In sy outobiografiese vertelling skryf Elie Wiesel (nobelpryswenner vir vrede in 1986), wat die vernietigingskampe Auschwitz en Buchenwald as tiener oorleef het, die volgende nadat hulle weereens die moord op ‘n mede-kampgenoot moes aanskou het:

I no longer pleaded for anything. I was no longer able to lament. On the contrary, I felt very strong. I was the accuser, God the accused. My eyes had opened and I was alone, terribly alone in a world without God, without man. Without love or mercy. I was nothing but ashes now, but I felt myself to be stronger than this Almighty to whom my life had been bound for so long. In the midst of these men assembled for prayer, I felt like an observer, a stranger (p. 68).

Elke mens kan waarskynlik saamstem met die volgende antropologiese uitgangspunt: pyn, trane en verdriet vergesel die mens – elke mens – vanaf die wieg tot by die graf. Indien ‘n mens iets wil soek wat alle mense deel, sal ons in elk geval pyn en verdriet hierby moet insluit. Die weerbarstigheid van die natuur, asook lyding en dood, is daardie gegewe wat ons telkens weer teen die grense van menslik outonomie laat stuit. Maar ook ellende, vervolging, honger, en allerlei vorms van ongeregtigheid, bied aan ons voldoende rede om ‘n klag aan te hef vir verandering.

 

Teenoor die siviele lewe wat oorloop van klagtes/aanklagte, is daar in die religieuse domein selde indien ooit sprake hiervan. Wanneer word ‘n klag/klaaglied tot God gerig? Daar was en is nog altyd mense gewees wat as deel van hulle persoonlike vroomheid met God in ‘n stryd betrokke was. By uitstek is die Eerste Testament hiervan ‘n getuie. Volgens Claus Westermann is die klag/klaaglied in die Eerste Testament onlosmaaklik deel van die hele gebeure van gebed: dit blyk duidelik uit die Psalter, waarin die klaagpsalms meer as die helte van die tekste beslaan. In die Christelike kerk is daar egter min of geen ruimte vir die klaaglied oor. Dit lyk asof dit ongemerk en ongesiens uit die gebedslewe van die kerk verdwyn het. En hieroor swyg predikante en teoloë. Dalk pas die klag nie goed in by die beeld van die gelowige, wat maar so dikwels vir ons voorgehou word as iemand wat met ‘n jubelende triomfalisme sy/haar spiritualiteit moet beoefen nie? Of wat net moet jubel in sy/haar gevoel van “magtigheid”?

 

Die klag/klaaglied en aanklag as ‘n vorm van gebed behoort tot die Bybelse erfgoed van beide Jode en Christene. Indien ‘n mens hierdie erfgoed nie wil aanvaar nie, moet ‘n mens ten minste bewus wees wat jy doen en waarvan jy wil afstand doen. Indien hierdie anti-getuienis van die Bybel verdring word, dan kry die beeld van God eensydige trekke en emigreer die klag na die wêreld van die literatuur, musiek en kuns.

 

Hierdie ingesteldheid kom neer op ‘n baie eensydige verwerking van die Eerste Testament. Dink maar byvoorbeeld aan die volgende woorde in die boek Jeremia: “U het my mislei, Here, en ek my laat mislei. U was te sterk vir my, U het gewen. Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my …. Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het; mag die dag altyd sonder seën wees. Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: ‘Jy het ‘n seun’, ‘n berig wat hom baie bly gemaak het. Mag dit met daardie man gaan soos met die stede wat so genadeloos deur die Here verwoes is, mag daardie man angskrete hoor in die môre, oorlogskrete op die helder middag, omdat hy my nie doodgemaak het voor ek gebore is, sodat my ma my graf kon gewees het en sy nooit in kraam kon kom nie. Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef, en my lewe lank verneder te word?” (Jer 20:7, 14-18).

 

Die begeerte om te sterf tref ons ook byna woordeliks aan in Job 3, waar Job – heel anders as die beskouing van die ‘geduldige’ Job – eintlik ‘n groot rebel is, wat homself met sy hele wese teen God se oormag verset. Al wat hom nog aan die lewe bind, is sy klagtes en aanklagte wat aan God gerig is. Hy voel nie hyself nie, maar God is verantwoordelik vir sy lyding (16:11-14, vgl Klaagliedere 3:12). Of ‘n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou (9:22).

 

In die verhale oor die lewe van Jesus van Nasaret lees ons van sy worstelinge met God, asook sy klagtes gerig tot Hom. Terwyl hy homself in die tuin van Getsemane afgesonder het, het hy in doodsangs geraak en sy sweet het soos bloeddruppels geword (Luk 22:44). In sy sterwensuur roep hy uit tot God: “my God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mark 15:34).

 

Die enkele voorbeelde van Jeremia, Job en Jesus van Nasaret dui vir ons dat die klag/klaaglied/aanklag geen ontkenning of selfs verloëning van God beteken nie, maar dat dit juis die teenoorgestelde impliseer. Dit beteken om die verhouding tot God, ten spyte van die ekstreemste vorms van bedreiging, lewend te hou. Ten diepste is die Bybelse klag ‘n uitdrukking van ‘n dramatiese verhouding, wat soos elke menslike verhouding ook hoogte- en laagtepunte ken: nabyheid en afstand, ‘n geveg om erkenning en hulp, selfs ‘n gevoel van eensaamheid en verlatenheid maak ook deel hiervan uit. Hierdie geveg en worsteling met God is egter daardie dimensie wat die gelowige mens die meeste verdring of onderdruk het.

 

Om te kla oor die onreg en ongeregtighede van hierdie wêreld beteken egter juis om vas te hou aan God as die verbondspartner van die mens, aan sy beloftes en verpligtinge teenoor ons. Hierdie soort klagtes neem daarom die grootheid van God ernstig op. Om te swyg, sou dus eerder godslasterlik wees.

 

Bibliografie

– Berges, U 2001 Zwijgen is zilver – klagen is goud: pleidooi voor een herontdekking van het bijbelse klagen. Tijdschrift voor Theologie 41/3, 231-252.

– Berges, U 2003. Schweigen ist Silber – Klagen ist Gold. Das Drama der Gottesbeziehung aus alttestamentlicher Sicht mit einer Auslegung zu Ps 88. Münster: Lit-Verlag. (SEThV 1).
– De Vos, C 2005. Klage als Gotteslob aus der Tiefe. Der Mensch vor Gott in den individuellen Klagepsalmen. Tübingen: Mohr Siebeck (FAT 2/11).

– Westermann, C 1977 (5. Auflage). Lob und Klage in den Psalmen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
– Wiesel, E 1985. Night (Translated from the French by Marion Wiesel: La Nuit). New York:  Hill and Wang.

Share this / Deel hierdie: