26 Desember 2012

God het vir Israel gesorg, Israel het dit egter nie besef nie.

Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle … gedra het soos ’n man sy seun dra (Dt 1:32).

Israel se omgaan met die geskiedenis bly merkwaardig. Geskiedenis was deel van hulle lewe. Geen Israeliet was ooit los van die volk se verlede nie. Hierdie geskiedenis moes dus baie ernstig geneem word. Voordat ‘n nuwe jaar of ‘n nuwe tydperk tegemoetgegaan kon word, moes altyd eers teruggekyk word.

Mooi sien ons dit in die boek Deuteronomium. Israel staan op die punt om die beloofde land binne te gaan, maar hulle moes eers terugkyk. Hulle kon nie die nuwe binnegegaan sonder om terug te kyk nie. In Deuteronomium 1:19-46 blyk dan ‘n belangrike probleem: Israel het nie die verlede altyd ernstig geneem nie. Hulle het die magtige dade van die Here in Egipte gesien. Hulle het sy mag by die rivier ervaar, maar toe hulle voor ‘n groot uitdaging te staan gekom het, het hulle geloof klein geword.

Twaalf man het die beloofde land gaan verken en gesê dat die land goed was (Dt 1:27). Hulle het egter ook gesê dat die mense en hulle stede groot en sterk was. Dít het die volk se moed gebreek en hulle het gou vergeet wat in Egipte en by die rivier plaasgevind het. Hulle het nie gelet op dit wat in die woestyn met hulle gebeur het nie. Dáár het die Here hulle gedra soos wat ‘n pa sy seun dra. ‘n Pa sal met al sy krag sy seun deur gevare en krisisse dra. So het God Israel ook versorg. Elke dag het Hy voor hulle uitgetrek en die beste kampplekke vir hulle uitgesoek. Bedags het Hy vir hulle die pad met behulp van ‘n wolkkolom gewys en snags met ‘n vuur (Dt 1:33).

Klaarblyklik het Israel dit nie besef nie. Hulle het geleef asof niks in hulle woestyn gebeur het nie. Hulle het nie die Here se sorg raakgesien nie. Hulle het nie raakgesien hoe liefdevol Hy hulle gelei het nie. Hulle het die Here se daaglikse liefde misgelees. Hulle het die tekens van sy nabyheid misgekyk. Hulle het alles as vanselfsprekend aanvaar. En toe hulle op die God van die geskiedenis moes bou en die beloofde land moes binnetrek, het geloofskrag ontbreek.

          As ons na 2012 terugkyk, kan ons so maklik soveel tekens van die Here se erbarming miskyk. Anders gestel: ons was so dikwels moedeloos omdat ons die Here se liefdestekens nie raakgesien het nie.

Here, ons dank U vir die jaar 2012. Ons sê dankie vir al die geleenthede, voorregte en elke dag se mooi momente. Vergeef ons dat ons so dikwels in ons eie seer vasgevang was dat ons nie U genade en U liefde raakgesien het nie. Ó jler

Share this / Deel hierdie: