‘Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf …’ (Gen 35:8)

Van hierdie Debora weet ons nie veel nie. Sy het niks opspraakwekkends gedoen nie. Sy was nie een van die volksmoeders nie, en sy was ook nie ‘n leier of ‘n profetes in die geskiedenis van Ou-Israel nie. Heelwaarskynlik is sy dieselfde vrou wat Rebekka grootgemaak en saam met haar uit Mesopotamië gekom het, toe Abraham se slaaf haar laat haal het om met Isak te trou (Gen 24:59). En die volgende keer as ons van haar lees, sterf sy, ‘en hulle het haar begrawe onder die groot boom by Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem’ (Gen 35:8).
Dis ‘n kultuur wat ver van ons verwyder is. Vroue soos Debora was meer as vroedvroue wat babatjies in die wêreld help bring het. Hulle het die kinders gesoog omdat die eie moeders nie kon of wou nie, en was as lid van ‘n huishouding gereken tot die dag van hul dood. Slegs welgestelde families kon die luukse van sulke vroue bekostig: waarskynlik het Rebekka dus uit ‘n besonder vermoënde familie gekom. Maar Debora se lojaiteit het nie die dag geëindig toe Rebekka haar ouerhuis verlaat om met Isak te trou nie: sy het saamgekom, en sy is opgeneem in die huishouding van die volgende geslag – Jakob s’n. En na haar dood het sy ‘n waardige begrafnis onder die Huilboom gekry. Die Huilboom was nie noodwendig ‘n spesifieke soort boom nie. Die implikasie is eerder dat Jakob se familie en almal by hulle besonder hartseer oor Debora se dood was, en baie gehuil het.
Die een vers wat Debora se sterwensdag beskryf, speel egter op ‘n baie belangrike terrein af: Bet-El. Jakob het grond in Sigem gekoop, maar dis nie waar God wil hê hy moet bly nie. God gee opdrag dat hy wegtrek, en die eerste stilhouplek is Bet-El 35:6). Die plek is reeds aan Jakob bekend, want daar het God aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het (28:19). Verskillende heilige rituele is op hierdie plek uitgevoer: Jakob het ‘n altaar gebou (v 7), hy het ‘n klip regop gesit en ‘n drankoffer daarop uitgegiet (v 14). Maar die belangrikste is, by Bet-El het God Jakob se naam na Israel verander (v 10).
‘Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem.’ Wat wil die Bybelskrywer in hierdie een enkele vers vir ons sê? Dis nie bloot ‘n toevallige en interessante brokkie inligting nie. Hier gaan dit om ‘n baie groter prentjie.
Debora se betrokkenheid by Ou-Israel se geskiedenis kan teruggevoer word na die tyd toe Abraham, die aartsvader nog geleef het. Sy is opgeneem in die familie van Jakob, die een uit wie die twaalf stamme van Israel sou voorkom. Alhoewel haar naam, haar funksie, haar dood en begrafnis slegs in een enkele vers opgeteken is, onderstreep die skrywer hiermee die besondere respek wat wat Debora verdien: sy is die vrou wie se borsmelk die moeder van Israel gevoed het, haar lojaliteit het oor ‘n paar geslagte heen gesterk, sy het op heilige grond gesterwe, en haar heengaan was vir almal ‘n baie groot verlies.
Hierdie skrywer het diep nagedink oor die rol wat nie net die aartsvaders, die volksmoeders en die heldinne in Ou-Israel se geskiedenis gespeel het nie. Met ‘n enkele vers herinner hy ons aan die stil figure in menslike bestaan, diegene wat niks opspraakwekkends doen nie, maar wie se verlies intens gevoel word, die dag as hulle sterf. Miskien wil hy ons ook subtiel daarop wys dat ons ons waardering teenoor mense uitspreek terwyl hulle leef, en nie wag tot hul dood nie.

Gebed: Here, baie dankie vir die mense rondom my wat my help om te wees wie ek is. Help my om nie te vergeet om ook vir hulle dankie te sê nie.
Amen.

Share this / Deel hierdie: