Inleiding

Kersfees. Saam met Christene wêreldwyd herdenk ons die geboorte van die Christuskind, maar in die Protestantse tradisie maak ons nie veel van sy moeder nie. Ons bely slegs dat ‘Jesus Christus uit die maagd Maria gebore is’, sonder om na te dink waar daardie belydenis vandaan kom, of hoekom dit belangrik was om dit te sê. In hierdie teo-bydrae wil ek stilstaan by die vroegste tradisies rondom Maria.

 

Die Opstanding en die mistiek van stilte

Die Nuwe Testamentiese gegewens oor Maria is karig. Slegs in die Evangelies en in een vers in Handelinge (1:14) word sy by die naam genoem. En dit is te verwagte. Die vroegste ‘kerk’ het nie veel in Jesus se geboorte belang gestel nie. Vir sy eerste volgelinge was sy aardse bediening en die misterie van sy Opstanding die belangrikste gebeure, en dit was die kern van hul verkondinging waardeur hulle die heidene tot bekering gebring het.

Die werke van die vroegste kerkvader, Ignatius van Antiochië wat tydens die oorgang van die eerste na die tweede eeu geleef het, weerspieël hierdie swye oor Maria. Maar sy swye kan ook toegeskryf word aan wat die vroeë kerkvaders die ‘mistiek van stilte’ genoem het. Hulle het geglo dat stilte deel is van die misterie van God. So skryf Ignatius aan die Efesiërs dat Christus uit stilte voortgekom het, en wie sy woorde begryp, is ook in staat om sy stilte te hoor. Hy noem Maria enkele kere by die naam, en wanneer dit gebeur, staan sy altyd in verhouding tot God en tot Christus. ‘Daar is slegs een Geneesheer; Hy is vlees sowel as gees, gebore en nie-gebore, God wat mens geword het, ware lewe in die dood, van Maria en van God, eers verganklik dan onverganklik – Jesus Christus ons Here’, skryf hy in dieselfde brief aan die Efesiërs.

 

Die vroeë kerk: bedreig van binne en buite

Spoedig het die Christendom gegroei, maar so vinnig as wat die nuwe geloof versprei het, net so vinnig het daar verskillende denkstrominge ontwikkel. Sedert die vroegste tye was die kerk alles behalwe ‘n eenheid! Daar was uiterste pole. Aan die een kant was die Ebioniete, ‘n groep Joodse Christene wat Jesus se goddelikheid ten sterkste ontken het. In hul oë was Hy slegs ‘n mens en die natuurlike seun van Josef en Maria. Nogtans het hulle Hom as Messias aanvaar en selfs verwag dat Hy in heerlikheid sal terugkeer.

Aan die ander kant was die Dosetiste, ‘n sekte binne die Gnostici. Die Gnostici het geglo dat kennis van goddelike geheimenisse die ‘siel’ nader aan God sal bring. Geestelike of mistieke eenwording met God is ‘n geestelike ervaring wat deur middel van kennis verkry word. Gevolglik, vir die Gnostici is die materiële wêreld en die liggaam ondergeskik aan die spirituele wêreld en die siel. In lyn hiermee, redeneer die Dosetiste dat Jesus tot die spirituele wêreld behoort, en daarom kan Hy slegs die voorkoms van ‘n mens hê. Hulle ontken dus Jesus se menslikheid en leer dat Hy ‘n volledig geestelike wese was, en dat Hy nie ‘n regte liggaam gehad het nie, maar slegs ‘n skyn-liggaam.

Dít was dan van die eerste probleme wat die vroeë kerkvaders moes hanteer: was Jesus net ‘n mens, of was Hy net God in ‘n skyn-liggaam? En uiteraard, in die nadenke oor Jesus se goddelike/menslike natuur, kom sy geboorte ook ter sprake. Hy is gebore uit ‘n mens, ‘n vrou met die naam Maria.

Maar ook hier moes die kerkvaders versigtig formuleer. Want benewens die Ebioniete en die Dosetiste, moes hulle hulself ook teenoor die Grieks-Romeinse wêreld verwoord. Dit was die magtige wêreld-kutuur van die tyd, en die vele religieuse en filosofiese denke het reeds die Christendom binnegedring. Die kerkvaders moes keer dat die Chistelike ‘teologie’ nie van sy inhoud en transendente waardes gestroop word nie. Want daar is ooreenkomste wat, as dit nie reg hanteer word nie, die Christene heeltemal op ‘n dwaalspoor kon lei. Feitlik al die heidense religieë van daardie tyd het godinne gehad en kultusse wat rondom ‘n moeder-godin gewentel het. Vir die Romeine was daar ‘n Magna Mater; vir die Frigiëers, Cebele; die Palestyne het Astarte gehad; die Egiptenare Isis; en die Efesiërs het Diana aanbid. Daar was ook die ewig maagdelike godinne, soos Athena en Artemis van die Grieke. Die kerkvaders moes ten alle koste waak dat Maria op dieselfde vlak as die moeder- maagdgodinne van die antieke wêreld geplaas word.   

 

Maria en Eva

Justinus die Martelaar (110/110) is waarskynlik die bekendste en eerste kerkvader wat meer breedvoerig oor Maria uitwei. In sy tyd het die Jode die Christene daarvan beskuldig dat hulle stories uit die Griekse mitologie naboots, en hierdie kerkvader wou die historiese en die messiaanse aard van die Christus-gebeure duidelik maak. Sy ‘Eerste Apologie’ is gerig aan keiser Antonius Pius en Marcus Aurelius. Daarin skryf hy oor die maagdelike geboorte. Oppervlakkig beskou, sê hy, het hierdie misterie nogal baie in gemeen met die heidense mites. In werklikheid egter, is dit die finale vervulling van ‘n noukeurige goddelike plan. Verder leun hy ook sterk op die profesieë in die Ou Testament want dit bevestig vir hom dat die Evangelies die ware feite vertel.

Justinus is waarskynlik die eerste outeur wat ‘n parallel tussen Eva en Maria trek. Hieroor skryf hy in sy ‘Dialoog met Trypho’. Trypho was ‘n geleerde Jood wat beweer het dat die Christene die Joodse wet verbreek deur ‘n mens te aanbid. Justinus skryf dan nie soseer oor die maagdelike geboorte nie, maar oor die soteriologiese rol wat Maria in verhouding tot Christus speel. Eva het gekies om aan God ongehoorsaam te wees en eerder na die slang te luister, en Adam het ook saamgespeel. So het die sonde in die wêreld gekom wat die hele menslike geslag in die verderf gedompel het. Nou moet daar ‘n tweede Adam kom om die mensdom te verlos, maar dit is nodig dat die nuwe Adam deur ‘n mens – ‘n vrou – gebore word. Maria word teenoor Eva gestel as die maagd wat gekies het om gehoorsaam te wees, en deur haar gehoorsaamheid word Eva se ongehoorsaamheid uitgewis. Justinus maak dit egter baie duidelik dat Maria, alhoewel sy ‘n besondere rol speel, geen verlosser is nie, sy is volledig ondergeskik aan Jesus Christus, die enigste Verlosser.

‘n Bietjie later sou biskop Irenaeus van Lyons (140-160) dieselfde gedagtegang volg. Sy bekendste werk is ‘Adversus Haeresis’ (Teen Ketterye) waarin hy veral die leer van die Gnostici weerlê. Hy borduur voort op die gedagtes van Justinus, maar meer as sy voorganger, sluit hy aan by wat Paulus in Romeine 5:12-21 oor die ‘nuwe Adam’ skryf. Christus se vleeswording is as’t ware ‘n samevatting van die geskiedenis van die ganse mensdom. In Adam het ons die ‘imagio Dei’ – die beeld van God – verloor; in Jesus Christus vind ons dit terug. As gevolg van die eerste Adam se ongehoorsaamheid word die beeld van God in die mens geskend, en tree sonde en dood in. Maar die tweede Adam se volledige gehoorsaamheid herstel die geskonde beeld en in Hom word alles nuut gemaak.

Irenaeus trek ‘n direkte parallel tussen Maria en Eva. Eva was ‘n maagd terwyl sy met Adam ‘getroud’ was en voordat sy na die slang geluister het. Eva was dus ‘n ongehoorsame maagd, en haar ongehoorsaamheid is ‘n gevolg van haar ongeloof. Daarom het dood en verdoemenis in die wêreld gekom. Hy noem Eva ‘causa mortis’. Maria daarenteen was ook ‘n maagd, maar sy was gelowig en gehoorsaam en as gevolg daarvan, het sy geboorte geskenk aan die tweede Adam deur wie die hele mensdom met God versoen word. Sy is ‘causa salutis’. Maria is dus die anti-tipe van Eva.

 

Die Evangelie van proto-Jakobus

Teen hierdie tyd was daar onder die Christene ook al ‘n toenemende belangstelling in Maria, die moeder van Jesus, en, so iewers in die middel na die einde van die tweede eeu, ontstaan die apokriewe Evangelie van proto-Jakobus. Hierdie evangelie is wyd gelees en was baie populêr onder die vroeë Christene, en het ook baie kunswerke van die eerste eeue inspireer. Dit vertel die roerende verhaal van ‘n diep gelowige egpaar wat baie ryk maar kinderloos was: Anna en Joachim. Nadat Joachim vir ‘n lang tydperk gevas het, en Anna onophoudelik gebid het, kondig ‘n engel aan dat Anna swanger gaan word, en aan ‘n uitsonderlike kind geboorte gaan skenk.

Die evangelie vertel dat Maria sedert haar geboorte buitengewoon was. Op ses maande kon sy self staan en het sewe magiese treetjies tot in haar moeder se arms gegee. Daarna word ‘n spesiale rein slaapkamer vir haar ingerig en haar speelmaats is slegs ‘rein dogters van die Hebreërs’. Op driejarige ouderdom word sy tempel toe geneem, soos wat haar ouers belowe het, en saam met haar gaan die rein Hebreeuse dogters sodat Maria nie daaraan moet dink om te wil terugdraai huis toe nie. Sy word vergelyk met ‘n duif in die tempel vir wie ‘n engel altyd kos gebring het.

Maar dan word Maria twaalf, en ‘onrein’ – waarskynlik begin sy menstrueer. Die hoëpriester bid om raad, en ‘n engel sê hom aan om al die wewenaars in Israel te laat kom en een aan te wys wat vir Maria kan sorg. Onder die wewenaars was Josef. Die hoëpriester het al die wewenaars se stawwe bymekaar gemaak, gaan bid, en daarna elkeen se staf vir hom teruggegee. Skielik het daar ‘n duif uit Josef se staf gevlieg en op sy kop gaan sit. En, alhoewel Josef, toe al ‘n ou man, bang was vir die bespotting van die gemeenskap, het hy ingestem om Maria huis toe te vat en haar te gaan versorg.

Die res van die verhaal stem baie ooreen met wat in Matteus en Lukas se Evangelies vertel word. Behalwe dat Maria uiteindelik in ‘n grot geboorte aan Jesus gee. ‘n Vroedvrou wat met die geboorte help, getuig dat sy ‘n wonderlike ding beleef het: na die geboorte is Maria steeds ‘n maagd. ‘n Tweede getuie wat Salome genoem word, bevestig dieselfde: Maria is ‘n maagd.

Die res van die verhaal beskryf die koms van die wyse manne, Herodes se kindermoord en die tragiese moord op Sagaria, die vader van Johannes die Doper.         

 

Die kerkvaders van Aleksandrië

Die bekende Maria-gebed, die sogenaamde ‘Sub tuum praesidium’ (Onder U beskerming), word vir die eerste keer in Egipte gebid. Ons kry ‘n aanduiding van die geloof wat die vroeë Cristene gehad het dat Maria vir hulle kan intree uit die term ‘Theotókos’ (Moeder van God) wat ook hier vir die eerste keer voorkom.

Die eerste verteenwoordiger van hierdie tydperk is Clemens van Aleksandrië (215). Hy het die Griekse intelligensia van sy tyd probeer bereik, en vreemd genoeg by die Gnostici aanklank gevind – terwyl sy voorgangers soos Irenaues hulle as ketters beskou het! Ware Christene, volgens Clemens, dra outentieke kennis van misterieë wat eenwording met God bewerk. Die ware Christen dra in hom die Christus, die Ewige Woord, die volmaakte beeld van God. Daarom noem hy Maria die Moeder van die Here, want sy het die Woord van God binne haar ontvang. Soos die Evangelie van proto-Jakobus leer, handhaaf ook Clemens dat Maria ‘n ewige maagd bly, selfs nadat sy aan Jesus geboorte geskenk het.

Clemens noem die kerk Maagd-Moeder. Die misterie van Maria, maagd en moeder, word vir hom ‘n metafoor vir die misterie van die vroeë kerk. Hy skryf dat die kerk, deur die verkondiging van die Woord, soos ‘n moeder geboorte aan haar eie kinders skenk, terwyl  die maagdelikheid van haar geloof in die Here ongeskonde bly.  

Origenes (253) is Clemens se opvolger. Hy is waarskynlik die bekendste verteenwoordiger van die Ortodokse teologie, en sy groot stryd is ook teen die Dosetiste.  Daarom is een van Origenes se belangrikste argumente dat Jesus nie slegs ‘n skyn-liggaam gehad het nie. Hy is op ‘n natuurlike en menslike wyse gebore, en Maria het op ‘n normale wyse aan Hom geboorte geskenk.

Maar die maagdelike swangerskap is ‘n misterie. Dit is absoluut ‘n saak van geloof. Origenes redeneer volgens die biologie van sy tyd: ‘n kind word slegs deur manlike semen verwek, en die baarmoeder van die vrou is bloot ‘n houer waarin dit kan ontwikkel. Soos Plato, glo Origenes dat alle siele vooraf bestaan, en tydens konsepsie met die vlees verenig word. So was ook Christus se siel voor die inkarnasie pre-eksistent verenig met die Goddelike Persoon van die Woord. Die Heilige Gees het hierdie siel in Maria met ‘n menslike liggaam verenig. Omdat Hy egter nie deur manlike semen verwek is nie, dra sy siel ook nie die merktekens van sonde nie. Christus is vry dus van sonde.              

Dit is moontlik dat Origenes met die evangelie van proto-Jakobus vertroud was, want hy aanvaar dat Maria na Jesus nooit ander kinders gehad het nie, en dus vir ewig maagd bly. Maagdelikheid – seksuele onthouding – is trouens vir Origenes ‘n besondere deugde by alle Christene. Hy het homself ontman, juis om die rede. So skryf hy: ‘Elke onbedorwe en maagdelike siel wat deur die Heilige Gees swanger word om geboorte te skenk aan die will van die Vader, is ‘n moeder van Jesus.’ Maagdelikheid – onthouding – help die mens om al hoe meer soos die moeder-maagd te word, en soos sy, volkome gehoorsaam aan die wil van die Vader te wees, en dit ook te doen.

 

Die kerk in Rome

Min of meer ‘n eeu voor die konsilie van Nicea is daar nog twee kerkvaders vanuit Rome wat ‘n bydrae oor Maria sou maak.

Hippolitus (170-236) is bekend vir sy werke teen ‘ketterye’ en in sy verset teen pous Callixtus, word hy ook die eerste ‘anti-pous’ in die geskiedenis. Wat Maria betref, beklemtoon hy die misterie van die inkarnasie. God, die Woord het uit die hemel neergedaal in die liggaam van die maagd Maria. Sy menslike vlees asook sy menslike siel het Hy van haar aangeneem. Hy was alles wat ‘n mens was, behalwe vir sonde, sodat Hy die gevalle mens kon red en die ewige lewe skenk aan almal wat in Hom glo. Die misterie van die inkarnasie en die redding van die sondige mens hou dus direk met mekaar verband.

Novatianus was ‘n tydgenoot van Hippolitus. Die vroeë kerk het hom as ‘n ketter beskou omdat hy die mens se geloof en moraliteit oorbeklemtoon het, en ‘n uiters onverdraagsame houding openbaar het teenoor diegene wat gesondig het. Dit was so erg dat hy hulle nie weer tot die gemeenskap van die gelowiges wou toelaat nie. God se genade en vergifnis was dus nie vir hom ‘n genoegsame werklikheid nie. Hy het die ideaal gekoester dat die kerk volledig rein en heilig kan wees, en dat dit moontlik is deur die morele gedrag van mense. Maar ook hy, net soos die ander kerkvaders, verwerp die idee dat Christus slegs ‘n skyn-liggaam gehad het. Jesus Christus is uit die maagd Maria gebore en het ‘n werklike menslike liggaam gehad. Om dit te ontken, is om die werklikheid van die verlossing te ontken.

 

Slot

Die vroeë kerk het aan Maria ‘n besondere plek toegeken: sy was die persoon wat aan Jesus Christus geboorte geskenk het. Die kerkvaders het op twee maniere oor haar nagedink. Eerstens, haar rol in die debat oor die twee nature van Christus. Die feit dat sy mens was, en op menslike wyse aan Jesus geboorte geskenk het, was vir hulle genoegsame getuienis dat Jesus nie ‘n skyn-liggaam nie, maar ‘n werklike menslike liggaam gehad het. Tweedens het hulle haar rol in die soteriologie beklemtoon: uit haar is die Verlosser van die ganse mensdom gebore. Maria self is egter geen verlosser nie – sy is ondergeskik aan die wil van God en Jesus Christus is die enigste ware Verlosser.

          ‘Gebore uit die maagd Maria’ was dus vir hierdie vroeë kerkvaders veel meer as ‘n historiese letterlike feit. ‘Gebore uit die maagd Maria’ verwoord die mensheid van Jesus, dat Hy nie ‘n mitiese skepsel was nie, dat Hy volledig met die gebrokenheid van die mens kon identifiseer, dat Hy as mens onder Pontius Pilatus gekruisig is en daarom die versoening tussen God en mens kon bewerk.

 

Bronne

Benko, Stephen 1993. The Virgin Goddess. Studies in the Pagan and Christian Roots of Mariology. Leiden: E.J.Brill.

Borgeaud, Philippe 2004. Mother of the Gods. From Cybele to the Virgin Mary [vertaal deur Lysa Hochroth]. Baltimore: Johns Hopkins University Press.  

Bur, Jacques 1994. How to Understand the Virgin Mary [vertaal deur John Bowden en Margaret Lydamore]. London: SCM Press.

Gambero, Luigi 1999. Mary and the Fathers of the Church. The Blessed Virgin Mary in Patristic Thought [vertaal deur Thomas Buffer]. San Francisco: Ignatius Press.

Pelikan, Jaroslav 1996. Mary through the Centuries. Her Place in the History of Culture. Yale: Yale University Press. 

Share this / Deel hierdie: