Die tema “godsdiensvernuwing” is die afgelope drie jaar gewild, soos wat die besef al wyer deurskemer dat godsdiens nie aan die taan is, soos wat vir die grootste gedeelte van die vorige eeu deur geleerdes gemeen is dit sou nie. Inteendeel. Die oplewing in godsdienstigheid en in godsdiensbelangstelling is egter nie ‘n terugkeer na voor-moderne geloofsvorme nie – met die uitsondering van (heel geromantiseerde) antieke volks- en streeksgodsdienste wat klein groepies aanhangers vind. Godsdiens kom eerder meestal nuut na vore. Hierdie ontwikkeling is ‘n vrugbare studieveld vir beide die teologiese en die sosiale wetenskappe. Opmerklik is egter hoe moeilik dit is vir akademici binne dié twee breë velde om mekaar werklik te verstaan – hier sal nog heelwat intellektuele skaafwerk moet gebeur, om mekaar goed na waarde te skat.

Estland is die mees noordelike van die drie Baltiese lande – Estland, Letland en Litaue (= “Estonia, Latvia and Lithuania”). Hierdie drie piepklein landjies het ‘n paar gedeelde eienskappe wat hulle besonder interessante studievelde oor godsdiens maak. Hierdie is al drie baie ou kulture, meestal met geskiedenisse van onderdrukking (met vir ‘n tyd lank die uitsondering van Litaue, wat gedurende die 12de tot 14de eeue ‘n groot ryk was). Hulle latere Christelike geskiedenisse het uitgeloop op Katolieke, Ortodokse en Lutherse streke. Daaraan is egter formeel en drasties ‘n einde gemaak toe hierdie drie lande hulleself teen die verwagting in direk na die Tweede Wêreldoorlog skielik onder Sowjetbewind bevind het. Rofweg ‘n halfeeu later, rondom die tyd van die val van die Berlynmuur in 1989, het amptelike ateïsme hier plek gemaak vir ‘n nuwe soeke na godsdienstigheid. Aan die een kant was (wat oor was van) die kerk geheel onvoorbereid om dié onverwagte stuwing te hanteer; aan die ander kant het charismatiese sendingprojekte blitsig ‘n nuwe soort Christelikheid ingevoer. Na ‘n dekade of wat het van die “bekeerlinge” hulle weg terug begin vind na die meer tradisionele vorme van Christelikheid in hulle onderskeie streke. Maar net op ‘n manier: interessant genoeg het – breedweg gesien – Katolieke en Ortodokse streke weer Katoliek en Ortodoks geword. Lutherse streke neig egter om ateïsties te bly. Daarom byvoorbeeld dat die meeste Estlanders, net half lighartig, hulleself as meer ongodsdienstig as selfs die Tjegge wil kaats. Hierdie deling dwing die vraag na vore: is daar dalk iets aan die meer simbolies-georiënteerde uitdrukkings van die Christendom wat daartoe lei dat hulle aangangers ‘n halfeeu se onderdrukking beter kon oorleef as die Protestantisme? Het die Protestantisme iets verloor aan, dalk, diepgang, of moontlik, innerlike belewenis, sodat na ‘n twee tot drie geslagte van ateïsme, nou ‘n geëiende Godloosheid oorbly?

 Hoe dit ookal sy, die kongres het nie sulke breëre vrae probeer beantwoord nie. ‘n Wye verskeidenheid referate het op heelwat verskillende kleiner kwessies ingegaan, die meeste waarvan nie plaaslike sake direk aangeroer het nie. Die werklik internasionale belangstelling in die onderwerp van nuwe godsdienstige uitdrukkingsvorme spreek duidelik uit die lys van referate wat gelewer is. Die kongresprogram kan hier besigtig word.

Share this / Deel hierdie: