Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: ‘Ek is kwaad vir jou en

Daar is nog iets in verband met Job se lyding wat ons moet noem. En dit is die onverklaarbaarheid daarvan. Uit al die gepraat tussen Job en sy vriende asook tussen Job en God het een ding duidelik geblyk: lyding kan nie verklaar word nie. Aanvanklik het Job ook gedink dit kan, maar na sy ontmoeting met God het hy verander. Job se vriende het egter volhard. Hulle het gemeen alles in hierdie lewe kan logies verklaar word. ‘n Mens kán tog God se handelinge in hierdie wêreld verstaan. En gevolglik kán ‘n mens alle lyding van mense netjies verklaar.

Dit is tog mos logies: daar is lyding omdat mense verkeerd doen; daar is hartseer omdat iemand êrens oortree het. Job het gesondig en daarom ly hy ook. En dit is presies wat sy vriende vir hom gesê het. In drie lang rondtes het elkeen sy sê vir Job gesê. Elifas, die oudste, begin sy storie min of meer so: ‘Job, jy is ‘n goeie mens. Dit weet ons almal. Maar Job, êrens moes jy gesondig het. Dit is mos nie verniet dat ‘n mens so ly nie. Gaan soek wat verkeerd is en maak dit reg’.

In die boek Job word hierdie standpunt gekritiseer. Job se vriende het heeltemal verkeerd oor God gepraat. Hulle het gepraat asof hulle God se optrede in verband met Job kan verstaan. En dit was verkeerd van hulle. Geen wonder God was kwaad vir hulle nie. God pas nie netjies in die mens se raamwerk nie. God pas nooit logies in ons denke nie. Kortom: die vriende en aanvanklik Job  het nie rekening met die onverklaarbaarheid van lyding gehou nie.
Daar is dus ‘n misterie aan lyding verbonde wat buite ons begrip en verstand lê. Dit moes Job ook in daardie stormagtige gesprek met God ontdek het. God sê in soveel woorde dat Hy die wêreld gemaak het, dat Hy alles onderhou en dat Hy weet wat Hy met mense in die menswêreld doen. Dit was nie nodig dat Job die detail van sy lyding ken nie. Hy moes eerder die misterie daarvan eerbiedig en elke dag sy rus in die Skeppergod vind.

Die boek Job sluit so pragtig af. Met Job het dit weer baie goed gegaan. Hy het weer besittings, mooi dogters en ‘n klomp ander goed gekry. Mooi is sy sterwe ook: daar is ‘n volheid en ‘n afgerondheid in sy sterwe.
Here, maak ons stil sodat ons ook kan sê, ons weet aan wie ons ons toevertrou het. Al wissel dan ook dag en nag. Ons ken die rots op wie ons gebou het van wie ons al ons heil verwag.

Share this / Deel hierdie: