Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham.

1 Inleiding

Kersfees.

   Ons spits ons ore vir die mooi storie. Van Jesus se geboorte, die herders, die engelekoor, die drie wyse manne uit die Ooste en die Betlehemster oor die stal met die krip, terwyl bose koning Herodes in die agtergrond duistere planne smee om die Kind om die lewe te bring … Ons harmoniseer die evangelies naatloos, omdat dit ons pas om ‘n mooi storie te vertel. Ons vermy die geslagsregisters, want dit is tog o so vervelig, en met al die moeilike name ook!

   Maar in die antieke tyd, en ook in die tyd toe die Bybel op skrif gestel is, was geslagsregisters baie belangrik. ‘n Stamboom het belangrike informasie oorgedra, informasie wat vir die interpretasie van die verhaal besonder betekenisvol was. ‘n Stamboom was as’t ware ‘n sertifikaat wat bevestig dat iemand sy naam en sy status waardig is, dit het hom geloofwaardig gestempel in terme van sy herkoms (vgl Van Aarde 1994:272). Deur sy stamboom is iemand in ‘n bepaalde geskiedenis ingebed, ‘n geskiedenis waarmee hoorders of lesers ook kon identifiseer.

   En daarom is dit heel paslik dat die eerste kersverhaal in die Nuwe Testament met iemand se geslagsregister begin.         

 

2 Jesus se geslagsregister in Matteus (1:1-17)

2.1 Die geskiedenis van die Ou Testament

Mat 1:17 – Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap tot by Christus.

   Die omiddellike effek van Matteus se weergawe van Jesus se geslagsregister is dat dit ons terugvoer na die Ou Testament en ons dwing tot intertekstuele diskoers. Matteus doen immers ‘n paar snaakse dinge wat ons nie maar net by ons kan laat verbygaan nie. Hy maak ‘foute’ – ‘foute’ wat daarop gerig is om ons wenkbroue te lig en en ons te laat nadink!

   Matteus rangskik Jesus se stamboom in dalende orde, van vader tot seun en trek ‘n lyn deur die konings van Judea (Miller 2003:75). Hy doen dit deur Jesus se herkoms in drie tydsegmente te struktureer: Abraham – Dawid; Dawid – Babiloniese ballingskap: ballingskap – geboorte van Jesus (Borg & Crossan 2009:87; vgl ook Allison 2005:138). Volgens Matteus (1:17) is daar 3X14 generasies: elke generasie bevat 14 name van die konings van Juda. Maar dit is nie heeltemal korrek nie. Byvoorbeeld, in Matteus se koningslys ontbreek drie belangrike konings van Juda (vgl Mt 1:8 met 1 Kronieke 3:11-12; Miller 2003:77), en ook, as ‘n mens mooi tel, sien jy dat slegs die middelste periode veertien name bevat – die res het slegs dertien!

   Matteus was nie onnosel nie: hy het gekies om Jesus se stamboom in hierdie formaat weer te gee en het doelbewus die geskiedenis van Israel binne ‘n bepaalde struktuur gegiet. Wiskundige akkuraatheid was nie sy doel nie, veel eerder wou hy ‘n teologiese aanspraak maak (Borg & Crossan 2009:83, 87-88). Vir Matteus is die drie stelle gelyke generasies belangriker as die korrekte getal veertien. Apokaliptiese geskrifte van die tyd het die geskiedenis in gelyke periodes ingedeel – of dit nou drie of sewe was – om daarmee ‘n scenario te skep vir die ‘vervulling van die tyd’. Matteus sien dus ‘n eskatologiese betekenis in 3X14: Jesus word gebore presies op die regte tyd vir die Messias om te kom. Die getal 3X14 is ‘n teken van goddelike voorsienigheid (Miller 2003:79-82).

   Matteus se genealogie van Jesus wil minimum geskiedenis en maksimum teologie oordra (Borg & Crossan 2009:81), ons moet dit lees as teologiese metafoor en simboliese gelykenis eerder as werklike geskiedenis met feitelike informasie. Jesus se geslagsregister is ‘n overture, ‘n voorspel wat ons voorberei op dit wat volg – die geboorte, die lewe, die sterwe en die opstanding van Jesus die Christus.

 

2.2 Vier Ou Testamentiese vroue: Tamar, Ragab, Rut en Batseba

Soos alle antieke genealogieë, trek Matteus Jesus se geslagslyn hoofsaaklik deur die herkoms van die vader, maar weer eens doen hy ‘n ongewone ding: hy sluit vier vrouename uit die Ou Testament in.

   Waarom juis hierdie vier? Wat van iemand soos Sara, Abraham se vrou, aartsmoeder by uitstek? Of wat van Ragel en Lea, die stammoeders van die twaalf stamme van Israel? En hoekom verwys hy na Batseba nie op haar naam nie, ook nie as vrou van koning Dawid nie, maar as die vrou van Urija?

   Kom ons verfris ons geheue, en kyk vlugtig wie was hierdie vier en wat het hulle gedoen:

      Tamar (Gen 38): Tamar was Juda se skoondogter wat hy eers as vrou vir sy seun Er gegee het, en ná die se dood, vir sy seun Onan. Beide het kinderloos gesterf. Volgens die voorskrifte van die leviraatshuwelik, moes Juda na regte vir Tamar aan Sela, sy jongste gee, maar hy was bang Sela sterf net soos sy broers, en het Tamar na haar ouerhuis teruggestuur. Vermom as ‘n prostituut, verlei Tamar haar skoonpa op pad om sy kleinvee te laat skeer en eis ‘n pand as bewys vir die boklam wat hy vir haar sou gee as betaling. Toe dit blyk dat sy swanger is, wou Juda haar met die dood straf – die gebruik van die tyd – maar toe sy die bewyse na vore bring, is hy tot skulderkentenis gedwing. Nie oor die prostitusie nie, maar oor sy versaking van die leviraatshuwelik.

   Ragab (Jos 2; 6): Josua stuur twee verkenners uit om die land Kanaän te verken, en hulle gaan tuis by Ragab, ‘n prostituut in die stad Jerigo. Die koning van die stad eis dat sy hulle uitlewer, maar sy steek hulle weg en lei die koning op ‘n dwaalspoor. In ruil daarvoor vra sy dat ook haar lewe en die lewe van haar familie gespaar word as die Israeliete die stad aanval. Dit gebeur dan ook so. Die hele stad word uitgedelg, net Ragab en haar familie word gespaar en in die Israelitiese gemeenskap opgeneem.

   Rut (Rut 1-4): Naomi en haar Moabitiese skoondogter Rut keer as weerlose weduwees terug na Betlehem. Op Naomi se voorstel gaan Rut om are op te tel in die landerye van ‘n welgestelde veraf familielid van Naomi se oorlede man. Soos die geluk dit wil hê, vang sy die oog van Boas, die eienaar. Rut verras haar weldoener met ‘n onverwagse besoek een nag op die dorsvloer, en die saak word beklink met ‘n huwelik en ‘n nageslag.

   Batseba (2Sam 11-12; 1Kn 1:11-31): Eers pleeg Dawid owerspel met ‘n ander man se vrou (verkragting dalk nie heeltemal uitgesluit nie, sien Exum 1993:170-176), en toe dit blyk dat sy swanger is, laat hy die man vermoor. Hy neem Batseba as vrou, maar die profeet Natan kondig die Here se oordeel oor die daad aan, en die eerste kind sterf. Die tweede kind, Salomo/Jedidja oorleef. As Dawid op sy sterfbed lê, lyk dit aanvanklik asof Adonia die nuwe koning gaan wees. Batseba en Natan span saam, sodat Dawid uiteindelik nie anders kan as om opdrag te gee dat Salomo as koning gekroon word nie.

 

2.3 eers die humor …

Hierdie vier vroue was nie jou gewone gemiddelde vrou van die dag nie. Al vier vroue slaag daarin om mans as die gekke in die verhaal voor te stel, of om die regte ding te doen, terwyl die mans verbrou (Spencer 2004:28-41; sien ook die opmerkings van Levine, 2001:35-36).

   Juda het al die mag oor Tamar. Hy gee haar eers vir sy een seun, toe vir die ander, en stuur haar daarna terug na haar ouerhuis – by implikasie, ‘n vernedering. Tamar, vermom soos ‘n prostituut, stroop Juda van al die simbole van sy patriargale outoriteit – sy seëlring, sy ketting en sy kierie. En as die oomblik van waarheid aanbreek, is dit presies hierdie simbole wat hom as gek aan die kaak stel.

   In Ragab se storie, is sy van die begin af in beheer van sake. In plaas daarvan dat die verspieders hul werk doen en die land verken, haak hulle vas by ‘n prostituut van een stad. Die vyandige koning is op die punt om hulle uit te vang, letterlik ‘pants down’! Die prostituut steek hulle weg, en lei ‘n koning met sy volle leërmag om die bos, etlike dae lank! Sowel die lamsakkige verspieders en die dom koning kom taamlik bedroë daarvan af.

   Daar bestaan merkwaardige parallelle tussen Tamar en Rut – en in die boek Rut word sy inderdaad met Tamar vergelyk. Boas is nie heeltemal ‘n gek soos Juda nie, dalk net ‘n ‘bietjie stadig’. Rut weet die inisiatief gaan nie van hom af kom, soos haar skoonmoeder gesê het nie, maar van haar. Sy neem haar kans waar as hy in sy dronkenskap op die dorsvloer neerploeg, en maak seker – ons kan maar raai hoe! – dat hy homself tot ‘n huwelik verbind.

   Batseba – verkrag of nie – kry die hef in die hand, die oomblik as sy die koning laat weet dat sy swanger is (2 Sam 11:5). Volgens wet kon albei doodgemaak word (vgl Lev 20:10). En dit lyk asof Batseba genoeg getuienis gehad het om te bewys dat die kind wat sy verwag, die koning s’n is. Maar die ironiese kinkel in die verhaal ontplooi eers in die tweede gedeelte (1 Kn 1:11-31). Die eens viriele koning wat ‘n swak plek vir vroue had, lê nou oud en impotent op sy sterfbed. Natan wat Dawid destyds oor Batseba aangespreek het, nader haar nou met ‘n suggestie: herinner die koning aan ‘n eed wat hy gesweer het … Batseba doen dit, maar waar Natan die voorstel in ‘n vraag formuleer (‘Het u nie…’ – v 13), doen Batseba dit deur middel van ‘n onweerlegbare stelling (… u het … v 17). Die grootste ironie is egter dat Dawid nêrens so-iets belowe het nie! Batseba weet baie goed hoe om die seniele ou koning se swakheid en vergeetagtigheid ten volle te benut, indien nie uit te buit nie!

   Opvallend van hierdie vier vroue is dat al vier sake in eie hande neem. Hulle sit nie wag vir ‘n wonderwerk of ingrype van God nie. God verdwyn as’t ware agter die skerms en laat weduwees, en vreemdelinge en prostitute die werk doen. Maar hierdie argument strook nie heeltemal met Maria se passiewe optrede in die Matteus-verhaal nie. Spencer (2004:37) voer aan dat hierdie geslagsregister op Josef afstuur. Anders as die mans van drie van hierdie vroue (Boas is die uitsondering, al het hy ‘n bietjie aanmoediging nodig gehad!) doen Josef die regte en edele ding. Hy verwerp nie sy swanger vrou met die kind wat nie syne is nie, hy neem die kind as eie aan, en neem verantwoordelikheid om die gesin te beskerm. Waar sy manlike voorgangers grotendeels verbrou het, maak hy reg.

 

2.4 dan op ‘n ernstige noot …

2.4.1 die heidene

‘n Mens kan egter nie aanvaar dat hierdie vier vroue niks met Maria in gemeen het nie – sy is immers die vyfde vrouenaam in Jesus se geslagsregister, en Matteus het nie om dowe neute hierdie vier Ou Testamentiese voormoeders ingesluit nie.

   Met die eerste oogopslag lyk dit asof hulle ‘n heidense of nie-Judese etnisiteit in gemeen het (Borg & Crossan 2009:91; Miller 2003:82). Twee van hulle is baie duidelik nie-Judees: Ragab was ‘n Kanaäniet en Rut ‘n Moabiet. Alhoewel Tamar se herkoms nie duidelik uitgespel word nie, was sy heelwaarskynlik ook van Kanaänitiese (Jeanesonne 1990:101) of Aramese (Luz 1996:26) herkoms. Juda het immers weggetrek na Kanaänitiese terrein waar hy met sy eie gesin begin het (Gen 38).       

   Oor Batseba kan ‘n mens slegs indirekte afleidings maak. Matteus verwys na haar as die vrou van Urija, die Hetiet (v 6b). Volgens 2 Samuel 11:3 was sy die dogter van Eliam, Agitofel se seun (23:34). Agitofel, die Giloniet ondersteun vir Absolom teen Dawid (15:12), dus, ‘n mens sou tot die slotsom kon kom dat Batseba ook nie ‘n rasegte Israelitiese of Judese vrou was nie. Daar is ‘n sterk moontlikheid dat al vier hierdie vroue van nie-Israelitiese herkoms was, en so stel Matteus sy universalistiese perspektief aan die orde: Jesus kom ook vir die nie-Jode (Luz 1996:26).

      Die geboorteverhaal, net na die geslagsregister, fokus ook onmiddellik op heidene, naamlik die wyse manne uit die Ooste wat kom om aan Hom hulde te bewys. En Matteus sluit sy evangelie af met die sogenaamde ‘sendingopdrag’  (Mt 28:18-20) om dissipels van ‘al die nasies’  te maak (vgl Miller 2003:82). Vanaf die begin – of dit nou die Ou Testamentiese voormoeders, die Persiese wysheidsleraars is – tot aan die einde met die laaste opdrag aan die elf, het Matteus die heidene in die oog. Hierdie moontlikheid kan nie uitgesluit word nie.

2.4.2 die skandaal …

Maar wat van Maria? Hoe moet ‘n mens haar suiwer Judese herkoms interpreteer in die lig van haar nie-Judese voorgangers?

   Daar is die kwessie van ‘n skandaal. Gerugte het die rondte gedoen dat Jesus die buite-egtelike kind was van ‘n verhoudig tussen Maria en ‘n Romeinse soldaat, Pantera (Van Eck 2010: komend). Matteus draai ook geen doekies om nie. Josef is nie die biologiese vader van Jesus nie (Miller 2003:75), daarom stel hy dit duidelik: Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. Met hierdie stelling, wil hy op ‘n paar dinge sinspeel.

   Eerstens betrek hy Maria se geskiedenis by haar Ou Testamentiese voorgangers. Al vier se lewens getuig van die een of ander maritale ongerymdheid. Een of ander skandaal. Matteus herinner sy gemeenskap aan die geskiedenis van hierdie vier vroue, en daardeur wil hy iets sê oor die buitengewone omstandighede rondom Jesus se geboorte (Miller 2003:84). Binne die Joodse tradisie was nie een van hierdie vier Ou Testamentiese vroue egter ‘n ‘sondaar’ nie, inteendeel – hulle was merkwaardig juis vanweë hul buitengewone inisiatief wat uiteindelik bygedra het tot God se reddingsplan vir Israel.    

   Verder bring Matteus Maria in verband met Josef as haar man, en weer eens is dit in lyn met haar Ou Testamentiese voorgangers. Hierdie vroue word by die Judese gemeenskap geïntegreer deur hul mans (Miller 2003:85; Van Eck 2010 komend), en so ook Maria as die vyfde vrou in Jesus se geslagsregister. Maar anders as die vier Ou Testamentiese vroue, neem Maria volgens Matteus geen buitengewone inisiatief nie. As hy die passiewe vorm gebruik om van Jesus se geboorte te vertel (1:16), wil hy die leser daarop attent maak dat die swangerskap van God af kom (Borg & Crossan 2009:89). ‘n Bietjie later stel hy dit dan ook eksplisiet dat die swangerskap van die Heilige Gees gekom het (v 18). Hiermee weerlê hy alle gerugte van ‘n ongerymde swangerskap wat Maria betref.

   Vir Matteus is Maria dus ‘n besondere vrou. Sy toon besondere ooreenkomste met vier merkwaardige vroue in Israel se geskiedenis, vroue deur wie God se reddingsplan op ‘n verrassende wyse ontvou het. En deur Maria gaan dit weer gebeur.

   Daar is egter nog ‘n belangrike aspek. Binne Joodse kringe was daar gedebatteer of die messias van koninklike (Dawidiese) of priesterlike (Aäronitiese) afkoms sal wees (Miller 2003:75). Hulle het mekaar oor en weer kritiseer deur ‘bedenklike’ voorouers in elk se bepaalde messias-lyn uit te wys. Maar hierdie vier vroue was vir albei partye aanvaarbaar. Vir die voorstanders van ‘n priesterlike messias was hierdie vier vroue bewys dat die Dawidiese afkoms ‘n kompromis is: sy direkte voormoeders was heidene met ‘n bedenklike seksuele geskiedenis. Die koninklike messias-party het hulle weer gesien as heidene wat hulle tot die Judaïsme bekeer het. Matteus hou albei partye gelukkig deur ‘bedenklike dog aanvaarbare’ voorouers in sy messias-genealogie in te sluit.              

 

3 Nie om dowe neute nie!

Die heel eerste Kersverhaal in die Nuwe Testament begin met ‘n geslagsregister – nie om dowe neute nie. Matteus het ‘n fyn plan in gedagte. Hy beweeg sistematies en planmatig deur Israel se geskiedenis, en interpreteer dit op sy eie manier. Die eerste klimaks is die hoogtepunt van die Dawidiese monargie, maar dan is daar die vernedering, die laagtepunt, die Babiloniese ballingskap. Deurentyd dui Matteus aan hoe God se plan onverwags en deur middel van onwaarskynlike agente – vroue – ontvou. Hy wil egter nie ‘n historiese weergawe daarstel nie, maar ‘n teologiese punt beklemtoon: as die tyd vervul is, gaan daar weer ‘n verrassende hoogtepunt wees, naamlik, die geboorte van die lang-verwagte Messias, Jesus.  

          

5 Bibliografie            

  • Allison, DC 2005. Studies in Matthew. Michigan: Baker Academic.
  • Borg, MJ & Crossan, JD 2009. The First Christmas. What the Gospels Really Teach About Jesus’s Birth. New YorkL HarperCollins Publishers.
  • Exum, JC 1993. Fragmented Women: Feminist (Sub)versions of Biblical Narratives. Valley Forge: Trinity Press International.
  • Jeanesonne, SP 1990. The Women of Genesis. From Sarah to Potiphar’s Wife. Minneapolis: Fortress Press.
  • Levine, A-J 2001. ‘Matthew’s Advice to a Divided Readership’, pp. 22-41 in Aune, DE (red), The Gospel of Matthew in Current Study.Michigan: Grand Rapids.
  • Luz, U 1996. The Theology of the Gospel of Matthew. Cambridge: Cambride University Press.
  • Miller, RJ 2003. Born Divine. The Births of Jesus & Other Sons of God. Santa Rosa: Polebridge Press.   
  • Spencer, FC 2004. Dancing Girls, Loose Ladies and Women of the Cloth. The Women in Jesus’ Life. New York: Continuum.
  • Van Aarde, AG 1994. God-With-Us. The Dominant Perspective in Matthew’s Story. Hervormde Teologiese Studies, Supplementum 5. Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria: Pretoria.                
  • Van Eck, E 2010: komend, in Vos, CJA & Human, DH (reds), Die Evangelie maak Vry. Pretoria: Protea.
Share this / Deel hierdie: