Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se 2008-bekronings in Stellenbosch

Die berig in teo.co.za oor die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se commendatio rakende die bekroning van prof Andries van Aarde, bied ’n verdere geleentheid om die bekroningsfunksie op Vrydag 20 Junie 2008 in die H.B. Thom-teater van die Universiteit van Stellenbosch op rekord te plaas.

 

Die seremoniemeester van die bekroningsplegtigheid was die voorsitter van die Wes-Kaap se Werkgemeenskap, prof Wessel Pienaar. Die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, prof Russel Botman, het opgetree as gasheer en die pryse was deur die voorsitter van die Akademie, prof Hennie van Coller, oorhandig. Na die opening deur prof Pieter Coertzen, emeritus Matie-teologieprofessor, en die verwelkoming deur prof Botman, is die prysoorhandiging voorafgegaan deur ‘n pragoptrede van die ComArt-Koor onder leiding van prof Virginia Davids van die Universiteit van Kaapstad. Die Community Arts Association is ‘n vereniging vir gemeenskapsdiens van en vir Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte.

 

Dit was ‘n lang aand en die goeie wyn en onthaal kon eers laat geniet word. Interessante mense is bekroon. Onder hulle was die beskeie Koos Roets wat die erepenning vir televisiedramas in Afrikaans ontvang het, asook die veelsydige akteur Antoinette Kellermann, wat met die erepenning vir toneel- en verhooogkuns en die Gerhard Beukesprys vereer is. Die bekronings het gewissel van prestasies op die skryf van kortverhale, die ontwikkeling van statistiek-kurrikula, die vervaardiging van noodsaaklike en bekostigbare antiretrovirale medikasie, teologie, die ontwikkeling van die Genadendal Sendingmuseum, die omgewingswetenskap, die prestasie om ‘n buitengewone onderwyser te wees, die broeigedrag van voëlspesies, die bydrae tot goud- en die brandstof-uit-steenkool-industrieë, mikrogolf-elektronika-aktwiteit, ’n suksesvolle mikroleningsbedryf, spermmorfologie en die vervulling van mense se droom om kinders groot te maak, poësie en ’n erelidmaatskaptoekenning. Laasgenoemde is die SA Akademie se belangrikste toekenning. Dr Rein Arndt, voorheen visepresident van die WNNR en president van die SNO, het op 20 Junie 2008 hierdie eer ontvang.

 

Beide die aand se gehoor en ervarings was gemeng – vanaf die eerlike gebed uit die hart én die lees in die opening uit Psalm 16 se woorde “’n pragtige deel is vir my afgemeet; ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi” asook “die afgode in die land, so aantreklik vir baie, met hulle wil ek niks te doen hê nie; mag elkeen wat ’n ander god vereer, baie smart beleef”, tot by die lede en optrede van ComArt-Koor asook die hoogtepunt met die toekenning van die Hertzogprys.

 

Inderdaad, dit was Breyten Breytenbach se aand, want daarvoor het SABC se televisiekameras en -nuuslesers gewag. Dit is daarom nogal vreemd dat die borg van die Hertzog- en Eugène Maraisprys, Rapport, die Sondag na die twee aande tevore, nie nuus hieroor berig het nie. Of spreek dit boekdele? – gedagtig aan Elna Boesak se grief en dapper brief oor etiek in die joernalistiek wat die vorige maand in Rapport verskyn het. Breyten is vereer vir sy poësie in sy bundel Die Windvanger. Sy “antwoord” met die titel “O volk, meneer” is wel in onder andere die “Bylae” by Die Burger en Beeld van 28 Junie 2008 gepubliseer.

 

Net soos die Bybelse “goeie tyding” aan gelowiges vanuit die agterna-perspektief van Jesus se dood geïnterpreteer behoort te word, kan ook Breyten se dankie-sê-woord teen die agtergrond van sy sluitende gedig “die onvoltooide vers” en “drie kwatryne” verstaan word. Die refrein “lyke, lyke, lyke” val op. Waarskynlik moet hierdie laaste kwatryne oor die dood as ‘n boodskap van hoop gelees word. Bybels-teologies gesien, is dit eskatologies. Die “laaste dinge” bied hoop vir desperate mense wat op die rand van wanhoop in die hier-en-nou van die beloofde, maar ge-offerde land, probeer bestaan. So was dit ook die klaarblyklike bedoeling van Paulus se boodskap aan die Korintiërs toe hy vir hulle geskryf het dat hy tegelyk die dood en die lewe in sy lyf saam dra; op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie; gekruisig maar lewe! Breyten het juis vroeër in sy waarderingsrede die woorde “ons ken net ten dele” vanuit 1 Korintiërs 13 aangehaal:

 

1.

hy wat aanhou skyfel teen die dood

kry ’n oumanslyf gevrug in die woord –

maar die voëltjies van verganklikheid

sit kwetter reeds in die gedigteboord

2.

ek ken die dood

ons kom al sestig jaar saam

nou nog, wanneer ek vry na die self in die spieël

spel ek elke keer haar verblindende naam

3.

anderdag was ek jonk en fier

die hand vol woorde en ’n mooi gesig –

nou word my vel soos brandende papier

en elke dag is koggelend ‘n gedig

 

Breyten se bitter herinneringe, verwoord met “die stank van onthou”, en sy onaangename ervaring van die Suid-Afrika van nou, uitgedruk met “om hierdie land uit die geheue te verban”, het die uitgesoekte gaste in die volgepakte H.B. Thom-teater aangegryp toe hy met afgemete retoriek in bykans lakoniese parodie ’n kritiese selfgesprek met “Breyten Bitterbek, Buiteboer, Lawaaimaker” gevoer het.

 

Was hy, die diaspora-boer in Frankryk, skynheilig deur die Suid-Afrikaanse Akademie se erkenning en die geld van borge van Suid-Afrikaanse besighede soos Sanlam, ABSA en die sondagkoerant Rapport te aanvaar? En wat van ander, soos proff Lina Spies en Andries van Aarde wat vroeërjare as lede van die SA Akademie bedank het, of Allan Boesak wat nog nooit genooi was om lid te word nie, en Elna Boesak wat so baie onlangs nog dapper teen onaanvaarbare joernalistieke etiek geprotesteer het, en wel as gaste dié aand teenwoordig was? Die vraag oor vir wie die skoen eintlik pas, het Breyten sonder omhaal van woorde wel dié aand gevra en – sal ’n mens selfs kan sê – nog baie meer direk tussen die reëls van konvensionele en onkonvensionele sinne.

 

Wat vir almal duidelik moes geword het, was dat hy die “buiteboer” tog so goed weet hoe daar op ons plaas in Afrika geboer word – of hulle laaste naam “Hambidge”of “Maas” of “Kombuis” is, of ’n filosofie lesende Mbeki of masjiengeweer Zuma. En ’n mens sou ook kon dink aan die blindelingse volgelinge wat die week daarna belowe het om nooit weer te sê “ek wil moor nie!”. Wat nodig is, sê Breyten, is “opstand”, “op elke denkbare manier en plek”, want dit is net “moord en doodslag”, “waar ’n mens jou ook draai”. As “moor” dan nie “moor” beteken nie, wat kan “opstand” dan alles beteken?

 

Dié “comrade buiteboer” meen om met sy prysgeld ‘n plaas in Zimbabwe te koop en klaarblyklik met “regstelling” in gedagte, meen hy om die huidige president van die land vir ’n “aftreejoppie” as plaasbestuurder vir hóm, die whitey dáár, aan te stel. Hy, die seun van die Paarl, gaan binnekort vra om as black herklassifiseer te word. Hy is mos al hoeka met ’n “ere-Shinees” getroud – herinner hy sy gehoor. Onder die foto’s in Die Burger by die berig oor die dankie-sê-woord is daar ook dié wat herinner aan sy verhoor oor sy liefde vir Yolande, met erkenning aan onder andere Rapport! Wie is daar dan nog wat nie wil bely oor die verlede in ons land en oor die verlede in die eie lewe nie?

 

Praat van bely, Breyten het wel dié aand bely. Hy sê in die openbaar vir almal om te hoor dat hy jammer is dat hy nog nie reg aan sy “bruin broers” in hierdie land laat geskied nie. Het hy dalk óók aan die SA Akademie gedink? Profeties dra hy daarom sý Hertzogprys aan sy “broer” Adam Small op. 2009 is die SA Akademie se eeufeesjaar. ‘n Mens wonder wie dan die Hertzogprys vir poësie gaan ontvang.

 

Oor openbare belydenis oor apartheid gepraat (of om dit te weier), laat ons nog nader, tot op die voorstoep van die eie kerk, kom. Kom ons praat oor die Van Drimmelenmedalje vir die bevordering van Afrikaans op die gebied van die “godsdiens” – waarskynlik bedoelende ook die teologie. Wie sou hierdie ds Pieter van Drimmelen kon wees? Die SA Akademie se argief weet nie vandag nie. Dit was buitendien ’n professor Van Drimmelen en dié se seun, doktor Van Drimmelen, wat die prys in die laat-sewenigerjare vir die Akademie moontlik gemaak het. Het hulle dit na hulle voorvader dominee Pieter van Drimmelen vernoem? Daar was vroeër jare so ’n predikant in die Hervormde Kerk. Kon ds Pieter van Drimmelen, na wie die Akademie se medalje vernoem is, ’n Hervormer wees? Dit was wel ’n Hervormer, prof Andries van Aarde, wat vanjaar die medalje ontvang het – die tweede keer wat dit ’n Hervormer te beurt val. Prof Bart Oberholzer is die eerste een op grond van sy groot rol in die vertaling van die Bybel in Afrikaans.

 

Dir SA Akademie het prof Elna Mouton, dekaan van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Stellenbosch, ’n vriendin en een van prof Van Aarde se gaste vir die aand, gevra om die commendatio ter ere van prof Van Aarde voor te lees. Sy het ongelukkig siek geword en die SA Akademie moes op een van prof Van Aarde se vriende, wat as gaste teenwoordig was, besluit. Hulle was prof Pieter en mev Susan de Villiers, buitengewone professor in Spiritualiteit verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, Dr Allan en mev Elna Boesak, moderator van die VGK, Prof en mev Johan en Engela Buitendag, sistematiese teoloog en adjunkdekaan van UP se teologiese fakulteit, prof Yolanda Dreyer, praktiese teoloog aan UP, en emeritus-professor Lina Spies van Stellenbosch, beroemd vir haar poësie, psalmberyming en so pas die vertaler in Afrikaans van Anne Frank se dagboek Die Agterhuis. Die keuse was goed, want dit was kollega en vriend, prof Johan Buitendag, wat die commendatio voorgedra het. Die Akademie het prof Van Aarde se student en opvolger aan die Universiteit van Pretoria, prof Ernest van Eck, versoek om die commendatio te skryf.

 

Prof Andries van Aarde se antwoord op die ontvangs van die prys was een minuut lank, soos die voorskrif vir die program bepaal het. Hy het uit die vuis, maar uit die hart gepraat. Vriende het daarna gevra dat dit op skrif gestel word. Meer uitgebreid kom die agtergrond en inhoud van sy dankwoord op die volgende neer:

 

“Geagte prof Buitendag, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Akademielede, dames en here, my dank vir die toekenning van die Van Drimmelenmedalje bestaan uit vier dele.

 

In die eerste plek spruit my dankbaarheid voort uit die feit dat die SA Akademie in ‘n tyd wat al lank reeds deur die gees van sekularisasie beïnvloed word, steeds onder soveel wetenskappe ‘n toekenning in die kategorie godsdiens maak.

 

’n Ander woord vir sekularisasie is verwêreldliking. Dit verwys na ‘n bepaalde reaksionêre tydsgees. Die omverwerping van koningshuise as die direkte gevolg van die ontwaking van kritiese filosofie en die nawerking van die Franse Revolusie, asook die oplewing van kuns en musiek en die geboorte van die Romantiek as geestesbeweging, en nog veel meer, het daartoe gelei dat die kerk as instelling gesag verloor het. Die ironiese was dat, voor die opkoms van demokrasieë, veral priesters en die kerk as instelling koninklikes en ander maghebbers ondersteun het en die basis gelê het van waar kruistogte begin is en skrikbewind gevoer is. Sekularisasie het as reaksie op die verwerping van die gesag van die kerk gevolg. Wat vir so lank vanselfprekend was, naamlik dat die kerk op alle sfere van die lewe die laaste sê gehad het, het volledig omgekeer. Die wysers van die tydshorlosie het as ’t ware rondomtalie gedraai deurdat mense godsdiens as primitief en eiebelangsoekerig begin reken het. Godsdiens is selfs gesien as opium wat tiranne vir die massas ingee deur met argaïese mites oor sonde, oordeel en hel mense vreesbevange en gedweë te maak, sodat hulle nie net verouderde dogmas sonder teenspraak aanvaar nie maar deur dit te doen, eintlik maghebbers se belange dien. Aan die einde van die proses van die aftakeling van die kerk se gesag het daar by kritiese filosowe nog één versugting bly eggo. Sekularisasie het nog ‘n laaste rekening om te betaal – en dit is om volledig van die kerk as instituut afskeid te neem! Dit is hierdie tyd wat ons die sekulêre eeu begin noem het.

 

Dit is daarom in nasionale akademies wêreldwyd beslis nie vanselfsprekend dat die studie van godsdiens deesdae as wetenskap gereken word en selfs bekroon word nie. Waar dit wel gebeur, is dit die wetenskaplike gemeenskap van teoloë wat ’n selfstandige akademiese dissipline vorm en pryswenners in-huis bekroon. So byvoorbeeld, het die American Academy of Religion (AAR) vir professor Charles Taylor vanjaar vereer met die belangrike Templeton-prys vir sy boek, The secular age, wat in 2007 deur Harvard University Press gepubliseer is. In hierdie boek beklemtoon Taylor ’n bekende maar steeds verbasende godsdienstige verskynsel. Dit is naamlik dat bykans ’n ganse mensdom – ten minste in die eerstekontinentale westerse wêreld – in godsdientige oortuiging radikaal verander het sedert die Renaissaince en veral die Franse Revolusie.

 

Voorheen het mense naïef teïsties gedink en geleef, en hulle geloof in God kan as konfessionalisties-fideïsties beskryf word. Dit beteken dat mense gedink het dat God en Satan in metafisiese ruimtes leef en die kerk en die kosmos van buite – eintlik van bó – beheer. Wanneer die Transendente die mensdom se natuurlike, fisiese (ekologiese) ruimte betree, word dié bonatuurlike optredes op mitiese wyse voorgestel sonder dat die mitologiese aard daarvan erken is. God en Satan is eerder in terme van onder andere dogmas verstaan en genormeerde kultuurgebruike en sosiale konstrukte aan ‘God se wil’ gelyk gestel. Hierdie mistifikasie het spontaan plaasgevind sonder dat daar erken is dat só ‘n soort geloof eintlik ’n geloof in geloof (dogmas) is en nie in God nie.

 

Hier in Afrika het sendelinge van oor die water met hierdie soort “geloof” in die kop – en met die roer in die een hand en die Bybel in die ander – in aller ywer probeer om boorlinge van die hel te red. Dikwels was ‘sendingwerk’ maar kultuurpropaganda en die oordra van Eurosentriese ideale. Net so dikwels was vroom godsdienstige slagspreuke uitings gemeng met ’n verburgerlikte godsdiens, maar in oorredende retoriek geklee met die aanspraak dat dit goddelike sanksie het. Hier te lande het die geskiedenis uitgewys dat sending en kolonialisasie hand aan hand gegaan het – en daarmee nog saam die vertaling van die Bybel. Dit is veral die vertaling van die Bybel wat die SA Akademie in die verlede hoog op die lysie gehad het om vertalers met die Van Drimmelenmedalje te bekroon.

 

Myns insiens het godsdiens egter nie die doel om ’n taal te bevorder nie. Taal is wel ’n belangrike kanaal waardeur godsdienstige energie vloei – of dit taal is waarna met die oor geluister of met die mond gesing of met die hart gebid word. Hierdie energie is ‘n passie en dinamiek wat die evangelie self skep. Dit gebeur met hulle wat die antieke tale waarin die evangelie vir die eerste keer vertel en geskryf is, eerstehands kan lees en ook met hulle wat die evangelie in vertaalde interpretasie lees en hoor. Wetenskaplike nadenke oor die betekenis van hierdie passie geskied ook deur die medium van taal – en dit noem ons teologie. Teologie is dus ook ’n produk van godsdienstige energie. Om godsdienspropaganda egter as onder andere taalpropaganda te reken, is om nie van die versoeking van verburgerlikte natuurgodsdiens bewus te wees en nog minder daarvan verlos te wees nie. In die verlede vir baie jare het die kerk, en die godsdiens, en die teologie, na bevryding gesug. Sekularisasie was die bevrydende gebeure.

 

Hierdie verandering is gebring deur die Renaissaince, die Franse Revolusie en die natuurwetenskap tydens die era van die Verligting. Charles Taylor se pryswennerboek herhaal wat ons lankal weet. Mense het na ’n ander “godsdienstige kondisie” oorbeweeg. Die default waarop hulle begin terugval het, is om óf krities te wees ten opsigte van naïewe, blinde geloof óf om nie meer in die Transendente te glo nie (dus ongeloof). Baie mense bevind hulle by laasgenoemde. Daarom staan hierdie tyd as die “sekulêre eeu” bekend.

 

Weer eens het sake egter nie onveranderd gebly nie. Die postmoderne Franse filosoof Jacques Derrida skryf in die laat fase van sy lewe (in 1996, in Religion, gepubliseer deur Stanford University Press in 1998) dat haas elke koerant deesdae die “terugkeer van religie” verkondig. Derrida wys daarop dat die twee woorde uit die klassieke wat eintlik onvertaalbaar is – ten minste in Frans en Engels – die woorde vir wêreld (saeculum) en godsdiens (religio) is. Dit is van eersgenoemde woord waarvan die woord sekularisasie afgelei is.

 

Sekularisasie se gevolg is nie alléén dat mense vanweë die reg op godsdiensvryheid vir ongeloof as opsie kon begin kies het nie, maar ook die wakker roep van die maklik vergete kritiese insig dat eiebelang agter godsdienstigheid kan wegkruip. Kultuurkritiek veronderstel egter nie noodwendig ’n keuse vir ongeloof of ‘n onttowering van wat wonderbaarlik (awesome) in godsdiens is nie. Sekularisasie beteken nie die einde van die godsdiens nie en selfs ook nie van die kerk as instituut nie. Inteendeel, bogenoemde insig in “onvertaalbaarheid” lei tot die besef van die klassieke waarde van religio, dit wil sê dat godsdiens ‘n sekulêre betekenis kan hê, soos ander dinge uit die klassieke – of dit mites, poësie, prosa, beeldende kuns of musiek is.

 

Die saeculum is die ruimte waar mense se geloof en hulle kultuur wedersyds ontmoetend mekaar beïnvloed. Hoewel geloof en kultuur nie geskei kan word nie, is dit belangrik dat hulle van mekaar onderskei word – het die profete van lank gelede reeds gemaan. Omdat kultuur verleidelik is deur die ego te streel, kan eiebelang gemaklik tot die hoogste goed verhef en godsdiens geweldadig word. Sal die kerk dan nie uit die verlede leer hoe daar institusioneel in die goddelike naam vertrap, geplunder, gebuit, uitgebuit en uitgesluit is nie! Die positiewe gevolg van sekularisasie is dat hierdie geweld nie langer meer ontken en geduld kan word nie.

 

Ontkerkliking en die kritiek op religie het wel gesorg dat teologie in die wêreld van die wetenskappe na die agtergrond geskuif is. Die feit dat ’n nasionale akademie in Suid-Afrika ‘n ‘prys vir godsdiens’ toeken, is egter aanduiding dat godsdiens steeds ’n rol in die wêreld speel. ’n Soortgelyke getuienis geld Noord-Amerika se AAR, hoewel in mindere mate as die SA Akademie omdat dit nie ’n godsdienstige in-huis teologiebekroning soos dié in die VSA is nie. Dit val wel op dat die AAR, ten spyte van die Amerikaners se konstitusionele model om religie en staat van mekaar te probeer skei, ’n Templeton-prys toeken aan iemand wat ‘n boek met die titel The secular age skryf. Daarom behoort die Akademie in Suid-Afrika hierdie boek se tema in gedagte te hou. Dit is naamlik dat die paradigma in kerk en wêreld wat sedert die Franse Revolusie en die Verligting verander het, weer eens geskuif het. Die huidige tydgees is dié van post-sekularisasie.

 

In die tweede plek, is ek dus dankbaar dat die SA Akademie ’n onkonvensionele teoloog soos Andries van Aarde bekroon. Miskien getuig dit daarvan dat u ons tydsgees ken en daarvoor waardering het.

 

In die derde plek, hierdie Akademieprys dien vir my as inspirasie om met die beoefening en die neerskryf van post-sekulêre teologie voort te gaan.

 

In hierdie tyd behoort kritiese teologie nie die doel te dien om daardie religieus-hegemoniese waardes wat sekularisasie – mag God geëer word – vernietig het, te probeer herwin nie. Sedert Jesus van Nasaret is ons vry van die bande van selfgesentreerde eiegeregtigheid en sedert sekularisasie is ons nie meer bang vir die inkwisisie van die kerk of staat as instrument van mag en pyn nie.

 

Sekularisasie het met behulp van denkers in die filosofie, letterkunde en beeldende kunste sigself gewreek teen die geweld wat die kerk as institusionele religieuse magsinstelling teen die godgegewe waardigheid van mense gepleeg het. Hierdie misdaad is met verburgerlikte kultuurteologie vergoeilik. Vandag beoefen teoloë soos ek – dit wil sê ook ons wat uit eie keuse nog deel is van die gevestigde geloofsgemeenskap – in vryheid daardie teologie wat juis vanweë sekularisasie moontlik gemaak is. Ons noem dit ‘publieke teologie’.

 

Post-sekulêre teologie wil nie uitgediende teïsme en fideïsme dien nie. Dit wil nie soos die mafia wees nie. Dit dekonstrueer mag. Dit het nie as agenda ’n stel gedateerde leer- en lewenskwessies wat as ‘n evangeliese inisiatief verkondig word nie. Dit wil nie apologeties of polemies ’n vermeende patentereg op absolute en ewig-geldende dogmas verdedig nie. Dit is nie die heropbou van die ortodoksie nie. Dit is ook nie herlewing van ’n Amerikaans-gedrewe evangelical charismatiese tipe godsdiens wat in oppervlakkige kultuur so populêr geword het nie. In ’n konteks van ekonomiese agteruitgang, misdaad, verlies aan politieke leierskap, onsekerheid vir die toekoms en nie veilig te voel nie, oorval so ’n evangeliese inisiatief en behoudende propaganda mense met ’n versoeking om spiritualiteit met “kinderlike geloof” te verwar. Teen die grein van wat natuurlik en ekologies in die logiese gang van sake gebeur as gevolg van evolusie én die onverantwoordelike misbruik van die natuur deur mense, verwag so ’n naïewe spiritualiteit wonders om teëspoed in voorspoed om te keer. Hierdie naïwiteit is skuldig aan ’n growwe, eiesinnige interpretasie van belangrike uitsprake van Jesus oor goddelike wysheid wat gegee word aan babas wat van moedersmelk leef (Matt 11:25) en oor die waarde van om soos ’n kind te glo (Mark 10:15), wanneer hierdie uitsprake gebruik word om wetenskaplike teologie maklik-maklik af te maak en as die deurmekaarpratery van hedendaagse skrifgeleerdes te verdoem. Dit is egter juis daardie teoloë wat op grond van hulle kritiese wetenskap ons kan vertel wat dit beteken om by ‘n ‘tweede naïwiteit’ uit te kom. In hulle lewe kan jy ’n singewende spiritualiteit ervaar, omdat hulle lewe van ’n ‘groter’ wonder getuig as daardie ‘wonders’ wat teen die grein van die natuur ingaan. Dit is die wonder wat net God moontlik maak, die genade om te bly glo ten spyte van die werklikheid van menslike onmag, siekte en dood.

 

Post-sekulêre teologie beklemtoon dus wel die verwondering in die godsdiens en die krag van geloof te midde van en ten spyte van pynlike ervarings. Dit wil afskeid neem van dogmatisme maar wil wat die klassieke betref, dit wat relevante waarde het, weer eens só ontdek asof dit vir die eerste keer geglo, bely en in erediens gesing word. Op die bes moontlike positiewe noot, beoefen en preek die post-sekulêre teoloog dus die ou-ou evangeliese boodskap van inklusiewe liefde en staan geweld teen. Binne ’n gesekulariseerde samelewing, vir sommige ’n wêreld volledig vry van godsdiens en vir ander ’n wêreld hernu met ’n nuwe soort spiritualiteit, wil ek met my ‘onkonvensionele’ teologie ’n bydrae maak dat die Christelike geloof sal bly voortbestaan, maar dan bevry uit die boeie van die teïsme.

 

Ten slotte, in die vierde plek, bedank ek my vriende omdat hulle vir my ’n gemeenskap vorm wat deur liefde gebind word, en daarom vir mekaar ruimte bied om in vryheid onkonvensionele maar relevante teologie te beoefen en te preek – daardie post-sekulêre geloof wie se soort teologie vanaand bekroon word. Ek dank u”.

 

Prof Andries van Aarde (honorêre professor, UP), Vrydag 20 Junie 2008, Universiteit van Stellenbosch.

Share this / Deel hierdie: