Hy (Sedekia) is verhoor, en toe het hulle … sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na

Groter vernedering was daar nie. Dit het in die somer van die jaar 586 vC gebeur. Die Babiloniërs het Jerusalem beleër en na vier maande was daar hongersnood. Een nag het die soldate ‘n opening in die muur gemaak en hulle het daardeur ontsnap. Koning Sedekia en sy seuns was saam (2 Kon 25:1-7).

Aanvanklik het die Babiloniërs dit nie agtergekom nie, maar toe hulle onraad bemerk het, is met mening toegeslaan. Baie soldate is ingehaal en doodgemaak. Sedekia en sy seuns is gevang en Ribla toe geneem. Hulle het hom en sy seuns verhoor en natuurlik skuldig bevind. Voor Sedekia het hulle sy seuns se oë uitgesteek. Hierna het hulle hom gegryp en ook sy oë uitgesteek. In hierdie verskriklike toestand het hulle Sedekia met bronskettings geboei en Babel toe laat loop.

Hierdie laaste verse van die boek Konings dwing ‘n mens tot stilte. In ‘n sekere sin word iets doodgewoon beskryf. ‘n Volk word oorwin en sy koning word gefolter. Dít het in die antieke wêreld dikwels voorgekom. En tog is dit hier anders. Agter hierdie historiese mededeling lê soveel menslike smart en trauma. Dit gaan om die einde van ‘n volk en sy staat. Dit gaan om die einde van die Judese Ryk (of die Suidryk) en die einde van die Dawidiese koninkryk. Dit gaan om die einde van die Dawidiese troon wat meer as vier honderd jaar bestaan het. Sedekia was die laaste koning en na hom sou daar nooit weer ‘n koning wees nie.

Wat daardie somersdag in 586 gebeur het, was die einde van ‘n lang pad. Van die begin af was mense teen die idee van ‘n koning gekant. Samuel was een. Volgens hom sou die konings Israel nog groot ellende besorg. Hy was reg. Onbeheersde staatsmag en korrupsie het onbeskryflike menslik lyding veroorsaak.

En wat het Israel in daardie vernietigende omstandighede gedoen? Hulle het teen alle hoop in bly hoop! Waarop? ‘n Nuwe dag en ‘n voller lewe. As ons dus weereens ‘’n helder Somerkersfees in hierdie land’ vier, is dit omdat mense na 586 teen alle verwagting in bly hoop het; omdat mense na die val van Jerusalem steeds op ‘n ander bestaan bly hoop het; omdat mense na die dood van die laaste koning (Sedekia) geduldig op ‘n nuwe dagbreek bly wag het.

Here, daar is so baie dinge wat ons in die lewe platslaan. En in die Kerstyd is ons meer intens daarvan bewus en pla dit ons meer. Gee ons in hierdie Kerstyd die krag om verby die murasies van ons drome en ons ideale te kyk en te bly hoop op ‘n nuwe môre. Ó

Share this / Deel hierdie: