28 Desember 2012

Kyk ver!

Josia het gedoen wat reg is (2 Kon 22:2) … maar die farao het hom … doodgemaak (2 Kon 23:29).

Soms maak die lewe nie sin nie omdat so op nóú gefokus dat niemand verder kyk nie. Dit het ook so met Josia se dood gebeur. Op ‘n dag in 609 het ‘n wa sy lyk Jerusalem binnegebring. Oral langs die strate het strakgesig mense alles aanskou. Hulle wêreldjie het gedreig om ineen te stort. Waarom moes dit nou juis met Josia gebeur het? Sy oupa, Manasse, was so sleg dat God tydens sy bewind finaal besluit het om Juda te verwoes (1 Kon 21:10-16). En tog het nog hy vyf en vyftig jaar in Jerusalem regeer. Josia weer was vroom, maar hy sterf op nege en dertig (2 Kon 22:1). Hoe moes die mense van Jerusalem dié dinge daardie dag verstaan het?

          Josia was so anders. Na sy pa, Amon, se dood het hy die tempel van al die afgode skoongemaak en op ‘n boek afgekom. Niemand weet wat die inhoud daarvan was nie, maar miskien was dit ‘n vroeë vorm van die boek Deuteronomium of enkele dele daarvan. Wat hy gelees het, het hom diep aangegryp en hy het al die afgode en vreemde altare oor die hele land verwoes. Josia was ‘n goeie koning en die beste sedert koning Dawid.

          En tog het hy vroeg en vernederend gesterf. Onnadenkend het hy Egipte by Megiddo gaan voorlê en daar is hy noodlottig gewond. Hy het hom vermom sodat hulle hom nie sou herken nie, maar is nogtans raakgeskiet (2 Kron 35:20-27). Almal wat langs die strate gestaan en met ‘n seer gevoel sy lyk die stad sien binnekom het, moes tog oor die betekenis van alles gewonder het. Het dit nog sin gehad om God te dien en Hom alleen te aanbid?

          So maklik kan ‘n mens net op Josia se vroeë dood fokus en daarmee die breë perspektief miskyk. ‘n Skrale twee dekades na sy dood het Israel in sy grootste krisis (die Babiloniese ballingskap) beland en was dit nie vir Josia nie, het hulle nie oorleef nie. As die ballingskap onverwags by Manasse of Amon geëindig het, was dit met Israel klaarpraat. Kort voor dié krisis moes Josia egter eers weer die grootsheid van God se genade en verbondsliefde beklemtoon; moes hy beklemtoon dat daar net één God is wat kan help en weer nuut kan begin. En as die Babiloniërs Israel se gees ‘n paar dekades later byna geknak het, het dié teologie hulle weer laat opstaan.  

          Josia kon onmoontlik die gevolge van sy dade voorsien het. Hy moes maar net getrou geleef het en gedoen het wat hy moes doen. God het op sy eie manier sin daaraan gegee. As ons na 2012 terugkyk, maak baie dinge dalk glad nie sin nie. Soveel onnodige lyding en pyn. En ons kan weinig daaraan doen. Ons kan maar elke dag getrou leef, werk en geniet en dalk eendag verstaan ons iets van God se pad met ons.

Here, ons kan nie ver sien nie, maar maak ons vandag in die klein dingetjies getrou. Ons dank U dat U al ons klein dade in U groter doel gestalte laat kry. Ó jler

Share this / Deel hierdie: