1. Inleiding

Soos met baie ander dinge, is dit tans nie maklik om die liturgiese kenmerke van die NG Kerk eenduidig te beskryf nie. Die afgelope jare is gekenmerk deur is ryk verskeidenheid van beïnvloeding en eksperimentering.

Die nuwe Handleiding vir die Erediens wat in 2010 verskyn het, is ‘n poging om enersyds op ‘n verantwoordelike wyse die verskeidenheid te reflekteer en andersyds die eg gereformeerde karaktertrekke van die erediens te behou.

In die res van hierdie artikel word ‘n aantal tendense genoem om aan te dui tot watter mate die Handleiding vir die Erediens die verskeidenheid probeer akkomodeer. Dit is almal tendense wat vir die eerste keer in ‘n handleiding vir die erediens van die NG Kerk opgeneem is.

  1. ‘n Ekumeniese openheid

Die Handleiding vir die Erediens “dra die boodskap van ‘n ekumeniese openheid” wat graag verder deur die redaksie bevorder sal wil word (Clasen et al 2010:xi). Hierdie ekumeniese openheid word gereflekteer in ‘n hele aantal voorbeelde:

2.1 Liturgiese elemente

Daar is heelwat voorbeelde van liturgiese handelinge of elemente uit ander tradisies in die Handleiding vir die Erediens opgeneem. Die volgende skuldbelydenis is byvoorbeeld afkomstig uit die Iona gemeenskap in Skotland:

Voorganger:   Voor God en saam met die gemeente van God
bely ek my gebrokenheid:
dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewens van ander
en die lewe van die wêreld.

Gemeente:    Mag God jou vergewe,
mag Christus jou vernuwe,
en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

V:              Amen.

G:              Voor God en saam met die gemeente van God
bely ek my gebrokenheid:
dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond;
die lewens van ander
en die lewe van die wêreld.

V:                Mag God jou vergewe,
mag Christus jou vernuwe
en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

G:              Amen.

2.2  Die kerklike jaar

‘n Hele hoofstuk in die Handleiding vir die Erediens word gewy aan die kerklike jaar (Clasen et al 2010: 267-358). Die jaarsiklus van die Revised Common Lectionary word ook ingesluit (Clasen et al 2010: 359).

2.3  Ander dienste

Bepaalde eredienste wat in ander liturgiese tradisies dalk meer bekend is, word vir die eerste keer in die Handleiding vir die Erediens opgeneem, byvoorbeeld meditatiewe eredienste, omgewingsdienste en oggend- en aandgebedsdienste (Clasen et al 2010: 171-263).

2.4  Die verloop van die erediens

Vir die eerste keer in ‘n boek van hierdie aard word die wyd aanvaarde vier fases van die erediens aanbeveel as die verloop van die erediens, naamlik die toetrede, Woorddiens, tafeldiens en uitsending (Clasen et al 2010:5).

  1. Slegs voorbeelde!

Volgens die redaksie vra die voorbeelde van liturgiese elemente “om op ‘n kreatiewe manier verder ontgin te word deur almal wat betrokke is by die beplanning en inrigting van eredienste” (Clasen et al 2010:xi). Anders as in vorige boeke van hierdie aard, verskyn daar dus ‘n rykdom van voorbeelde by elke liturgiese element. Selfs meer hedendaagse voorbeelde word ingesluit, soos die volgende gedig van Koos van der Merwe wat as voorbeeld van ‘n votum aangebied word:

met my bietjie lof
met my bietjie bid
met my sinne van stof
wil ek voor U kom sit
met vandag se leef
en môre se dood
met my reguit en skeef
met my honger en brood
so sal ek kom
as ek kom om te juig
dankbaar en dom
sal ek nederig kom buig
(Uit: Optelwoorde – Koos van der Merwe)

  1. Engelse voorbeelde

In die lig van die veranderende omstandighede in Suid-Afrika, is daar ook van byna al die formuliere voorbeelde in Engels ingesluit (Clasen et al 2010:63-168).

  1. Slotwoord

In die lig van die enkele tendense wat hier bo genoem is, is dit duidelik dat die liturgie in die NG Kerk nie meer oral presies dieselfde lyk nie en dat daar doelbewus ruimte geskep word om die verskeidenheid op ‘n verantwoordelike wyse te akkomodeer.

Bronnelys:

Clasen, FJ et al. Handleiding vir die Erediens. Wellington: Bybel-Media.