Brandglasvensters en Jerusalem

Marc Chagall het ook met ander kunsvorms as skilderkuns ge-eksperimenteer. Op die hoë ouderdom van 70, toe hy reeds as skilder bekend was, ontdek hy die wonder van brandglas. Hierdie kunsvorm het sy oorsprong in die Bizantynse tyd, maar bereik ‘n hoogtepunt met die Gotiese argitektuur in Wes-Europa. Die oudste onbeskadigde brandglasvensters kan vandag gesien word in die katedraal van Augsburg wat 1050-1150 gedateer word.

Chagall was aangegryp deur die eenvoud van die medium, en veral die effek van lig. ‘Of dit ‘n katedraal of ‘n sinagoge is, die mistiek vloei deur die venster’, het hy gesê. Vir Chagall as Jood was dit dan ook ‘n besondere eer om in opdrag van die Franse regering brandglasvensters met Bybelse temas vir ‘n aantal Katolieke katedrale te ontwerp.

In 1960 nader dr Myriam Freund, voorsitter van Hadassah (‘n Amerikaanse Sionistiese vroue-organisasie) hom met die versoek om brandglasvensters vir die sinagoge van Hebreeuse Universiteit (Jerusalem) se Mediese Sentrum te ontwerp.  Daar is 12 vensters wat die tema van Genesis 49 en Deuteronomium 33 uitbeeld: Jakob seën sy 12 seuns, en Moses seën die 12 stamme. Trou aan Joodse gebruik, verskyn daar op hierdie vensters geen menslike afbeeldings nie, slegs die name van die stamme, Bybelse aanhalings in Hebreeus, kandelare, blomme, visse, voëls en ander diere. Die kleure van die vensters is geïnspireer deur die beskrywing van die borsplaat van die Hoëpriester in Eksodus 28:15 – goud, blou, pers, bloedrooi, tesame met die edelgesteentes – karneool, topaas, smarag, turkoois, saffier, jaspis ensovoorts. Chagall en sy assistent Charles Marq doen moeite om aan elke venster reg te laat geskied. Jerusalem het baie lig wat ook besonder skerp is. Elke venster moet só geposisioneer word dat net die regte hoeveelheid lig deurfilter om aan die kleure reg te laat geskied. Die resultaat is ‘’n bewegende simfonie van kleur, poësie en verbeelding’.  

Met hierdie grootse werk wil Chagall iets uitbeeld van die diepgewortelde misterie en spiritualiteit wat hy in Israel voel. Dit is sy ‘geskenk aan die Joodse mense wat altyd gedroom het van Bybelse liefde, van vriendskap en vrede tussen alle mense’. In Februarie 1962 word die vensters in Jerusalem geïnstalleer. By die geleentheid is die kunstenaar self teenwoordig. In sy toespraak sê hy: ‘Hoe kan dit wees dat die lug en die aarde van my tuisdorp Vitebsk, hoe kan dit wees dat ‘n duisend jaar van vervolging opgeneem word in die lug en die aarde van Jerusalem? […] Ek voel asof jou tragiese en heroïese weerstand in die ghetto’s  met my blomme, my diere en my vurige kleure ineensmelt. […] Ek voel asof die lyne en kleure vanuit my oë ween, alhoewel ek nie huil nie…’ 

Hierdie twaalf vensters vervloei op teo.co.za se voorblad.

Hoekom?

Die Bybel is vir ons baie belangrik. Die Bybel in sy oorspronklike tale: Hebreeus en Grieks. Dit verknoop ons aan die geskiedenis van ons geloof wat wortel geskiet het in Ou-Israel, ‘n pad geloop het deur die Ou en Nuwe Testament, die vroeë kerk, die Reformasie, tot by vandag. Dis ‘n lang pad vol verdriet, maar ook vol vreugde.

God bly egter vir ons ‘n misterie. Telkens breek sy lig anders deur. Woorde is meestal onvoldoende om ervaringe van God te beskryf. Soos Chagall gesê het, mistiek vloei deur die venster… 

Share this / Deel hierdie: