Wat is ’n dogmatiese proposisie?

Uitsprake in die Geloofsbelydenis van Nicea kom voor in die vorm van proposisies.  ’n Proposisie is ’n uitspraak wat geldigheid het vir ‘n groot groep mense.  Dogmatiese proposisies verwoord egter nie noodwendig iets wat ’n individuele gelowige persoonlik as eie oortuiging ervaar nie.  Mense kan dit in kerke se diensboeke lees, liturge in eredienste dit hoor uitspreek of dit selfs as deel van die kerklied sing sonder om self die saak wat deur die die proposisie uitgedruk word as eie geloofsgoed te beleef.  Om saam met die kerk en soos die kerk te bely vra ’n toeeiening van die saak wat in die belydenis uitgedruk word.  Tog wil ons graag aanvaar dat, ver terug in die wordingsgeskiedenis van die dogma, die saak wat in die belydenis van die dogma uitgedruk word, wel op grond van die godsdienstige ervaring van gelowiges in interaksie met mekaar ontstaan het.

 

Metafore in belydenisse

Dogmas is dus belydenis van geloof uitgedruk in stellings.  Geloof handel oor die verhouding tussen mense en God.  Omdat dogmas die aard van die verhoudings tussen God en mense uitdruk, word metafore in belydenisse gebruik.  Geen mens kan iets oor God se verhouding met mense verwoord sonder om beelde uit die wêreld van mense te gebruik nie.  Metafore is daarom beeldspraak wat sin maak vir mense omdat dit uit ‘n gedeelde historiese konteks kom en uitdrukking is van daardie mense se belewenis van die werklikheid.  Ons wat vandag die Geloofsbelydenis van Nicea oor sê, lewe egter in ‘n ander tyd as die vierde eeu toe die vergaderde biskoppe oor bepaalde godsdienstige beeldspraak ooreengekom het.  Hierdie beeldspraak is deur latere konsilies bevestig, maar dit weerspieël raakpunte met ander geloofsbelydenisse wat reeds vroeër opgestel is terwyl sommige metafore uit die Bybel geneem is.  Histories gesien is dit ’n vraag of die metafore altyd dieselfde verstaan is, want die historiese kontekste waarin dit telkens oorgeneem is, het oor etlike honderde jare verander.

’n Gelowige kan instemming met die presiese bewoording van ’n dogmatiese proposisie hê, indien die metafore wat daarin vervat is, steeds vir die belyer, wat nou in ’n ander tyd en konteks lewe, dieselfde betekenis het as toe die belydenis ontstaan het.  Daar is metafore wat hulle funksie oor lang tye en in verskillende kulturele kontekste behou.  Andere se funksie gaan verlore, wysig of kan behoue bly maar sosiaal onaanvaar word omdat die kulturele konteks verander het.  Dit is ook moontlik dat eksegese kan uitwys dat die “leer” wat in die belydenis uitgedruk word, nie met die evangelie ooreenstem nie.  As dit die kern van die kerk se geloofsbelydenis raak, veral wat die Hervormde Kerk betref, verwag die kerk dat die eksegeet dan op voorgeskrywe wyse die kerk hieroor sal inlig.  Wanneer die funksie van metafore in dogmas verval, wysig of onaanvaarbaar word, beteken dit nie noodwendig dat die SAAK wat die dogma verwoord, noodwendig verval of onaanvaarbaar word nie.  In belydenisinterpretasie behoort die baba dus nie met die badwater weggegooi te word nie.  Die eksegese van dogmas kan help om uit te vind hoe die klassieke belydenisse steeds singewend ervaar kan word.  Soms sal dit nodig wees dat eietydse metafore ingespan moet word.

 

Hemelvaart

Vandag se gelowiges lewe in ’n wêreld waar “hemel” en “reise na die hemel” nie meer dieselfde betekenis het as vir mense in die leefwêreld van óf die Bybel of die vierde eeu nC toe die Geloofsbelydenis van Nicea ontstaan het nie.  Die natuurwetenskap het ons vandag iets van die planetestelsels geleer en dit beteken dat ons nie meer dieselfde oor ’n “hemelvaart” kan dink as Paulus of Lukas of Seneka in die eerste eeu nC nie.  Seneka, ’n befaamde skrywer in dieselfde tyd as Paulus, vertel van die Romeinse keiser Claudius wat na sy dood na die hemel daarbo (dit is die “lug”) opgevaar het, vandaaruit teruggeruk is om eerder na die “hel” hieronder (dit is Hades) neer te daal.  Die Griekse evangelie- en handelingeskrywer Lukas, in baie opsigte sterk beïnvloed deur Paulus, vertel weer van Jesus wat voor die oë van sy dissipels in ’n wolk na bo geneem is en dat twee mans in wit klere (engele?) vir hulle sê dat Jesus net so na hulle sal terugkeer soos hulle hom na die hemel sien gaan het.  Paulus skryf in die Romeinebrief:  “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom 8:34).  Dit is hierdie tipe godsdienstige beeldspraak wat in die kerk se belydenis oor Jesus se hemelvaart ego.

 

Vóór en ná Nicea

Die proposisie oor die hemelvaart van Jesus in die Geloofsbelydenis van Nicea bestaan uit drie stellings: Jesus het na die hemel opgevaar; Jesus sit aan die regterhand van die Vader; Jesus tree in vir ons.  Die laaste twee sluit direk aan by Paulus se uitspraak in Romeine 8:34.  Ook die eerste een, die opvaar na die hemel, kom by Paulus voor – hoewel in ander woorde.   In Romeine 1:3-4 skryf Paulus dat Jesus op grond van sy opstanding uit die dood as Seun van God gekroon is.  In ’n sekere sin is dit “hemelvaarttaal”.  Net so vind ons “hemelvaarttaal” in Filippense 2:9-11 waar Paulus ’n lied kreatief aanhaal en sê dat God ná die beskamende dood aan die kruis vir Jesus tot die hoogste eer verhef het en dat almal in hemel en aarde Jesus as Here erken tot eer van God die Vader.

Ook ander gelowige skrywers is deur Paulus beïnvloed, soos die skrywers van 1 Petrus (3:22), Handelinge (2:32-36; 5:3; 7:55-56) en die brief aan die Kollossense wat ook getuig van Jesus se gaan sit aan die regterhand van God (Kol 3:1).  Die skrywer van Efesiërs is nie net deur Paulus beïnvloed nie, maar het ook die Kollossensebrief as basis gebruik.  Hierdie skrywer sê: “God het Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan God se regterhand laat sit, hoog bo alle bose magte ….” (Ef 1:20).  Soortgelyke “hemelvaarttaal” kom voor in Matteus (28:18), Openbaringe (onder andere 1:5; 5:13) en Hebreërs (5:5-10).  Dit is veral Handelinge 2:32-36 wat Pauliniese invloed weerspieël, hoewel die wyse waarop Lukas in hierdie gedeelte na die rol van die Heilige Gees verwys, besonder tipies van sy eie teologiese denke is.

Romeine 8:34 lyk, histories gesien, ons vroegste getuienis in die Bybel waar ons die spore van die biskoppe van Nicea se beeldspraak oor Jesus se hemelvaart aantref.  Dit het veral betrekking op die tipiese taalpatroon van Jesus wat eers as Seun deur God gestuur word, neerdaal, tot in die dood en dan deur God opgewek word, verhoog word, tot aan die regterhand van die Vader.  Romeine 8:34 het ook nog die verwysing na Jesus wat vanuit die verhoogde posisie aan die regterhand van God die Vader vir die gelowiges intree (pleit), maar die Geloofsbelydenis van Nicea het nie hierdie aspek oorgeneem nie.  Ons vind dit wel in die Heidelbergse Kategismis (Sondag 18) en by implikasie in die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 26).  Laasgenoemde koppel die “pleitdooi” van Jesus vir gelowiges (intercessio) aan die “hemelvaarttaal” wat in die Hebreërbrief aangetref word. ’n Mens kan redeneer dat die daaropvolgende proposisie in die Geloofsbelydenis van Nicea (net soos dié in Geloofsbelydenis van Atanasius) oor die wederkoms en die oordeel die intercessio insluit.  Die Heidelbergse Kategismus maak wel hierdie direkte koppeling.

 

Self meen ek dat ons nie die Pauliniese metafoor van Jesus se verhoging behoort los te maak van sy gaan sit aan die Vader se regterhand nie, veral nie as ons vra na die betekenis van hierdie godsdienstige beeldspraak in die Geloofsbelydenis van Nicea nie.  Die 318 biskoppe wat in 325 nC die Konsilie van Nicea uitgemaak het, het nie aanvanklik die metafoor van die Here se “gaan sit aan die Vader se regterhand” tot die fomule oor die hemelvaart toegevoeg nie.  In 381 nC het 150 biskoppe in Konstantinopel bymekaar gekom om die Geloofsbelydenis van Nicea finaal vorm te gee en dit is by die Konsilie van Chalcedon in 451 herbevestig.  In die latere vorm is die metafoor “gaan sit aan die regterhand van die Vader” toegevoeg.  Die ander wysigings hou hoofsaaklik verband met die verskille oor die wesensaard van die verhouding tussen die Seun en die Vader.

Henry Bettenson skryf in sy versameling van vroegkerklike dokumente (Documents of the Christian Church, bl 41): “The decisions of Nicaea were really the work of a minority, and they were misunderstood and disliked by many who were not adherents of Arius.  In particular the terms ek tes ousias [“vanuit die geestelike wese” van die Vader] and homousios [hoewel in eksistensie onderskeidend, “dieselfde wese” deelagtig as die Vader”] aroused opposition, on the grounds that they were unscriptural, novel, tending to Sabellianism (taking ousia in the sense of particualr reality … [en nie as geestelike wese nie]) and erroneous metaphysically.”  Dit wil vir my lyk asof die besondere Pauliniese toevoeging vanuit die “kategetiese notas” van Cirillius van Jerusalem geneem is.  Waarskynlik het die toevoeging die bedoeling gehad het om die ortodokse Nikeaanse tweenatureleer met betrekking tot die verstaan van die uitdrukking homousios te ondersteun.

 

Paulus

Daar is ’n tydsverskil van meer as driehonderd jaar tussen die Konsilie van Konstantinopel en Paulus se skrywe aan die gemeente in Rome.  In Romeine 8:33-34 lees ons: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?  God self spreek hulle vry.  Wie kan ons veroordeel?  Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit; Hy is uit die dood opgewek.  Hy sit aan die regterhand van God.  Hy pleit vir ons.”  Dit lyk my dat Paulus geïnteresseerd was in die vraag oor waarop dit aankom dat gelowiges Jesus Christus as Verlosser het.

Volgens Paulus is die eindigheid van die mens en die skepping asook die sonde en die dood die werklikheid waarbinne mense lewe – en dit sluit trauma van allerlei aard in.  Maar die oneindigheid is eintlik die essensie van bestaan.  Die verlange na verlossing is die soeke na oneindigheid.  Om verlos te wees veronderstel ’n lewe wat nie beheers word deur wat menslik of deel van die skepping is nie, maar deur God se Gees.  Só ’n lewe kom neer op ’n sinvolle en singewende bestaan voor God (dit wil sê in liefdevolle diens aan God en mekaar) te midde van trauma en ten spyte van dood  – in die lewe vóór die dood en ná die dood.  Paulus vra (Rom 7:24):  “ Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?  Aan God die dank!  God doen dit deur Jesus Christus ons Here.”  Gelowiges is bestem om “gelykvormig te wees aan die beeld van God se Seun.”  Paulus sê: “Julle is een met Christus Jesus” (Rom 6:11) en op ’n ander plek: “Dieselfde gedagte moet by julle aanwesig wees as wat in Christus Jesus was” (Filip 2:5).

Vir Paulus is verkondiging van die dood van Jesus Christus, sy opstanding, sy verhoging, sy gaan sit aan die regterhand van die Vader en sy pleidooi vir gelowiges uitdrukking van sy dank aan God dat God deur Jesus Christus ons Here gelowiges van hulle doodsbestaan verlos het.  Die Ou Testament het vir Paulus die agtergrond gebied in terme waarvan hy sy beeldspraak gebruik het.  Psalm 110 praat van ’n messiaanse koning wat gaan sit aan God se regterhand om daardeur die onderwerping van vyandige magte te demonstreer.  Daniël 7 praat van ’n figuur soos ’n mens wat op die wolke verskyn en met goddelike gesag alles beheer om sodoende vir die lydende volk van God oorwinning te bied.  In Egipte vind ons replikas vanuit die farao-wêreld waar standbeelde van die farao en sy seun (of vrou) aan sy regterhand uitgebeeld word.  Hierdie ereposisie toon dat die seun (of koningin) die hoogste eer ontvang het. In die Grieks-Romeinse wêreld lees ons in tragedies of satires van die verhoging of neerdaling van gestorwe keisers.

Vir Paulus is Christus Jesus die Verlosser wat na sy dood met Goddelike gesag verhoog en met heerskappy oor alle vyandige magte geplaas is.  Hierdie magte word genoem ons “verganklikheid”, ons “sonde”, ons “dood”.  In metaforiese taal word beskryf hoe Jesus Christus hierdie magte oorwin het, nou by God vir ons intree om namens gelowiges by God te pleit.  Ons lewe kan vergelyk word met ’n situasie waarin ons in die beskuldigde bank geplaas is waar nie ons nie, maar God ons te midde van verdrukking staande hou sodat alles vir ons ten goede meewerk.  Hierdie “beskuldiging” kan bestaan uit mense wat ons skade doen, omstandighede wat ons seer maak, plekke wat ons bangmaak, dinge soos lyding en dood wat ons liggame aftakel.

 

Liturgiese taal

Ons belydenis oor Jesus se hemelvaart en intrede vir ons word in veral in Openbaring op ’n aangrypende wyse in liturgiese metafore uitgebeeld.  Iets hiervan vind ons ook in die Hebreërbrief.  Net soos in die Efesiërbrief en by Paulus kom die belydenis in Openbaring in liedvorm voor.  Hierdie belydenis is soos in die gebruik in sekere kulture (miskien is Psalm 110 ook ’n voorbeeld daarvan) ’n lofprysing van mense wat by die bewindaanvaarding van ’n nuwe koning hom eer – ’n koning wat volgens verwagting uitkoms op nood bied.

 

Eietydse belydenis

As die dogma oor die hemelvaart in die Geloofsbelydenis van Nicea iets wil sê oor die onlosmaaklike verband ten spyte van die onderskeid tussen Vader en Seun, is die “leer” daarin vervat, myns insiens nie in stryd met die evangelie nie.  Die koppeling van die “onskriftuurlike” woorde ek tes ousias en homousios aan hierdie spesifieke proposisie hoef ook nie hinder nie.  Die belangrikste in hierdie belydenis is egter die ervaring van geloof.  In ons natuurwetenskaplike wêreld van ruimtereise wat alledaags geword het sodat die metafoor “hemel” as spesifieke ruimte nie meer funksioneel is nie, behoort die vraag te wees: is ons belydenis oor Jesus se hemelvaart werklik ’n lofprysing wat vanuit ons hart kom, omdat ons die Bybelse inhoud daarvan konkreet uitleef?

Die saak waarom dit gaan, is dat ons troos vir lewe en sterwe daaruit bestaan dat ons aan Jesus Christus behoort.  Dit is elke geslag van gelowiges se keuse om self te besluit watter funksionele beeldspraak hulle gaan gebruik om die oortuiging te bely dat God dit doen deur Jesus Christus ons Here.

Share this / Deel hierdie: