Prys die Here! (Ps 150:1) … aan sy liefde is daar geen einde nie (Ps 100:5)

Een van die groot jammertes van die kerkgeskiedenis is dat so min van die vroeë kerkmusiek bewaar gebly het. Ons ken nie al die vroeë kerk se liedere nie, ons weet ook nie hoe hulle destyds musiek genoteer het nie en daarom weet ons van hulle kersmusiek heel weinig. Van die kerklied in die Middeleeue weet ons al ’n bietjie meer en nou nog kan ’n mens die liedere met die Latynse woorde en snaakse instrumente beluister.

Een so ’n kersliedjie het aangrypende woorde. In die refrein word voortdurend herhaal: ‘Liewe Jesus, kom kuier vir ons op kersdag en bring sommer u liewe moedertjie ook saam’. Eenvoudige woorde van eenvoudige mense. Mense wat nie kon lees of skryf nie, maar wat met hierdie lied hulle diepste geloofservaring verwoord het. Kersfees was vir hulle ’n tyd van lof, blydskap en die ervaring van Jesus se nabyheid.

Om God te loof, is egter nie so maklik nie. Soms maak die kerstyd dit ook nie maklik nie. Dikwels voel mens ‘in Gods lof onlustig’, soos Totius nog Psalm 42 berym het, want in dié tyd raak ’n mens mos meer intens van ellende, eensaamheid en swaarkry bewus.

Psalm 100 help ons egter om by God se lof uit te kom. Dit is opvallend hoeveel werkwoorde in hierdie kort psalmpie gebruik word om God te loof: ‘juig’, ‘dien’, ‘dank’, ‘kom … met gejubel’ en ‘gaan … met dankliedere’. Dit spreek van so ‘n intense vreugde en blydskap wat alle verstand te bowe gaan.

En waaroor was al die geluk? Oor die basiese dinge van Israel se geloof. Oor die feit dat die Here hulle God was, dat Hy hulle gemaak het en dat hulle Syne was (Ps 100:3). Al het dit sleg gegaan, moes die psalmskrywer se gemeente opnuut weer hieroor bly word. Hulle was nie aan ‘n blinde noodlot of allerhande kragte uitgelewer nie, maar het aan God behoort. Hy was goed vir hulle (Ps 100:5) en het hulle met sy enorme liefde gekoester.

Hulle moes weer ‘n diepe vreugde oor God se liefde voel en weet dat dit nooit sou ophou nie. Hulle moes weer ‘n diepe geluk ervaar omdat God se trou vir ewig staan. Omdat Hy aan sy liefde getrou was, sou Hy sy erbarming nooit opskort of Israel minder lief hê nie. En omdat dít waar is, stel kersdag ’n betekenisryke vraag aan elkeen: ‘Voel jy ook nou sy warm liefde, as ons die dag gedenk …’ (Lied 358).

Here, laat ons in hierdie kerstyd U liefde so ervaar dat ons U daarvoor sal wil loof. Ó

Share this / Deel hierdie: