Een van die debatte wat geleerdes al vir jare dronkslaan is die vraag oor wie presies die priesters was wat in Jerusalem diens gedoen het vóór en ná die val van die stad in 586 vC. Ons lees wel in die Vroeë Profete, of die sogenaamde Deuteronomistiese Geskiedenis (2 Samuel 8:17), van Sadok en Abjatar. Laasgenoemde verdwyn van die toneel omdat hy die verkeerde opvolger vir Dawid ondersteun, maar wat weet ons van Sadok? Soos Grabbe (2003:206) dit stel: ‘Zadok first appears without father or mother or genealogy in 2 Samuel 1:24-36.’ Waar kom hy vandaan?
Deur die jare was daar altyd die vermoede dat hy eintlik ‘n Jebusiet was wat deur Dawid oorgeneem is om kontinuïteit te behou met die Jebusietiese stad wat hy ingeneem het. In die res van die Vroeë Profete lees ons egter maar min van die priesters in Jerusalem. Die enigste boek in die Bybel wat na die Sadokiete verwys is natuurlik die boek Esegiël waar ons lees van Levitiese priesters uit die ‘geslag van Sadok’ of, die ‘seuns van Sadok’, soos die Hebreeus sê. Volgens Esegiël 44 moet hulle verantwoordelikheid aanvaar vir die offerdiens in die tempel.
Aan die ander kant is daar boeke soos Eksodus, Levitikus en Numeri wat weer praat van ‘n ander groep priesters naamlik die ‘seuns van Aäron’. Een probleem met die Aäroniete is dat ons hulle net kry in wat tradisioneel as die Priesterlike bron (P) bekend staan. Die bron (of redaksionele laag) word meestal as ‘n na-ballingskapse verskynsel verstaan.
Die vraag is dan of die Aäroniete ooit regtig in Jerusalem gedien het? En wanneer? Sommige (soos Blenkinsopp 1998) meen dat hulle histories eintlik aan die goue kalf aanbidding by Bet-El gekoppel moet word. Dalk gaan dit so ver terug soos in die tyd van Jerobeam wat die twee goue kalwers in Bet-El en Dan opgerig en gesê het: ‘Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het’ (1 Konings 12:29).
Dit laat ‘n mens nogal aan die woorde van Aäron in Eksodus 32:4 dink: ‘Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’ In elk geval, die hipotese beweer dan dat die Aäroniete na die val van Jerusalem met die Sadokiete in ballingskap in Babel beheer oor Jerusalem oorgeneem het. Met laasgenoemde se terugkeer uit Babel sou dit natuurlik gelei het tot ‘n magstryd tussen die ‘seuns van Aäron’ en die ‘seuns van Sadok’. Later sou die twee groepe dan ‘n kompromis aangegaan het wat blyk uit tekste soos 1 Kronieke 6:8, 53 en 18:16, of Esra 7:2 waar Sadok as ‘n afstammeling van Eleaser (die seun van Aäron) en sy seun Pinehas uitgebeeld word.
Sommige beweer dat ons iets van hierdie magstryd kan aanvoel as ons so effens tussen die lyne lees in Levitikus 10. Levitikus 10 vorm saam met hoofstukke 8 en 9 een lang verhaal in die middel van Levitikus se redelike saai wette. Hoofstukke 8 en 9 vertel hoe priesters oor agt dae georden word nadat ‘n reeks rituele uitgevoer is. Hoofstuk 9 sluit af met ‘n soort kultiese klimaks met die ‘eer van Jahwe’ wat neerdaal op die tent van ontmoeting en almal in verwondering is. Maar dan lees ons verder in hoofstuk 10 en dinge maak ‘n radikale u-draai. Die seuns van Aäron, Nadab en Abihu, bring ‘vreemde vuur’ en dan verteer dieselfde vuur wat nou net aan die einde van hoofstuk 9 al die offers verteer het, vir hulle. Wat het hier gebeur? Wat het hulle verkeerd gedoen? Baie antwoorde is al aangebied, maar sommige geleerdes dink dat dit verstaan moet word as kritiek op die Aäroniete. Ander verskil.
Een persoon wat eersgenoemde opinie steun, is Reinhard Achenbach (2003:91-120) wat aanvoer dat veral verse 1-5 die leser wil oortuig van die ‘skandalige astrantheid’ (skandalöse Eigenmächtigkeit) van die Aäroniete. Die verhouding tussen Levitikus 10 en 9 is dieselfde as die tussen Eksodus 32 (goue kalf) en 24. Die een oomblik is Aäron ‘n held en volgende ‘n muishond. Vir Achenbach is hierdie teks anti-Aäron. Achenbach dink dat Levitikus 10 na Numeri 16 en 17 geskryf is, maar waar laasgenoemde uit een uit pro-Aäron (en anti-Leviete) is, is hierdie een anti-Aäron. Wat het Nadab en Abihu verkeerd gedoen? Hulle het moontlik iets gedoen wat vir die hoëpriester gereserveer was en dalk is daar ook ‘n eggo van kritiek op Zoroastrianisme in die teks.
Wat egter veral vir Achenbach belangrik is, is die instruksies wat Moses vir die ander twee seuns gee in verse 6 en 7 en dan veral die opdrag wat Aäron van Jahwe ontvang in verse 8 tot 11. Hierdie verse het baie met Esegiël 44 in gemeen soos die verbod op gebruik van alkohol en die opdrag van Levitikus 10:10: ‘Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is.’ In Esegiël 44:23 staan: ‘Die priesters moet my volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en wat onrein is.’ Esegiël 44 is natuurlik (soos reeds genoem) een van die min tekste in die Bybel wat dit het oor die ‘seuns van Sadok’ en vir Achenbach is dit ‘n bewys daarvan dat die Sadokiete dalk laaste aan die teks gekarring het om hulle opponente (Aäroniete) by te kom.
Achenbach het ook ‘n lang genealogiese argument oor die twee oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, en die feit dat Sadok in baie laat tekste (bv 1 Kron 24:1-19) met die lyn van Eleasar verbind word. Soos hierbo genoem, is dit juis die rede waarom baie geleerdes dink dat dit op ‘n soort kompromis tussen die twee groepe in die na-ballingskapse tydperk dui. Laastens noem Achenbach egter dat die kritiek in hierdie hoofstuk tog gesien kan word as kritiek teen enige priesterkultus en nie net die Aäroniete nie: hierdeur ondermyn hy eintlik sy eie argument.
Christophe Nihan (2007:567-607) verskil van Achenbach en verstaan die teks tog as pro-Aäroniete. Hy stem saam oor die verband met Numeri 16-17, maar hy lees die hele hoofstuk as ‘n eenheid wat hy as volg opsom (2007:579):

A. 10:1-5 Transgression of cultic laws by Aaron’s elder sons, sanctioned.

B. 10:6-7 Instruction by Moses to Aaron and his two remaining sons

X. 10:8-11 Instruction by Yahweh to Aaron alone

B’. 10:12-15 Instruction by Moses to Aaron and his two remaining sons

A’. 10:16-20 Transgression of cultic laws by Aaron’s younger sons, not sanctioned

Dit is belangrik dat in die middel van die hoofstuk (X.) daar slegs aan Aäron ‘n opdrag deur Jahwe gegee word. Moses word met ander woorde uitgesluit. Dit is die enigste geval in Levitikus waar dit gebeur en die enigste ander geval in die Pentateug is in Numeri 18.
Nihan stem verder saam met Achenbach dat hierdie teks later as Numeri 16-17 is en dat Aäron se seuns dalk iets gedoen het wat net vir hom as hoëpriester veroorloof was. As dit kom by die verband met Esegiël 44 dan voer Nihan aan dat Levitikus 10 veel ‘verder gaan’ as Esegiël 44. Byvoorbeeld: Levitikus 10:11 vertel dat Aäron die opdrag kry dat priesters Israel die bepalinge moet onderrig of leer. Esegiël 44:24 sê bloot dat priesters die bepalinge moet onderhou. Vir Nihan beteken dit dat die skrywers van Levitikus 10 verder gaan en dat hulle m.a.w. bewus was van Esegiël 44, maar wil wys dat hulle meer bied as die skrywers van Esegiël. Priesters kry ‘n lerende funksie wat hulle nie in Esegiël gehad het nie. Vir Nihan was dit Aäroniete wat Levitikus 10 geskryf het nie Sadokiete nie.
Nihan kyk ook na die tweede helfte van hoofstuk 10, veral verse 16-20 waar Moses Aäron daarvan beskuldig dat sy oorlewende twee seuns die sondeofferbok verkeerd hanteer het. Aäron reageer hierop in vers 19 met ‘n antwoord wat nie regtig sin maak nie, maar dan bly Moses vreemd genoeg stil. Dit klink dus asof Aäron die argument met Moses wen. Vir Nihan dui dit alles daarop dat die teks eintlik ten gunste van die Aäroniete is. Ja, hulle maak droog aan die begin, maar die uiteinde is dat Jahwe net met Aäron praat en onder andere vir hom die opdrag gee om Israel die bepalinge te leer. Dan kort daarna wen Aäron ook ‘n eksegetiese argument met Moses. Aan die einde van die hoofstuk na al die katastrofes is die Aäroniete dus beter daaraan toe as voorheen.
Hierop het Eckart Otto gereageer met ‘n genealogiese argument dat die Sadokiete eintlik hier die eer moet kry aangesien latere genealogieë (sien bogenoemde voorbeelde uit 1 Kronieke) juis hulle deur die lyn van Eleaser, een van die oorblywende seuns, aan Aäron verbind. Dit beteken dus dat die ‘oorspronklike Aäroniete’ deur Nadab en Abihu verteenwoordig word, en toe hulle drooggemaak het, moes die ander twee seuns, Eleasar en Itamar die situasie kom beredder. Later word Eleasar as ‘n voorvader van die Sadokiete uitgebeeld en moet hulle dus, volgens Otto, nou die eer kry. Daar is baie probleme met die argument soos byvoorbeeld die feit dat slegs baie laat tekste uit 1 Kronieke en Esra die genealogiese verbinding maak en sonder hierdie tekste sou ‘n mens hoegenaamd nie hier dink aan Sadok se afstammelinge nie. Verder moet ‘n mens ook sê dat die twee seuns nie eintlik veel doen nie. Hulle word wel in die laaste paar verse van ‘n oortreding beskuldig, maar dan is dit hulle pa, Aäron wat vir hulle opkom en die argument met Moses wen. Aäron is die groot wenner in die verhaal (al verloor hy seuns) en dit sou eenvoudig meer sin maak om te sê dat die priesters wat sy naam dra die meeste hierby sou baat.
So, waar laat dit ons? Was daar ‘n stryd tussen Aäroniete en Sadokiete? Moontlik, maar wat my betref maak Nihan se argumente die meeste sin. As daar so ‘n stryd was dan propageer hierdie teks vir die Aäroniete. Achenbach het net die eerste helfte van die hoofstuk gelees en ignoreer die tweede helfte. Otto se argument om die Sadokiete in die teks in te lees via later genealogieë is op die ou end net dit ‘inlees’. Onlangs het Watts (2007:129) met ‘n soortgelyke argument as Nihan vorendag gekom en hy stel dit so: ‘The fact that the reader/hearer cannot understand either the nature of the danger in 10:1-3 or the logic of the (sic) Aaron’s ruling in 10:16-20 only increases the mystique of the priestly office. Summarized in a more modern idiom, the message from the Aaronide priests to the congregation of Israel in Leviticus 10 is this: ‘”We are professionals doing a necessary and dangerous job, and only we can do it right.”’
In kort, al maak die Aäroniete foute, versterk die teks hulle posisie. As daar dan later ‘n kompromis was en die Sadokiete hulself deur die lyn van Eleasar aan Aäron verbind het, dan sou hulle inderdaad ook baat hierby kon vind, maar dit gebeur moontlik eers heelwat later. Miskien was die teks dalk eerder gemik op ander groepe soos die Leviete wat priesterlike aansprake gehad. Pro-Sadok tekste soos Esegiël 44 en pro-Aäron tekste soos Numeri 16-17 is dit eens dat hulle ‘n mindere rol moes speel en nie naby die offerkultus mag gekom het nie. Dalk wil die teks hulle opnuut hieraan herinner? Wat Levitikus 10 ook doen is om (soos Nihan aangedui het) die lerende en interpreterende funksie van die ‘bepalings’ by die priesters se lys van verantwoordelikhede te voeg. Die priesters as afstammelinge van Aäron kry die reg om uiteindelik die Tora te interpreteer en te onderrig.

Bibliografie

Achenbach, R. 2003. Die Vollendung der Tora. Studien zur Redaktionsgeschichte des Numeribuches im Kontext von Hexateuch und Pentateuch. Harrassowitz Verlag, Wiesbaden.
Blenkinsopp, J. 1998. The Judean Priesthood during the Neo-Babylonian and Achaemenid Periods: A Hypothetical Reconstruction. CBQ 60, 25-43.
Grabbe, L.L. 2003. Were the Pre-Maccabean High Priests ‘Zadokites’? in: J.C. Exum & H.G.M. Williamson (red) Reading from Right to Left. Essay on the Hebrew Bible in Honour of David J.A. Clines. Sheffield: Sheffield Academic Press, 205-215.
Nihan, C. 2007. From Priestly Torah to Pentateuch. Tübingen: Mohr Siebeck.
Otto, E. 2009. Die Tora. Studien zum Pentateuch. Gesammelte Aufsätze. Wiesbaden: Harrassowitz Verlag.
Watts, J.W. 2007. Ritual and Rhetoric in Leviticus. From Sacrifice to Scripture. Cambridge: Cambridge University Press.

Share this / Deel hierdie: