Sonder die kerk was daar geen kuns nie. Of in elk geval nie soos ons dit vandag ken nie. Dit was die kerk wat skilders en komponiste in diens geneem, hulle betaal en talle opdragte gegee het. Hulle moes die kerk se boodskap vir gewone mense ‘hoorbaar’ en ‘sigbaar’ maak.

Dié kuns het die geloof van die westerse mens so verwoord en verbeeld dat dit ons nou nog bemoedig en versterk. Anders gestel: omgang met sekere vorme van die westerse kuns het ook ‘n religieuse dimensie.

Kuns probeer iets van die misterie en die grootsheid van God sê wat ons nie kan sê nie; musiek probeer iets van die onuitspreeklike God verwoord wat ons nie kan verwoord nie. Intense bemoeienis met kuns kan dus ‘n mens se geloof versterk en jou teologie verdiep. Anders gestel: die estetiese ervaring van kuns en religieuse ervaring kan dus op ‘n gegewe oomblik saamval.

En dit is juis tydens kersfees dat kersmusiek en die kersfeeskuns van die eeue ons meer gevoelig vir kuns se waarde maak; vir die krag van kuns om ons emosies te interpreteer en op ‘n besondere manier te verwoord en af te rond. Hieronder let ons op twee voorbeelde. Op kersmusiek van Bach wat nou nog troos en op komponis met ‘n diepe teologiese aanvoeling.

 

’n Werk wat nou nog troos: Bach se Weihnachtsoratorium

Johann Sebastian Bach se kantates en veral sy Weihnachtsoratorium (‘Kersoratorium’) van 1734/5 is ‘n voorbeeld van hoe geloof deur kuns gevoed en gebou kan word. In die Weihnachtsoratorium val ‘n innigheid ‘n mens onmiddellik op. So sing Maria van haar liefste Bruidegom ( … mein liebster Bräutigam) wat gebore gaan word en mense sal troos. Sion moes hom daarop voorberei om den Schönsten (‘die mooiste’) en den Liebsten (‘die liefste’) gou te sien en met oorgawe lief te hê. In ’n koraal word dié gedagte met ’n vraag verder gevoer: Wie soll ich dich empfangen / Und wie begegn’ ich dir? (‘Hoe sal ek U ontvang en hoe U ontmoet?’).

Vervolgens sing die tenoor Lukas 2:7 voor. Maria se eersteling is in ’n stal gebore omdat daar geen plek in die herberg was nie. Dít bied Bach as ‘t ware die geleentheid om met twee korale te antwoord. Die tweede sluit die eerste kantate van die oratorium af met ’n aangrypende stukkie Bachteologie: Ach mein herzliebes Jesulein,/ Mach dir ein rein sanft Bettelein,/ Zu ruhn in meines Herzens Schrein,/ Daβ ich nimmer vergesse dein!’. Vry vertaal: ‘Liewe Jesussie, maak vir U ’n sagte bedjie in my hart sodat ek U nooit vergeet nie’.

Dit is so dat hierdie woorde soms swaar op die gereformeerde oor val, maar die musiek maak alles anders. Dit is asof die musiek die woorde anders laat klink; nuwe betekenis daaraan gee; die hinderlike beskrywings van Christus versag; die gelowige anders na kersfees laat kyk; sy/haar geloof as ‘t ware esteties versterk.

Pragtig hoor ’n mens dit veral in die Weihnachtsoratorium se begin. Dit is so oorweldigend. Helder trompetgeskal, tromme en ’n koor verklank die gees van kersfees: Jauchzet, frohlocket! auf, preiset die Tage. Uitdruklik word gesê: wees bly, juig, verban alle klagtes, dien God en verheerlik sy naam. Dít is die ware kersgees. Dít is ’n vreugde wat soveel sin en betekenis aan kersfees gee; ’n blydskap wat jou troos en nuwe moed gee.  

Dit is jammer dat vandag se gelowiges nie altyd die vaardigheid het om Bach te verstaan en te geniet nie. Kerkmusiek het tot ‘bands’, ghitare en oppervlakkige gospelliedjies vervlak en die estetiese het uit die geloofservaring verdwyn. Dikwels sê die lirieke nie veel nie, stel die musiek geen uitdaging nie; word geloof nie meer deur die kuns gevoed nie; word ’n estetiese ervaring nie meer ’n religieuse ervaring nie. Uiteraard verskil smaak en kan moeilik tussen ‘diep’ en ‘vlak’ geestelike musiek onderskei word, maar wie Bach eenmaal ervaar het, sal die verskil ken.

 

Die skepping se ligkant en donkerkant

In die derde band van sy Kirchliche Dogmatik het Karl Barth sy skeppingsleer verwoord en deel daarvan is ‘n lang bespreking van die groot Niks of die Nietigheid. Volgens Barth het die skepping sowel ‘n lig- as ‘n donkerkant. Genesis 1 se onderskeiding tussen dag en nag, lig en donkerte bevestig juis dié dubbelkantigheid van God se skepping.

Barth beklemtoon egter oor en oor dat hierdie donkerte nie aan die ‘Nietigheid’ of die groot ‘Niks’ gelyk is nie. Hy worstel in sy skeppingsleer wel met ‘n teëspraak (‘Widerspruch’) en ‘n teenstand (‘Widerstand’) teen God en sy skepping wat hy die ‘Nietigheid’ (‘das Nichtige’) noem, maar dit het niks met die skepping se donkerkant te make nie (Barth 1961:327). Soms grens die donkerte van die lewe wel aan dié Nietigheid, maar is en was nooit deel daarvan nie. Donkerte is ‘n wesensdeel van die skepping, maar die Nietigheid nie (Barth 1961:327-334).
Die lewe het dus sy skadukante, sy ellendes en sy groot lewensvrae, maar dít beteken nog nie ‘n fundamentele teëspraak (‘Widerspruch’) en teenstand (‘Widerstand’) teen God nie. Soms herinner die donkerkant wel aan die Nietigheid, maar teenspoed en lewensverdriet beteken nog nie dat mens en wêreld in die Nietigheid versink het nie.
        Vir Barth was dit dus belangrik dat in die één skepping lig en donker, ‘ja’ en ‘nee’ as ‘t ware in balans gehou moet word. Die een kan nie sonder die ander nie. Die een impliseer die ander. In die lewe is daar dus nie net hoogtepunte nie, maar ook diepe ellendes; nie net klaarheid nie, maar ook onbegrip, onduidelikheid, onverklaarbaarheid; nie net vordering en vooruitgang nie, maar ook probleme en beperkthede en lewensgrense; nie net wasdom nie, maar ook mislukking en verlies; nie net rykdom nie, maar ook geweldige armoede; nie net skoonheid nie, maar ook afgryslikheid; nie net ‘n begin nie, maar ook ‘n einde; nie net waardevolle dinge nie, maar sinloosheid (Barth 1961:336).
In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ‘n ouerword; is daar naas die wen ook die verlies; is daar naas gebore-word ook die langsaam sterwe. Om alles te vererger tref die ellende nie almal eweredig nie (Barth 1961:334-342).

Mozart se musiek belig hierdie probleem baie mooi
In Mozart se tyd was daar in Lissabon ‘n groot aardbewing en mense het eindeloos oor die teodiseeprobleem gestry. Vele het probeer om God se betrokkenheid te ontken of dit te regverdig, maar sonder veel sukses. Mozart was nooit deel van dié diskussies nie en tog het sy musiek soveel gesê en getroos (Kupisch 1972:147-151). Hy het mense iets van die skepping se suiwer harmonie laat hoor; ‘n skepping waar donkerte is, maar geen ewige duisternis nie; waar pyn is, maar alles tog nie in sinloosheid verbrokkel nie; waar skadu’s is, maar wat deur die lig verdryf word; waar die dood ‘n werklikheid is, maar sonder dat dit gevrees hoef te word. (Barth 1961:337)
Met ‘n fyn aanvoeling het Mozart hierdie dubbelkantigheid musikaal verwoord. Belangrik volgens Barth is dat hy albei kante konkreet gehoor het. Lig en donker se felheid het hy werklik gevoel, maar het die positiewe toon van die skepping net skerper, helder laat klink. Sy musiek wou dus nie ‘n ‘statement’ of ‘n persoonlike belydenis maak nie, maar slegs God se stem in die goeie skepping (met sy teenstrydighede en al) opvang en verwoord (Barth 1961:338).
In sy musiek was daar egter nooit ‘n ewewig tussen ‘ja’ en ‘nee’ nie, maar telkens ‘n meesterlike verstoring van die balans. Soos ‘n sonsopkoms wat die donkerte verdryf sonder dat die duisternis verdwyn; soos vreugde wat leed oorwin sonder dat pyn ooit ophou om te bestaan; soos wanneer die ‘ja’ sterker klink, maar die ‘nee’ altyd aanwesig is. Kortom: Mozart se musiek wou die werklike lewe met sy gespletenheid en al verklank en die voortdurende beweging van donker na die lig (en nooit omgekeerd nie) musikaal verwoord. Híérin het die onweerstaanbare sjarme van Mozart gelê (Barth 1961:339).
Mozart se eie lewe was egter anders. Min oomblikke van lig, maar baie donkerte. Hy het in armoede gesterf, is by die armes begrawe en tot vandag toe is sy graf onbekend. En tog troos sy musiek nou nog. So is die Adagio van sy heellaaste voltooide werk, die Klarinetkonsert in A, K 622, so aangrypend dat ‘n mens skaars daaroor kan praat. Dié weemoedige klanke van die klarinet roer ‘n mens so diep dat jy niks kan sê nie en net iets van wat Barth gesê het, voel. Mozart het die onaf-kant van die lewe geproe, maar aan die einde het hy ons musiek ‘gegee’ wat ons kan help om anderkant die ellende van die lewe en die dood te kyk (Barth 1986:25-41).
Karl Barth sal altyd ‘n voorbeeld bly. Sy diepgaande eksegese, sy gebruik van die kerkgeskiedenis en die navorsingsgeskiedenis is maar net ‘n paar dinge wat ‘n mens uitdaag en aanspoor. En dan is daar nog iets: die gebruik van die kuns om te kan sê wat ons nie kán sê nie. Na ‘n lewenslange omgang met Mozart het sy musiek gepraat waar Barth se woorde tekort geskiet het.

Slot
Teologie kan dus moeilik sonder die kuns oor God, mens en wêreld praat. Kuns help ons waar ons greep tekort skiet. Kuns gee ons die woorde, die perspektiewe en die insigte wat ons nie andersins sou gehad het nie. Kuns vra ook egter iets van ons: ‘n lewenslange houding van oorgawe aan die grootsheid daarvan en wat dit vir ons wil sê.

Bronnelys 

Busch, E 1976. Karl Barth. His life from letters and autobiographical texts. London: SCM Press.
Barth, K 1961. Die Lehre von der Schöpfung, KD, III/3. Zürich: EVZ-Verlag.
Barth, K 1986. Wolfgang Amadeus Mozart. Grand Rapids: William B. Eerdmans.
Barth, K 1972. Protestant Theology in the Nineteenth Century. London: SCM Press. 

Caputo, J 1997. The prayers and tears of Jacques Derrida. Indianapolis: Indiana University Press.

Kupisch, K 1972. Karl Barth. Baarn: Ten Have.

Share this / Deel hierdie: