Die dag van die Here kom (Sag 14:1; vgl Jes 27:1-2; Joël 1:15;3:1,18).

Die profete het nie almal dieselfde gesê nie. Daar was nogal groot verskille en dit het alles van die profeet se tyd en konteks afgehang. Amos was êrens tussen 870 tot 850 vC in die Noordryk ’n profeet en sy tyd het ’n skerp analise van die samelewing gevra. Hy het diep gesny en geweldige onreg ontbloot: mense het mekaar getrap, armes is vir die geringste skuld in slawerny ingedwing, handelaars het verskillende gewigte vir hulle skale gebruik en regters is maklik omgekoop. En tog was hulle vroom. Geen feestyd of offer is nagelaat nie en die Sabbat is oral vroom gevier. Amos moes hulle van God se reaksie vertel het: Hy het dit raakgesien en hulle gevoelloosheid en onmenslikheid sou tot die Noordryk se einde lei.

Eeue later (êrens tussen 350 en 300 vC) het een van Israel se laaste profete in Jerusalem gewerk. Ons kan hom Deutero-Sagaria (of Tweede Sagaria) noem en sy woorde kry ons veral in Sagaria 9-14. Dalk het die lewe vir hierdie skrywer en sy klein gemeenskappie baie moeilik geword. Dalk het die nuutjie van die Grieke verdof en het hulle swaar begin gekry. Dalk was hy en sy mense randfigure in die samelewing en nie deel van die groot magstrukture nie; was hulle die magteloses, die buitestaanders en miskien ook die armes; was hulle die onmagtiges en die weerloses wat deur niemand geag is nie. In hierdie neerdrukkende omstandighede het hulle hulle hoop op die God van die toekoms geplaas. As daar dan nóú niks gebeur nie, sal dit wel môre plaasvind. En hierdie hoop het Deutero-Sagaria deur middel van ’n ongewone visioen (in Sag 14) verwoord.

Volgens Deutero-Sagaria sou Jerusalem nog ’n keer verwoes word en sou huise geplunder, vrouens verkrag en mense in ballingskap weggeneem word. Allerlei kosmiese dinge sou ook nog plaasvind soos dat Jerusalem fisies na ’n hoër plek sou verskuif en die Olyfberg middeldeur sou skeur (Sag 14:1-5). 

Met al hierdie vreemde beelde wou die skrywer net sê dat God ‘n God van die toekoms is. En om uitdrukking hieraan te gee, het hy al die ongewone taal en uitdrukkinge van sy tyd gebruik om sy mense van hulle swaarky te laat wegkyk en op die God van môre te laat hoop. Die grootsheid van Deutero-Sagaria (in Sag 14) lê daarin dat hy sy mense van hulle neerdrukkende hede wou laat wegkyk en wou leer om Hom te hoop en wag.

Here, laat ons vandag op U môre hoop en gee ons U vreugde terwyl ons wag.

Share this / Deel hierdie: