Destyds in die Ou Nabye Ooste in die tyd van die groot “Empires” of “wêreldryke”, het baie konings die gebruik gehad om met hulle onderdane, of hulle “vasale” verdrae te sluit. ‘n Vasaal was ‘n laer koning wat deur die hoër koning oorwin is. Ons noem hierdie soort tekste vasaalverdrae en ons het baie van hulle gekry veral uit die tyd van die Neo-Assiriërs—dit was van die mense wat baie moeilikheid in die Ou-Testamentiese tyd gemaak het. Hulle het byvoorbeeld die Noordryk weggevoer in die jaar 722 v.C. en 20 jaar later amper ook die hele Juda ingeneem.

Net Jerusalem het oorgebly. In die hart van so ‘n vasaalverdrag is gewoonlik ‘n versameling van regstekste, of wette wat uitstippel hoe die onderdane moet lewe. Aan die einde van hierdie vasaalverdrae is daar meestal ‘n “motiverende” hoofstuk wat basies sê dat as die onderdane hierdie wette doen, dan gaan alles klopdisselboom loop. Indien nie, dan gaan dinge skeefloop tussen die opperkoning en sy vasaal. Hierdie motiverende deel aan die einde van die vasaalverdrag het op veral twee plekke in die Ou Testament afgegee. Die een voorbeeld is Deuteronomium 28 en die ander voorbeeld is die teks waarvan ons nou net ‘n paar verse gelees het, Levitikus 26. Dit is aan die einde van wat ons noem die “Heiligheidswetgewing” (Levitikus 17-26), waarvan “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” ‘n deel was.

Die deel wat ons gelees het, is die eerste deel wat vertel van hoe goed dit sal gaan as julle (die aangesprokenes is Israel by Sinai) die voorafgaande wette gehoorsaam. ‘n Mens hoor ook eggo’s van die tien gebooie in die teks, veral aan die begin, “geen ander gode”, “onderhou die Sabbat” twee gebooie wat herhaal word. Wat verder uitstaan in hierdie “beloftes” (onderhewig aan die samewerking van die aangesprokenes) is veral twee goed:

1) Die teks is vol landboubeelde. “Reën op sy regte tyd” sê vers 4 en vers 5 vertel hoe die oeste oorgenoeg kos gaan gee. In vers 10 hoor ons weer van die groot oeste. Israel het natuurlik ‘n Mediterreense klimaat soos in die Kaap. Reën moet nou (in hulle winter) val. Dit moet genoeg wees en op die regte tyd. Enigiemand wat iets weet van boerdery sal weet hoe akkuraat hierdie landboubeeld is. Maar vir hulle was dit nog akkuter as vir ons. In ons wêreld speel boere bankrot as die reën nie op die regte tyd kom nie en dit is erg genoeg, maar in hulle wêreld het jy eenvoudig doodgegaan van die honger as die reën nie op sy regte tyd kom nie. Dit is die eerste basiese behoefte wat deur hierdie teks aangespreek word, reën op die regte tyd, sodat mense kos in hulle maag kan hê.

2) Die tweede belofte wat sterk na vore kom, is die vrede wat vers 6 beloof “sodat julle rustig kan slaap.” Verse 7 en 8 vertel hoe hulle op militêre gebied suksesvol sal wees en ek vermoed hierdie twee verse maak baie van ons ongemaklik—dit gaan oor geweld—maar hierdie beloftes spreek die twee basiese behoeftes van antieke mense aan naamlik, kos aan die een kant en vrede, of die gebrek aan geweld, aan die ander. Vandag is veral laasgenoemde ook hoog op ons lys van behoeftes. En as ‘n mens sou praat oor die meerderheid mense in Suid-Afrika dan is kos in hulle mae ook nie altyd so vanselfsprekend soos dit vir ons is nie. Die twee beelde van vrugbare landbou en vrede som die beloftes wat aan die onderhouers van die voorafgaande wette gemaak word baie mooi op.

Ek het nie vir u verse 14 tot 39 gelees nie. Dit is te lank, maar in die res van die teks, word basies alles omgekeer waarvan ons sopas gelees het, die seën word ‘n vloek, die beloftes word dreigemente. Die reën bly weg en hongerte is aan die orde van die dag. Oorlog en geweld oorweldig die mense. Herhaaldelik hoor ons van straf en dan sê ‘n stem “as julle nog nie luister nie” en dan word die straf erger. Op ‘n stadium praat die teks van mense wat hulle eie kinders eet, so honger is hulle. In hierdie opsig volg Levitikus 26 soos Deuteronomium 28 ander Ou-Nabye Oosterse Vasaalverdrae: As die onderdane nie doen soos gestipuleer nie, dan loop dinge skeef en raak dit donker. En lees gerus hierdie verse self, dit is donker en skrikwekkend en ‘n mens hoor daarin iets van die historiese ervaring van die ballingskap en die groot vernietiging van Jerusalem onder die volgende wêreldryk, die neo-Babiloniërs. ‘n Mens hoor ook iets van ‘n God wie se hart gebreek is omdat sy volk nie vir hom wil hê nie. Maar as u aanhou lees, lees tog Levitikus 26 tot die einde klaar, want hierdie hoofstuk is tog anders as baie van die ander vasaalverdrae. Aan die einde vanaf vers 40 lig die donkerte so effens. Ons hoor dat die volk wat daar in die land van hulle vyande is en hulle sondes bely en dan in vers 42 dat die Here die verbond sal onthou wat hy met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Vers 45 sê:

“Ek sal die belofte aan hulle voorouers wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipte laat trek het, weer van krag maak, die belofte dat Ek hulle God sal wees. Ek is die Here.” (Die Hebreeus praat eintlik letterlik van onthou asof God vir ‘n tydjie vergeet het.)

Levitikus 26 sê basies dat as julle nie julle deel doen nie, dan gaan dinge skeefloop tussen ons, maar dit gaan net tydelik wees, want uiteindelik gaan ek weer my beloftes onthou. Maak nie saak wat gebeur nie, dit gaan nie die einde van die verhouding wees tussen God en sy volk nie en daarom herhaal die voorlaaste vers weer wat ons vroeër in vers 12 gehoor het, naamlik dat God hulle God sal wees. En dit is juis oor daardie vers, vers 12 en vers 11 dat ek vanoggend uit hierdie teks preek. Ek het nie vergeet dat dit Advent is nie. Luister weer mooi na verse 11 en 12:

“Ek sal by julle woon en nie ‘n afsku van julle hê nie. Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees.”

In die nuwe Afrikaanse Vertaling het ek dit so vertaal:

“Ek sal my tabernakel onder julle oprig en nie ‘n afkeer van julle hê nie. Ek sal in julle midde wandel en vir julle ‘n God wees; julle sal vir my ‘n volk wees.”

Dit is hoe ons die vertaling ingestuur het en dit kan dalk nog verander, maar vers 12 vertel letterlik van ‘n God wat tussen sy mense loop. Hierdie teks laat my dadelik dink aan die Tuinverhaal in Genesis 3 waar God ook in die tuin kom loop en dan kruip die mense vir hom weg. God word op ‘n baie menslike manier uitgebeeld. Hy kom stap in die tuin om by die mense te kom kuier. Maar toe loop dinge skeef en die res van die Ou Testament vertel die storie van God wat die verhouding weer probeer herstel.

Dit is interessant, as ‘n mens gaan kyk waar hierdie uitdrukking voorkom. ‘n Mens kry dit veral in Genesis. Dit beskryf altyd die intieme verhouding wat van die aardsvaders met God gehad het. Genesis 5:24 “Hy (Henog) het naby God geleef.” Letterlik: Hy het geloop saam met God. Genesis 6:9 “Noag het naby God geleef.” Letterlik: Hy het geloop saam met God. Genesis 17:1 sê die Here vir Abraham: “Lewe naby my.” Letterlik: Loop saam met my. Later kry ons weer so ‘n teks in hoofstuk 24 wat na Isak verwys. Hulle het naby God geleef, of letterlik, “saam met God geloop.” U hoor natuurlik dat Levitikus 26 dit anders verwoord. Dit is nie die mense wat by God loop nie, nee dit is God wat tussen die mense loop. Daar is geleerdes wat juis sê dat hierdie verse verwys terug na Genesis 3 en vertel hoe God dit wat daar skeefgeloop het, nou weer reg gaan wees. Hy loop weer tussen die mense. Dit is nie die Nuwe Testament wat Advent, die idee dat God na ons toe kom vir die eerste keer formuleer nie; dit was al daar in die Ou Testament. God loop saam met hulle, as hulle gehoorsaam is beslis (soos die verse sê wat ons gelees het), as hulle ongehoorsaam is, dan gaan dinge weer skeefloop, maar dis nie die einde nie. God kom uiteindelik weer terug en onthou sy verbond en kom loop weer tussen sy mense.

Een van die dosente wat die grootste inpak op my lewe gemaak het, was iemand met die naam van Ferdinand Deist. Baie van u sal sy naam ken. Hy was een van daardie mense wat nie net ‘n goeie akademikus was nie, hy kon die akademie ook vir gewone mense toeganklik maak. Hy het baie goeie boeke geskryf waarin hy dit reggekry het om die gaping tussen teologie as akademie en gewone gelowiges te oorbrug. Maar op ‘n dag het ons as studente hom soort van ge-”corner”. As ek reg onthou was dit in ‘n kursus oor Deuteronomium. Ons het die tekste baie krities gelees en ons het vir hom gevra: Hoe kan hy aan die een kant Bybeltekste so krities lees en aan die ander kant nog steeds ‘n gelowige wees? Sy antwoord sê iets van die hart van Advent. Want het hy gesê omdat die Bybel vertel dat God sy hande kom vuil maak het, met die gemors wat mense gemaak het. Dit is die boodskap van Advent. God kom woon tussen ons, God kom bemoei hom met ons gemors, maar hierdie idee was reeds deel van die Ou Testament, want die Ou Testament vertel van ‘n God wat tussen Israel loop en natuurlik van die gemors wat God gedurig probeer opruim het.

Ek het natuurlik hierdie week gewonder: As die Ou Testament dan eintlik reeds van Advent ken, hoekom het ons dan die Nuwe Testament nodig? As God tussen ons loop, hoekom het ons vir Jesus nodig? Die Nuwe Testament en die Christendom is uiteindelik tog radikaler. God word mens, soos ons. Dit is nie die God wat ons uit Egipte verlos het, wat tussen ons loop nie, nee dit is God wat ‘n mens geword het soos ons, wat tussen ons loop en natuurlik uiteindelik tussen ons sterf, juis omdat Hy gekom het om menslike gemors op te ruim.

Mag God ons in hierdie Adventstyd opnuut herinner aan die versugting in beide testamente dat God graag tussen ons wil loop. Maar ons sy teenwoordigheid beleef en mag dit ons aanmoedig om te help opruim aan die gemors in die wêreld. Amen.

Share this / Deel hierdie: