Verlede jaar was dit vyftig jaar sedert Vatikanum II en spesifiek ook die promulgering van die eerste dokument van daardie kerkvergadering van die Rooms Katolieke Kerk getiteld Sacrosanctum Concilium oftewel die “Konstitusie oor die Heilige Liturgie”. Daardie dokument was een van die kulminasiepunte van die Liturgiese Beweging van die negentiende en twintigste eeu en het gedien as ʼn groot stimulus vir liturgiese hervorming in nie alleen die Rooms Katolieke Kerk nie, maar in verskillende kerke wêreldwyd. Dit was daarom ook gepas dat die tema van die byeenkoms van die Internasionale Societas Liturgica wat in Augustus verlede jaar in Würzburg, Duitsland vergader het “Liturgiehervorming” was. Ek is gevra om ʼn referaat te lewer oor hierdie tema vanuit ʼn Afrika-konteks en wil graag in hierdie bydrae enkele van my gedagtes oor hierdie onderwerp deel.

Myns insiens is die bykans voor die hand liggende temas om oor te praat gegewe die konferensietema vanuit ʼn Afrika-konteks, sake soos die vertaling van sangbundels of eredienshandleidings vanuit Engels of Duits in tale soos isiXhosa of TsiVenda. Of dalk nuwe liturgiese invloede in hoofstroomkerke soos lof- en aanbiddingsdienste of die populariteit van meditatiewe dienste in sekere hoofstroomkerke. Nog ander opsies sal die hersienings van ʼn kerk soos byvoorbeeld die NG Kerk se eredienshandleidings wees soos dit in onder andere 1988 en weer in 2010 gedoen is met ʼn proefbundel in 2007 of dalk die invloed van publikasies soos Woordwyser of Woord en Fees op die wyse waarop die liturgie in menige kerke in Suid-Afrika gevier word. Hierdie is uiteraard alles baie belangrike produkte en voorbeelde van liturgiehervorming oor die laaste dekades wat verseker sterk beïnvloed is deur Vatikanum II en oor die algemeen ook deur die invloed van die Liturgiese Beweging van die laaste twee eeue.

Desnieteenstaande is hierdie ontwikkelinge myns insiens gegewe die realiteit betreffende die Christelike geloof enersyds en die wyse waarop dit liturgies tot uitdrukking kom, nie werklik verteenwoordigend van dit wat tans in Afrika Suid van die Sahara gebeur nie. Toe die groot Amerikaanse liturgis James White in 1993 opgemerk het dat die volgende hoofstukke van die liturgiegeskiedenis in Afrika, Korea en Suid-Amerika geskryf gaan word, was hy reg. Ek dink egter nie hy het soseer die NG Kerk of Hervormde Kerk in gedagte gehad toe hy dit geskryf het nie. Dalk sal enkele statistiese opmerkings gepas wees om wat bedoel word net effens beter in kaart te bring.

Volgens Jesse Mugambi was daar ʼn groeikoers van 3.82% in die Christelike geloof in Afrika tussen 1910 en 2010. In Suid-Afrika het 40.7% van die bevolking in 1910 aan Christelike kerke behoort teenoor ʼn raming van 81.7% teen 2010. Johnson en Ross toon aan dat daar in 1910 in totaal rofweg 19 700 lede van Afrika Geïnisieerde kerke was in vergelyking met die ongeveer 20 814 000 teen die jaar 2010 wat ʼn groeikoers van 7.21% oor die bestek van ʼn eeu beteken. Volgens Johnson en Ross (2009) is die tradisies wat die vinnigste groei die Afrika Geïnisieerde Kerke en neo-Pentekostalistiese kerke. Verder is die getalle van die hoofstroomkerke ook steeds goed en is kerkbywoning, dus deelname aan die liturgie van kerke, besonder hoog. In kort: ons moenie ons laat mislei deur statistiek uit die Weste of ons vas staar teen lidmaatgetalle wat in sekere tradisionele hoofstroomkerke oor die afgelope jare effens afgeneem het nie, nee, die kerk in Afrika Suid van die Sahara beleef ʼn ongekende bloeitydperk wat uiteraard ʼn invloed het op aanbidding en liturgie. En dit is laasgenoemde realiteit waarin ek geïnteresseerd is; hoe lyk hierdie liturgie en spesifiek ‘liturgiehervorming’ of eerder en meer korrek organiese liturgiese ontwikkeling op die kontinent? Ek som dit op onder vyf subhofies en sal probeer om kortliks aan te toon hoe die ‘taal’ van die liturgie in Afrika verander of ontwikkel het. Wat ek hieronder beskryf suig ek darem nie net uit my duim nie, maar is gebaseer op literatuur (sien Wepener 2013 vir volledige bronnelys), meer as ʼn dekade se deelnemende observasie rakende liturgie en vyf semi-gestruktureerde onderhoude met Suid-Afrikaanse kerkleiers te wete Kardinaal Wilfred Napier (Rooms Katolieke Kerk), Aartsbiskop Richmond (Korintiese Kerk van Suid-Afrika, AIC), Professor Thias Kgatla (Verenigende Gereformeerde Kerk van Suidlike Afrika, MIC) asook Pastoor Daramola (Redeemed Christian Church of God, Pentekostalisties) wat gedurende 2012 en 2013 met hulle gevoer is. So, hoe lyk die ‘taal’ van die liturgie in Afrika Suid van die Sahara soos dit organies ontwikkel het oor die laaste dekades?

 

Die taal van die liggaam

Dit is alombekend dat die taal van die liturgie in die Weste vanaf Grieks na Latyn verander het in ongeveer die vyfde eeu, aangesien die Grieks nie meer verstaanbaar was vir die erediensgangers nie en die Latyn wel. Ja, die liturgie is in Afrika inderdaad in tale soos isiZulu vertaal, maar ek is van oortuiging dat die werklike vertaling van die liturgie op die bodem van Afrika die vertaling daarvan in liggaamstaal was en is. In my eie tradisie het liturgiehervorming en die vertaling van liturgiese tekste dikwels te make met verstaanbaarheid. Ek is nie oortuig dat dit waar is ten opsigte van die liturgie in Afrika nie. Die liturgie is mettertyd al meer vertaal vanaf rigiede teksgebaseerde liturgie na liggaamstaal wat nie noodwendig meer verstaanbaar is nie, maar inderdaad meer toeganklik is vir die erediensgangers. Ja, ek besef, dit is iets wat Protestantse liturgiste eers nog aan sal moet herkou…

 

Die taal van (bose) (g)Gees(te)

Sonder ʼn grondige verstaan van die plek en belang van die Gees en geeste, inklusief booste geeste in Afrika (Omenyo, 2011; Ter haar, 2009), is liturgiese ontwikkeling op eie bodem nie peilbaar nie. Hierdie inherente belang van die Gees en geeste in Afrika is bes moontlik een van die vernaamste redes waarom die Charismatiese, neo-Pentekostalistiese en Afrika Geïnisieerde kerke so besonder vinnig groei in Afrika. In Afrika word daar nie ʼn rigiede onderskeid tussen die empiriese en meta-empiriese gemaak nie en die idee van ʼn dualistiese wêreldbeeld is vreemd aan Afrika. Die wêreld van die geeste is ʼn realiteit en liturgie in Sub-Sahara Afrika is eintlik nie verstaanbaar vir ondersoekers sonder ʼn in agneming daarvan nie. Saam met hierdie kosmologie moet ook die idee van kousaliteit verstaan word, naamlik dat die geeste ʼn invloed kan hê op die wel en weë van mense en in hierdie verband is rituele en ook liturgie van kritiese belang om daardie realiteit te beïnvloed wat insgelyks die taal van die liturgie beïnvloed. Die taal van die geeste is ʼn realiteit inherent tot die kontinent en hang ook nou saam met die volgende aspek.

 

Die taal van krag (materialisme?)

Wanneer daar na die opkomende meer Charismatiese kerke in Afrika verwys word, is mense vinnig om in pejoratiewe terme die idee van ʼn voorspoedsevangelie by te trek en hierdie kerke se liturgie daarmee te diskrediteer en dit af te maak is blote Amerikanisering as ʼn produk van globalisering. Myns insiens is dit is gewoon onwaar en ʼn elitistiese Westerse blik op iets wat diegene wat dit observeer gewoon nie goed verstaan nie, omdat hulle min van Afrika verstaan. Toegegee, die gevaar van ʼn voorspoedsevangelie is daar, maar in tradisionele Afrika geloof word die tipies Westerse digotomie tussen gees en materie nie gedryf nie en insgelyks dui spirituele voorspoed, rykdom en seëning op iets wat die grense oorskrei. Om Jenkins (2011) aan te haal: “Southern religion is not otherworldly or escapist, since faith is expected to lead to real and observable results in this world”. En die idee van rykdom wat verkry kan word van God gaan nie soseer terug op die oorsprong van die Pentekostalistiese beweging in Noord-Amerika nie, as wat dit direk in verband staan met Tradisionele Afrika Geloof waarin God ook gesien word as die Een wat oorvloed wil skenk aan die mens.

 

Die letterlike taal van die Bybel (veral die Ou Testament)

In vele van hierdie kerke en dan ook in die liturgie word die Bybel letterlik geïnterpreteer en is daar dikwels ook ʼn voorkeur vir die Ou Testament. En hiermee sal die gemiddelde liturgis wat geskool is in Westerse hermeneutiek bes moontlik probleme hê en die noodsaak voel om te ‘help’. Allan Anderson waarsku egter dat die hermeneutiek nie as “slavish literalism” of “necessarily a disadvantage” beskou moet word nie, aangesien ʼn mens hier met funksioneel ongeletterde mense te make het wat die Bybel in die liturgie hoor en dit vir en in hulle eie Afrika-konteks toe-eiening en interpreteer. Dikwels is die wêreld van die Bybel met die armoede, siekte en bose geeste glad nie so vreemd vir hierdie erediensgangers nie en kan hulle hulself geredeliker in van hierdie verhale vind as Bybellesers (hulle is merendeels Bybelhoorders) wat die teks benader vanuit ʼn konteks van oorvloed en onbehae.

 

Die taal van genesing

In ʼn baie populêre boekie in Suid-Afrika en elders getiteld Beyond the worship wars skryf Tom Long (2001) dat die vernaamste redes waarom mense aanbid, is om eerste ʼn ervaring van die misterie (God) te hê en tweedens ʼn belewenis van behoort. Beide hierdie sake is ook belangrike redes waarom mense in Afrika kerk-toe gaan, maar nie die primêre rede nie. Ek is oortuig daarvan dat die vernaamste rede waarom mense in Sub-Sahara Afrika kerk toe gaan en een kerk vir ʼn ander een sal los oor genesing gaan. En dan ook genesing breed verstaan as veel meer as slegs die genesing van fisieke kwale. Die taal van genesing is ʼn kern-belangrike spek. Dekades gelede al skryf Sundkler: “I have stressed repeatedly that prayer for the sick is not just a detail in Zionist services, but it is their most important feature”.

 

Ten slotte

Liturgiese ‘hervorming’ in Afrika was en is gewis anders as in die Weste, alhoewel globalisering en grootskaalse migrasie wêreldwyd dit wat ek hier beskryf ook ʼn realiteit maak wat deesdae in die meeste lande in die Weste voorkom wat ook inspireer tot navorsing hieroor. Party waarnemers van hierdie ontwikkelinge staan verbaas, bykans soos die skeptici op die eerste dag van Pinkster gestaan het. Soos John Mbiti egter tereg opmerk: “Africa, it straddles the equator like a gigantic question mark”. Wanneer daar gepraat word oor liturgiehervorming in Afrika Suid van die Sahara is ek van mening dat bogenoemde ontwikkelinge van die belangrikstes is wat beskryf en verstaan moet word, aangesien dit bes moontlik die kiem bevat van liturgiese ontwikkelinge in die toekoms op ons kontinent.

 

Geraadpleegde bronne

  • · Anderson, Allan. 1996. “Hermeneutical Processes of Pentecostal-type African Initiated Churches in South Africa,” Missionalia 24.2.
  • · Jenkins, Philip. 2011. The next Christendom. Third Edition. Oxford: University Press.
  • · Johnson Tod M. & Kenneth R. Ross. 2009. Atlas of Global Christianity. Edinburgh: University Press.
  • · Long, T.G. 2001. Beyond the worship wars. The Alban Institute.
  • · Mugambe, Jesse N.K. 2009. “Christianity in Africa, 1910-2010,” in:  Atlas of Global Christianity. (reds.) Tod M. Johnson and Kenneth R. Ross. Edinburgh: Edinburgh University Press.
  • · Omenyo, Cephas N. 2011, ‘New Wine in an Old Wine Bottle?: Charismatic Healing in the Mainline Churches in Ghana’ in Candy Brown (red.) Global Pentecostal and Charismatic Healing. Oxford/New York: Oxford University Press, 231-249.
  • · Sundkler, Bengdt. 1961. Bantu prophets in South Africa. Oxford: University Press.
  • · Ter Haar, Gerrie. 1992. The Spirit of Africa. The Healing Ministry of Archbishop Milingo of Zambia. Londen: Hurst & Company.
  • · Ter Haar, Gerrie. 2009. How God Became African. African Spirituality and Western Secular Thought. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.
  • · Wepener, Cas. 2013. “Liturgical ‘reform’ in Sub-Saharan Africa: some observations on worship, language and culture.” Sleutelvoordrag gelewer by die Societas Liturgica Konferensie, Würzburg, 09/08/13. (Wepener, C.J. 2013. “Liturgical ‘reform’ in Sub-Saharan Africa: some observations on worship, language and culture”. Studia Liturgica (te verskyne).)
  • · White, James. 1993. A brief history of Christian worship. Nashville: Abingdon Press.

 

Cas Wepener