“Al wat nou nog kan help, is gebed”. Dit is baie ontstellend wanneer hierdie uitspraak lukraak gemaak, of sommer net as sensasiesoekende trefwoord misbruik word. Wanneer dit egter geleef word, is dit ten diepste waar. Dit gebeur maar alte dikwels dat mense in hulle diepste nood en uitsigloosheid sprakeloos en apaties word, of dat mense in die banaliteit van die alledaagse lewe totaal en al afgestomp raak. Dikwels is mense se selfsug die gevolg daarvan dat hulle die pad agter hulle vol menslike wrakke agterlaat. Wie daarin kan slaag om in sulke situasies na die Psalms van die Eerste Testament te gryp, kan uit sy/haar eensaamheid of lewensangs bevry word. Dit gebeur nie net omdat sodanige persoon terugtree en gebede bid, wat alreeds voor hom/haar deur baie ander mense deur die eeue gebid is nie. Dit gebeur nie net omdat hierdie persoon sy/haar gevoellens en verlangens in woorde tot uitdrukking laat kom nie. Nee, dit gebeur veral omdat hierdie persoon in sy/haar nag van angs en kwale hom/haar wend tot Jahwe, die mensvriendelike God van die Eerste Testament.

          In die chassidiese tradisie is hierdie geheimenis soos volg verwoord: “verlaat julle nie op wonders nie, maar resiteer die psalms”. Diegene wat vir ‘n wonder wag, loop die gevaar om eensaam en verlate te raak. Wie egter die Psalms bid en resiteer, spreek die hoop en verlange na God deur middel van die woorde van die psalms uit. Hy/sy sal ervaar dat die bron van lewenskrag – Jahwe – naby is. Dit is die paradoks wat daar opgesluit is in psalmgebed: wie hierdie woorde sy/haar eie woorde maak, is in die hoogste mate aktief en word terselfdertyd van ‘n valse aktivisme bewaar. Die Psalms herinner ons daaraan dat ons op reis is – en hulle hou die doel van die reis vas. Hulle laat ons ook letterlik ervaar dat ons nie alleen reis nie.

          Waarin lê die voordeel opgesluit om Psalms te bid? Eerstens is dit ‘n illusie dat die mens in staat is om sy/haar ervarings, nood en verlangens te alle tye adekwaat te kan uitdruk, of kreatief te kan verwerk en verwoord. Daar kom oomblikke van radeloosheid, of oomblikke van vreugde en geluk, waartydens hierdie tekste ons uit ons sprakeloosheid kan lei. Tweedens is die Psalmtekste ‘n gawe van God, en naamlik ‘n gawe wat ons kan leer hoe om te bid. Gebed beteken nie om die hart voor God se troon uit te stort nie, maar om eerder met ‘n leë hart die weg na God te vind en met hom te praat (vlg Dietrich Bonhoeffer).

Here, dankie dat u aan ons die Psalms gegee het as voorbeelde van gebede.

Share this / Deel hierdie: