21 Desember 2012

Kersfees en verwondering.

Toe … is hulle (Israel) met ontsag vir Hom vervul (Eks 14:31).

Karel Schoeman begin sy boek Verliesfontein met aangrypende woorde: ‘Die verlede is ’n ander land: waar is die pad wat soontoe loop?’. Hiervolgens is alle gisters en eergisters onherroeplik weg en is die pad terug onbekend. Niemand kan hierdie ‘ander land’ ooit volledig verken nie en niemand ken ook die pad daarheen nie. Elke geskiedenis is dus onvolledig en vertel net ’n deeltjie van die verlede.

Israel was pynlik hiervan bewus en daarom is die Ou Testament ook nie ’n geskiedenisboek vol feite nie. Alhoewel hulle nie die historiese prentjie presies kon inkleur nie, het hulle God se groot dade egter geken en dít het hulle met verwondering vervul. 

En in die antieke wêreld is nogal veel van dié verwondering gemaak. Volgens Plato het alle filosofie by verwondering begin. Verwondering oor die lewe en alles rondom ons. En hoe groter die verwondering hoe groter die strewe na kennis van die wêreld. 

Israel het nie groot filosowe gehad nie, die Ou Testament is ook nie eintlik filosofie nie en tog het hulle die gevoel van verwondering geken. Pragtig sien ’n mens dit ook in hulle lofliedere oor God se dade. Hulle het hulle nie soseer oor die wêreld verwonder nie, maar oor dit wat God in hulle wêreld gedoen het. En die manier waarop hulle aan dié verwondering uiting gegee het, was deur lofliedere. Eksodus 14 en 15 is goeie voorbeelde hiervan. God doen iets (in Eks 14) en dan antwoord die volk (in Eks 15) daarop.

Eksodus 14 was vir Israel kernbelangrik. Die gebeure wat daarin vermeld word, het die grondslag van hulle bestaan gevorm. As dinge daardie dag by die see verkeerd geloop het, sou Israel bloot uit die bladsye van die geskiedenis verdwyn het. Gelukkig het dit nie gebeur nie en Israel sou vir altyd hieroor in vervoering staan. In ‘n opeenstapeling van woorde en begrippe is die andersheid, grootsheid, almag, maar ook deernis van God besing. Hulle het nooit presies gesê wat daar gebeur het nie, maar dit was ook nie nodig nie want God se ingryping was so oorweldigend dat niks meer nodig was nie. Al wat van dié daad by die see oorgebly het, was ewige verwondering, vervoering en lofliedere. 

Uit dié twee hoofstukke blyk dat verwondering, loutere verwondering nie maar net ’n bysaak was nie, maar tot die kern, die wese van Israel se geloof behoort het. Verwondering is ook deel van die kerservaring; verwondering oor Iemand wat vir ons gebore is en wat ons lyding en pyn op Hom geneem het sodat ons nooit weer alleen sou wees nie.

Here, laat  ons ook elke dag verwonderd oor U liefde en U hulp staan. © jler

Share this / Deel hierdie: