Reeds jare gelede is op teo.co.za berig oor die klein maar interessante Baltiese / Noord-Europese land Litaue. In die Litause kusstadjie Klaipeda (voorheen bekend as Memel), een van die min plekke waar die seesand hoorbaar met ‘n mens ‘praat’, is ook onlangs soos selde tevore teologie gepraat. In ‘n klein kongres van 5 tot 6 Februarie vanjaar, met net tien bydraes – met lande soos Suid-Afrika, Litaue, die naburige Letland en Belarus, die VSA, die VK en Duitsland verteenwoordig – is die eerste tree gegee om ‘n groot tema nuut aan te pak: ‘Post-sekulêre verhale: die goddelike in wêreldletterkunde tans’. Die gasheer-instelling was die LCC International University (www.lcc.lt).

Post-sekularisme is naamlik die tans-ontluikende sosiale tendens wêreldwyd waarin godsdiens nóg refleksief bevoordeel word (soos in die pre-moderne tydvak) nóg refleksief gemarginaliseer word (soos in die moderne – en post-moderne eras) in die breëre samelewing. Eerder word geloof stadig maar seker as ‘n alledaags-menslike gegewene aangevoel (kyk bv. Kearney 2010; Habermas 2008:17-29; Taylor 2007). Sommige mense is gelowig en sommige is nie, met elk van dié op verskeie maniere, en met geen van dié godsdienstige oriëntasies wat in die openbare sfeer onverdiende voordeel of nadeel sou inhou nie. ‘Sou’, want hierdie is ‘n kultuurfase onderweg, waarvan die aanvangsimpulse oor die volgende dekades sal ontvou, met rukke en stote.

Een van die maniere waarop hierdie ontluiking (nie ‘n ontwaking in die sin van ‘n herlewing nie, maar eerder in die sin van berusting in die diversiteit) raakgesien kan word, is in verskillende ‘letterkundes’. Met laasgenoemde effens ongemaklike meervoud word bedoel nie net letterkundie in die gewone sin van onder meer romans en gedigte nie, maar ook ander geskrifte waardeur groepe mense breedweg gevorm word. Soos altyd in Spiritualiteitstudies, word dus meteens gelet op die impulse wat op geloofsbesef / geloofsidentiteite inwerk, en hoe dan daaraan uitdrukking gegee word, beide binne individuele – en groepsverbande.

Die openingsreferate het wel op letterkunde in meer tradisionele sin gekonsentreer. Die gesamentlike bydrae van Ilze Jansone (verbonde aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Letland, met behalwe haar navorsingswerk ook vier romans op haar kerfstok) en die uwe het gehandel oor ‘Three three-letter words in three recent novels in three different languages: God, sex and joy’. Die drie werke wat bespreek is, is Fransi Phillips se Die donker god (2007), Inga Žolude se Santa Biblia (2013), en Michel Houellebecq se Soumission (2015; Engelse vertaling Submission), waarin aspekte van geloof telkens op onverwagte maniere ter sprake kom. Geensins vroomheidsromans nie, is nie een van hierdie drie werke ook negatief oor God / godsdiens nie, maar met God / godsdiens wat op onverwagse maniere ‘n sleutelrol in die verhale en tematiek speel. ‘n Tweede bydrae oor letterkunde, ook met ‘n Afrika-inslag, was deur die LCC International University-personeellid Gražina Bielousova, met as tema: ‘Pledging Allegiances, Performing identities: The Role of Religion in the Construction of Post-Colonial Nigeria in Chimamanda Ngozi Adichie’s “Purple Hibiscus”’. Afrika se inherente godsdienstigheid is nooit so breedweg gemarginaliseer soos in die Weste nie, en dit vind in die letterkunde ook op ‘n heel natuurlike manier neerslag, soos weer in hierdie Nigeriese roman van Adicie (2013) gesien kan word.

Volgende was bydraes van twee Amerikaanse personeellede van die gasheerinstelling: Eric Hinderliter en JD Mininger. Eersgnoemde het gepraat oor die befaamde Milan Kundera se nuutste boek (of soos van sy kritici dit noem, boekie), The Festival of Insignificance (2015). Met temas uit Kundera se oeuvre wat op allerlei maniere in dié nuwe publikasie verweef is, behandel hy hier die temas van eindigheid, vergetelheid en die dood op maniere wat sterk herinner aan, direk, die Franse eksistensialistiese filosowe, en indirek, die Ou-Testamentiese Prediker- boek. Iewers bly die mensdom dobber tussen rebellie teen die verganklikheid en, in van die mistieke tradisies, selfs ‘n amperse begeerte daarna. Is sin in of teenoor sinloosheid ooit sinvol?

Vanaf die Mininger-bydrae word die grense oorgeteek na die breëre verstaan van “letterkunde”. In ‘n fyn-oorwoë referaat neem Mininger die rolprent Broken Circle Breakdown, by wyse van spreke, in oënskou. Hy analiseer die rolprent aan die hand van die amor intellectualis dei-tematiek by Spinoza, om te vra na onder andere die belewenisaspek van geloof. Belewenis is juis die sentrale geldigheidsaspek van die post-sekularisme, maar nie as ‘n intellektuele kriterium nie; gewoon ervarensmatig; aangevoeld.

Die Afrikaanse skywer Annelise Erasmus (bv. Annelise 2007) se bydrae – ‘When equal becomes the same. The spirituality of sex: have we lost it? – beredeneer die gelyksheidservaring aan die hand van slawe-tekste by filosowe soos Hegel, Nietszche (2006), Foucault (1978) en Fukuyama (1992). Sy maak ‘n nuwe punt oor gelykheid, gekonkretiseer rondom geslagsgelykheid binne erotiese spel: as die (wenslike) gelykheidsimpulse van ons tyd weens samelewingsentimente omvorm word tot dieselfde wees, bly daar van die verskille wat seksueel aantreklik is, uiteindelik niks oor nie. ‘n Nuwe manier van dink oor ‘equality’ en ‘sameness’ word dus benodig. Die Unisa Nuwe-Testamentikus en Bybelse Spiritualiteitskundige Dirk van der Merwe het aangesluit by die seksualiteitstema met ‘n referaat getitled ‘Sexual fantasy, spirituality and the Song of Songs’. Hierin analiseer hy die tematiese voorkoms van iets soos droomsekwense, maar in die sin van seksuele fantasievlugte, binne die Hooglied-boek. Die feit dat sulke eksplisiete sensualiteit in die Bybel as geloofsboek gevind word, onderstreep dat die verhouding tussen godsdiens en die lyflike iets positiefs is.

In ‘Liberating language and concepts of the divine in contemporary hymnody’ het die Britse musikoloog en teoloog June Boyce-Tillman (kyk o.a. Boyce-Tillman 2015), verbonde aan die Universiteit van Winchester se Centre for the Arts and Wellbeing, ‘n uitsonderlike bydrae gemaak. As himne-komponis, analiseer sy die lirieke van kerkliedere wat doelbewus inklusief wil wees en die diversiteit van die geloofsgemeenskap ernstig neem. Charismaties-innemend, maar geheel sonder die cliché-gedrewenheid wat soms mense wegdryf, het haar aanbieding verskillende aspekte van inklusiewe gesange-lirieke oor die afgelope dekades, maar reeds sedert die 1800s, nagetrek. Hierdie alternatiewelikheid sluit in gelowiges wat hulleself buite die hoofstrome van die samelewing bevind, beide in hulle menswees en in hulle Godstaal. Een van haar mees aangrypende himne-lirieke (vgl. Boyce- Tillman 2007:97) wat voorgedra is, is dié:

Finding God (with apologies to Mrs Emily Huntington Miller)

– J. Boyce-Tillman

A child once loved the story

Which angel voices tell

How once the King of Glory

Came down on earth to dwell.

 

Now, Father God, I miss you –

Your beard, your robes, your crown –

But you have served us badly

And let us humans down.

 

So easy to disprove you

And doubt your truthfulness;

For you were just an idol

That kept Your power suppressed.

 

For You are deep within us –

Revealed within our deeds,

Incarnate in our living

And not within our creeds.

 

No image cannot hold you;

And, if to one we hold,

We keep some from your loving

And leave them in the cold.

 

Excluded groups are legion –

Disabled, female, gay –

Old Father of the heavens,

Your picture moves away.

 

Life’s processes reveal You –

In prison, death and war,

In people who are different,

In gatherings of the poor.

 

For Godding means encounter,

Gives dignity to all,

Has every shape and no shape –

In temple, tree and wall.

 

So we will go a-godding

And birth You in our world;

In sacrificial loving

We find Your strength unfurled.

Boyce-Tillman besoek waarskynlik in Augustus-September vanjaar Suid-Afrika vir ‘n kort reeks referate en voorlesings.

Ou-Testamentiese Sabbatstekste het volgende aan die beurt gekom. Gebaseer op sy onlangs-voltooide studie hieroor, het die Kaapse tentmaker-bediener Eben de Jager gepraat oor ‘The spiritual significance of Old Testament Sabbath texts, read with New Testament glasses, from a conservative Adventist perspective’. Hoekom spesifiek ‘n ‘conservative Adventist perspective’? Dit blyk dat daar binne die Adventisme ook gesprek rondom die verstaan van die Sabbat is – ‘n geloofsmerker wat fundamenteel aan Adventiste-identiteit staan. Hierop het gevolg ‘n aanbieding van Olga Breskaya, godsdienssosioloog verbonde aan die Belarussiese universiteit-in-ballingskap, die European Humanities University, gebaseer in die Litause hoofstad Vilnius. In ‘The dialogue on human dignity: the conversation of philosophy of medicine and church teaching texts” plaas sy medies-filosofiese en kerklike tekste oor menswaardigheid naas mekaar, en lig in dié kreatiewe spieelbeelding die onderskeie beklemtonings en tekortkominge uit.

Volker Kessler, leierskapskundige verbonde aan die Duitse Gesellschaft für Bildung und Forschung in Europa en die Akademie für christliche Führungskräfte, het die slotreferaat van die kongres gelewer: ‘Spirituality in contemporary management literature’. Hy toon in leierskaps- en bestuurshandleidings aan hoedat sedert die 1980s godsdienstige taal gebruik word, sonder dat daarmee enigsins doelbewus godsdiens bedryf word. Miskien is die mees herkenbare voorbeeld hiervan, wat ook binne kerkverbande groot invloed uitgeoefen het, die konsepte van “visie” en “missie”. Vir diegene wat binne trefafstand van Pretoria is, dié referaat word hierdie week plaaslik herhaal:

‘Spirituality in Contemporary Management Literature’ – ‘n gaslesing deur Prof. Volker Kessler op die Unisa Muckleneuk-kampus

Abstract 

Spirituality in management is often connected with workplace spirituality. I will give a short introduction into in the field of workplace spirituality, which started in 1990es and has become a mega-trend. Additionally, it can be observed that spiritual vocabulary found their way into ordinary current management literature, even if this literature does not show any overt link to spirituality.  Although I regard spirituality as a very important field, I see some negative side effects of the use of spirituality vocabulary in management and of the megatrend “spirituality@work”. My main concern is that it fosters the totalitarianism of modern workplace and it opens the door for power abuse. My critique will be based on Bonhoeffer’s doctrine of four mandates.

Donderdag 3 Maart 2016, at 09h00–10h00.

Beperkte plekke is beskikbaar om hierdie gratis lesing by te woon; bespreek asb. by holmel@unisa.ac.za

Die meeste van hierdie bydraes sal later vanjaar in ‘n spesiale uitgawe van ‘n vaktydskrif verskyn. ‘n Kennisgewing daarvan sal dan hier op teo.co.za geplaas word.

Bibliografie

Adicie, CN 2013. Purple hibiscus: a novel. Chapel Hill, NC: Algonquin Books.

Annelise. 2007. Maanvrug. Pretoria: Goddess Unlimited Communications.

Boyce-Tillman, J 2015. Experiencing music. Restoring the spiritual. London: Springer.

Boyce-Tillman, J 2007. Unconventional wisdom. London: Equinox.

Foucault, M. 1978. A history of sexuality. London: Penguin Books.

Fukuyama, F 1992. The end of history and the last man. London: Penguin Books.

Habermas, J 2008. Secularism’s Crisis of Faith: Notes on Post-Secular Society. New Perspectives Quarterly 25, 17-29.

Houellebecq, M 2015. Submission (tr. L Stein). New York: Farrar, Straus and Giroux.

Houellebecq, M 2015. Soumission. Paris: Flammarion.

Kearney, R 2010. Anatheism: returning to God after God. New York: Columbia University Press.

Kundera, M 2015. The festival of insignificance. London: Faber & Faber.

Lombaard, C 2015. Spirituality – a way of life, I: The times of God and acts of faith (Coursework book). Johannesburg: Theological Education by Extension College, Southern Africa.

Nietzsche, F. 2006. On the Genealogy of Morality (trans. C Diethe). New York: Cambridge University Press.

Phillips, F 2007. Die donker god. Roggebaai: Umuzi.

Taylor, C 2007. A secular age. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Žolude, I 2013. Santa Biblia. Rīga: Dienas Grāmata.

Share this / Deel hierdie: