Sy lewe

Moyshe Shagal is die oudste van nege kinders in ‘n arm, dog hegte en gelukkige Joodse – of liewers Jiddisje gesin. Sy vader, Khatskl – of Sahar – maak ‘n lewe deur harings te verkoop. Hy werk verskriklik hard, so hard dat hy saans oor sy ete aan die slaap val, maar verdien nie juis genoeg om siel en liggaam van die gesin aanmekaar te hou nie. Sy moeder, Feiga-Ita is – tipiese Jiddisje mama – die eintlike steunpilaar. Teenoor haar lewensmoeë man is sy borrelend en vol energie: sy hou ‘n kruidenierswinkel aan en verhuur eiendom om haar man se karige inkomste aan te vul.

Vir Moyshe is die loopbaan as kunstenaar nie vanselfsprekend nie. Tipies Joods en getrou aan die voorskrifte van die Torah, word geen ‘gesnede beeld of enige gelykenis’ van wat leef of beef in die Shagal-huishouding geduld nie. Hoogstens enkele familiefoto’s. Verder mag Joodse kinders ook nie Russiese skole bywoon nie, en jong Moyshe, net soos ander klein Joodjies gaan na die ‘cheder’ waar hy Hebreeus en Bybel leer. Toe hy 13 word, maak sy ondernemende ma egter ‘n plan: sy gee die Russiese skoolhoof van Vitebsk 50 roebels omkoopgeld om haar seun in die Russiese skool toe te laat. Hier leer die kind Russies, hy ontwikkel ‘n fassinasie met geometriese vorms en sien vir die eerste keer hoe ‘n ander kind ‘n illustrasie uit ‘n tydskrif afteken. Hy gaan huis toe en vertel sy ma dat die kunstenaars-gogga hom gebyt het. Feiga-Ita, diep geskok maar met tipiese Jiddisje nugterheid stuur hom buitentoe om ‘n bietjie vars lug te gaan skep…Nietemin is dit sy wat hom op sy eerste huiwerige treë ondersteun om kunslesse te neem, eers plaaslik in Vitebsk, en daarna in St Petersburg. En daarna maak die wêreld vir hom oop.

Marc Chagall sou nooit sy Russiese shtetl-agtergrond en sy godsdienstige Joodse opvoeding ontsnap nie. Hy word ‘n wêreldburger en ‘n wêreldberoemde kunstenaar wat ewe tuis in Parys, Berlyn, London en New York is. Hy ontmoet avant-garde kunstenaars van alle soorte en van oor die hele wye wêreld heen: tog bly sy kuns deurdrenk met beelde uit Vitebsk en uit die Bybel. Hy laat die aardsheid van Vitebsk met die verfyndheid van post-kulturele Europa vervloei, en skep daardeur ‘n unieke kunsvorm: hy het geen opvolger en geen nabootser nie.

Ten spyte van sy armoedige begin, ten spyte van twee wêreldoorloë, het Marc Chagall ‘n gelukkige gesinslewe. In 1915 trou hy met Bella Rosenfeld, die liefde van sy jeug, en ‘n jaar daarna word hul enigste kind Ida gebore. Die gesin is klein, maar baie geheg aan mekaar. Chagall se mooi vrou is dikwels die inspirasie en model vir sy werke, en tussen Ida en haar pa is die band ook besonder intens. Wanneer Bella in 1944 in New York sterf, is die kunstenaar gebroke. Vir bykans nege maande lank is hy nie in staat om te skilder nie.         

Dit is Ida wat die jong Virginia Haggard McNeil aan haar gebroke pa voorstel – om huis te hou en na sy basiese behoeftes om te sien. Vir hom word sy soos Henrickje Stoffels vir  Rembrandt na die dood van sy Saskia, en onvermydelik, met verloop van tyd word hulle minnaars. Die saak is egter kompleks, want Virginia is steeds getroud met ‘n depressiewe selfbehepte Skot wat dreig om selfmoord te pleeg as sy vrou hom skei, en Ida hanteer die verhouding met gemengde gevoelens. Virginia raak swanger en noem haar kind by Chagall David, maar teen hierdie tyd is die verhouding uiters gespanne. Intussen skei sy van haar man wat toe teen alle verwagting nie selfmoord pleeg nie, en vind aanklank by ‘n groep jongmense wat natuurlike genesing beoefen. Toe Chagall beswaar aanteken dat sy te veel tyd by hulle deurbring, besluit sy om die verhouding te beëindig.  

In 1952 trou Ida met Dr Franz Meyer, ‘n kunshistorikus. Sy bekommer haar egter steeds oor haar pa wat nou alleen en ietwat onbeholpe is. Ida weet egter van iemand, en stel haar pa voor aan Valentina Brodsky (Vava), ‘n vrou met ‘n Russies-Joodse agtergrond wat ‘n suksesvolle modebedryf in London bestuur. Vava is 25 jaar jonger as Chagall, maar hy raak vinnig verlief en hulle trou nog dieselfde jaar as Ida-hulle. Vava is die vrou met wie hy die res van sy lewe deurbring.

Alhoewel Parys vir hom die wêreld van die kuns oopgemaak het, verkies Marc Chagall om sy laaste jare in die suide van Frankryk deur te bring. Op die hoë ouderdom van 97 sterf hy op 28 Maart 1985 in St Paul de Vence en word en word op 1 April in die plaaslike begraafplaas begrawe. Sy beste vriende woon die begrafnis by, en ‘n baie ou vriend, die Jiddisje joernalis Leneman, sê die kaddish vir hom, die Joodse gebed vir die oorledene.

Share this / Deel hierdie: