Tema: Die besondere wat terug te vind is in die alledaagse.

Teks: Lukas 2:1-7

 

Geliefdes in ons Here Christus.  Kersfees bly vir ons almal ‘n baie spesiale tyd van die jaar.  As kinders het baie van ons opgewondenheid gewentel rondom geskenke en spesiale etes.  Later in ‘n mens se lewe vind jy die spesiale betekenis van Kersfees in die tyd saam met die gesin,  die rustyd wat voorlê,  of iets eie aan jou persoonlikheid.  In die proses van Kersfees spesiaal ervaar,  en spesiaal maak vir ander,  maak ons van Kersfees ‘n fees wat vreugde in mense se lewens wil vestig.  Spesiale wense wat daarop gemik is om die lewe vir ander mense meer draaglik te maak,  is deel van elke groep se pogings tot vrede op aarde vestig.  Die radiostasie 94.7 Highveld se pogings om mense se lewens met geluk te vul,  deur MNET uitgesaai en het ‘n streekradio se pogings nou ‘n nasionale prominensie gekry.  Die vraag wat ons moet beantwoord,  is na die aard van Kersfees.  Is Kersfees waarlik die tyd van geen probleme en geen moeite nie?  Moet ons Kersfees ‘n tyd maak waarin alle mense se probleme opgelos word en menslike bestaan sorgvry en moeitevry moet wees?  Indien ons gaan kyk na die rede vir Kersfees,  vind ons alles behalwe rede tot welbehae in die mens.  Die volkstelling is nie die mees barmhartige van gebeurtenisse nie.  Die keiser wil weet oor hoeveel mense regeer hy en dalk wil hy sommer weet hoeveel belasting kan ingevorder word.  Daar is geen edel welbehae in mense wat maak dat Josef en Maria na Nasaret moet reis nie.  Die mense telling is ‘n aardse administratiewe reëling wat ongerief veroorsaak.  Die resultaat van die ongerief is egter opspraakwekkend.  Ou Testament profesie van Immanuel in Nasaret word werklikheid omdat ‘n aardse regeerder inligting wil bekom.  Dit troos nie vir Maria wat hoogswanger moet reis na Nasaret om daar getel te kan word nie.  Nog minder vind Maria ‘n gemaklike rusplek in Nasaret.  Die reis se ongerief word opgevolg deur die ongerief van beperkte verblyf.  Josef en Maria moet tevrede wees om in ‘n stal te oornag.  Daar in die vreemde,  ver van hulle ondersteuning strukture,  besluit die kleine Jesus dat dit tyd is dat Hy die wêreld moet inkom.  Maria is moeg,  getroumatiseerd omdat sy moes reis,  en miskien is dit juis waarom sy geboorte skenk aan ‘n seun,  sommer daar in die stal.  Al hierdie omstandighede getuig eerder van hartseer,  trauma en ongerief.  Ons sou dit ‘n nagmerrie Kersfees kon noem.  Dit is egter juis in hierdie klein insident in die geskiedenis van die wêreld dat die grootste heil vir die mensdom sy begin het.  Elisabeth Eybers se gedig Maria gee die gebeurtenis en die saad van die toekoms baie mooi weer:

MARIA 

‘n Engel het dit self gebring,

die vreugde-boodksap – en jy het

‘n lofsang tot Gods eer gesing,

Maria, nooi uit Nasaret! 

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink, eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra? 

Toe jy soms met ‘n glimlag langs

jou liggaam stryk. . . . die stilte instaar. . . .

wis jy met hoeveel liefde en angs

sou hý sy hellevaart aanvaar? 

Die nag daar in die stal – geen een

om in jou nood by jou te staan –

het jy geweet dat hy alléén

Getsemane sou binnegaan? 

Toe vorste uit die Ooste kom

om nederig hulde te betoon,

wis jy hoe die sodate hom

as koning van die volk sou kroon? 

En toe hy in jou arms lê,

sy mondjie teen jou volle bors,

het jy geweet dat hy sou sê

toe dit te laat was: Ek het dors!. . . . 

Toe dit verby was, en jy met

sy vriend  Johannes huistoe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy toé die boodskap goed verstaan?

– Elisabeth Eybers-

Jesus se geboorte is die begin van God se uitvoer van die meesterplan wat lei tot vergifnis van sonde.  Die ongerief van Josef en Maria is ondergeskik aan die groot plan,  hulle nagmerrie Kersfees is die vroeë afskadu van dit wat Jesus aan die Kruis sou moes deurleef.  Jesus se lewe en sterwe is daarop gemik sodat ons die ewige lewe kan verkry!  Beteken dit nou dat Kersfees juis ‘n onaangename tyd moet wees?  Die antwoord op die vraag is ‘n wonderlike,  klinkende NEE.  Josef en Maria se ellende is nie ‘n bloudruk vir ons nie.  Dit wat deur Immanuel die wêreld ingebring word,  is waarop ons moet fokus.  Dan vind ons dat daar rede is tot medemenslikheid.  Ons vind inspirasie om ander mense se smart en ellende aan te spreek. Ons doen dit deur die klein dingetjies wat ons doen.  In terme van die menslike verstaan moes die geboorte van Jesus nie vir mense na ‘n groot gebeurtenis gelyk het nie.  Tog kan ons by terugskouing nie anders as om te stel dat dit die grootste geskenk van alle tye was nie-  die kleine Jesus.  Die liefde en genade wat Hy betoon het,  waarvan Hy die toonbeeld is,  lei ons tot medemenslikheid op kleiner skaal van menslike bestaan.  Geen mens weet hoe groot die boom van genade gaan groei by die plant van die saad nie.  Tog staan ons soms verstom in ons terugkyk juis oor die groot uitwerking van klein gebare van liefde en genade.  Kersfees vul ons met vrede en roep ons daartoe om in dit wat ons doen,  ook vrede in ander mense se lewens te bring.  Kersfees is ‘n tyd van pogings tot wense vervul in menslike konteks,  om ‘n beter wêreld te skep vir die mense rondom ons.  Dit word nie gedoen deur grootse,  opspraakwekkende gebare nie,  maar in die klein dade van welwillende liefde.  Die samevloei van vele gebeurtenisse werk saam om heil vir mense te bewerkstellig.  Selfs in ‘n wêreld waarin daar skynbaar geen plek vir die Here is nie,  breek Sy krag deur en is almal,  regeerder en onderdaan,  instrumente in God se hande van genade.  Hierdie positiewe benadering ten opsigte van die klein dinge in die lewe maak ook ‘n aanspraak op ons eie gemoedstoestand.  Dit is duidelik uit die verhaal van Jesus dat selfs die kleinste van beginne,  die mees nederige van plekke,  geoormerk kan wees vir groot resultate.  Die kruis herinner ons dat selfs die skynbaar grootste vernedering,  deur God omskep kan word in ‘n oorwinning.

Share this / Deel hierdie: