Sy kuns

Figure wat deur die lug trek, ‘n bok, ‘n donkie en ‘n hoenderhaan, ‘n gekruisigde Jesus bedek met ‘n Joodse lendedoek en marsjerende Nazi-soldate, kleure wat braaf en onverskrokke vanuit die skilderdoek ween en juig oor die lewe…

So beskryf Henry Miller hom: ‘a poet with the wings of a painter’.

Marc Chagall se kuns is ongewoon. Enersyds neig hy na kubisme, teken hy disproporsionele figure, speel hy met geometriese vorming en ontvorming. Andersyds plaas hy diere waar hulle nie hoort nie, skilder hy selfs mense met dierekoppe wat sterk surrealisties voorkom. Maar uiteindelik, alhoewel hy met beide kubisme en surrealisme geflankeer het, het hy albei afgesê en sy eie unieke kunsvorm gekies.

Waar het dit begin?

Moyshe Shagal is op 7 Julie 1887 in Vitebsk gebore, ‘n shtetl in die destydse groter Rusland, vandag Wit Rusland, oftewel Belarus. Vitebsk was ‘n belangrike nedersetting van Hasidim Judaïsme, ‘n beweging wat in 1730 deur Baal Shem Tov in hierdie gebied op die been gebring is. Hasidim Judaïsme gryp terug na die kabbalah-mistiek van die dertiende eeu, by name die Boek van Zohar. Anders as die elitistiese en intellektuele Judaïsme van die Talmud, gaan kabbalah-mistiek oor intuïtiewe kommunikasie met God en ‘n universele liefde vir alle mense. Hierdie benadering was baie populêr, en Hasidim-Jode het dikwels met volle oorgawe gesing en gedans, hul harte brandend met ekstase. Marc Chagall sing sy Joods-Russiese herkoms in kleurryke kwaskuns uit, hy vertel van menswees in sy heel basiese bestaan soos wat hy dit in sy kinderjare in Vitebsk ervaar het: geboorte, liefde, huwelik, dood. Sy Hasidim-wortels kommunikeer ‘n liefde, ‘n vreugde teenoor die wêreld. ‘As ek nie ‘n Jood was nie, sou ek nooit ‘n kunstenaar geword het nie’, het hy per geleentheid gesê.     

As ‘n mens nie kan droom nie, kan jy die werk van Marc Chagall nie begryp nie. Hy stel nie belang in die ‘objektiewe’ werklikheid daarbuite nie, maar verdiep hom in die binnewêreld van droom en verbeelding. Hy draai die hele wêreld  rondomtalie en onderstebo, laat mense, koeie en hoenders sonder enige probleme deur die lug sweef en keer die Wet van Newton op sy kop.

Maar alle drome is nie mooi nie. Marc Chagall leef deur twee wêreldoorloë en beleef ‘n wêreldwye vlaag van anti-semitisme. Sy mense, die Jode word orals verdryf, moet elders ‘n heenkome probeer soek, en word koelbloedig om die lewe gebring. Die verhaal van Jesus se kruisiging gryp die Joodse kunstenaar só aan, dat dit ‘n tema in meer as een van sy skilderye word, nie as getuienis van sy geloof nie, maar wel as simbool van die lyding van die Jode. Jesus word vir Chagall die prototipe van die ‘lydende Jood’.   

Tog bly die sentrale tema van Marc Chagall se kuns die liefde. ‘Ten spyte van al die tragedie van ons wêreld, het ek in my hart nooit die liefde prysgegee waarmee ek grootgeword het nie, ook nie die mens se hoop in die liefde nie. In die lewe, net soos op ‘n kunstenaar se palet, is daar slegs een enkele kleur wat sin aan die lewe en aan kuns gee – die kleur van liefde.’

Share this / Deel hierdie: