘n mens oor hierdie liefde nadink. Israel het dit vertrap, maar nogtans het God aangehou om hulle met diepe deernis nader te trek en te koester. Lewenslank kan ‘n mens oor God se enorme liefde op ‘n kersdag twee duisend jaar gelede peins; ‘n dag toe Hy weereens nuut begin het en deur ‘n Mens met ons kom praat het.

Here, hierdie tyd van die jaar is ons so intens daarvan bewus dat U ons nooit sal los nie, maar altyd weer nuut met ons sal begin. Vir U erbarmende liefde loof ons U lewenslank. © jler

Share this / Deel hierdie: