‘U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.’ (Gen 16:13)

Abram het huismoles. Sy vrou en haar bediende kan nie saamwerk nie. Dit laat ‘n mens nogal glimlag: wat is nuut onder die son? Bediendeklagtes is so oud soos die lewe self. Maar hier is ‘n komplikasie. Dit gaan om meer as die gebruiklike wrywing tussen vrou en bediende, hierdie keer gaan dit om swangerskap. Want in die antieke wêreld was die hoogtepunt van ‘n vrou se lewe om swanger te word en aan ‘n kind, veral ‘n seun, geboorte te gee. In Oud Israel is kinders gesien as ‘n teken van die Here se seën. En wanneer Sarai nie swanger raak nie, is sy so desperaat dat sy Hagar, haar Egiptiese slavin vir haar man gee om as ‘n soort ‘substituut-swangerskap’ te funksioneer. Ook dit was normale praktyk in die Ou Nabye Ooste. Die kind wat volgens so ‘n reëling gebore word, word nie gereken as die kind van die biologiese ma nie, maar as die kind van die vader en sy wettige vrou. Dit is dan ook wat Sarai in die oog het, as sy vir Abram sê: ‘Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ‘n kind in die wêreld wat my eie kan word (Gen 16:2).

   Alles gebeur volgens plan, maar dan begin sake lelik skeefloop. Die prestasie van swangerskap gaan na Hagar se kop, en sy raak aanstellerig. Sarai gee Abram die skuld vir die moeilikheid: ‘Ek het my slavin vir jou gegee … nou minag sy my,’  (v 5). Abram wil nie betrokke raak nie en sê vir Sarai: ‘Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.’

   ‘My slavin’ … ‘jou slavin’. Nie een keer word Hagar op die naam genoem nie. In Abram en Sarai se huishouding is sy naamloos.

   Sarai maak die lewe vir haar slavin so ondraaglik dat sy uiteindelik wegloop tot waar ‘n Engel van die Here haar by ‘n fontein in die woestyn kry. Die Engel vra haar: ‘Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?’ (Gen 16:8).

   In die mond van die Engel van die Here het Hagar ‘n naam, en hy stel belang in haar verlede en haar toekoms.  

   Die prentjie is egter nie rooskleurig nie. Die antwoord op die eerste gedeelte van die vraag is skokkend eerlik: Hagar is ‘n wegloop-slavin – van Sarai. Ja, sy noem die vrou, haar meerdere, op haar naam.

   Dan gebeur nog ‘n opvallende ding: die Engel veroordeel nie haar optrede nie, maar spel haar toekoms uit. Sy moet terugkeer na haar  ‘eienares’. En, as die Engel oor Hagar se toekoms praat, is die ‘eienares’ die naamlose een (v 9)! Die bordjies word egter nie daarmee verhang nie, Hagar word direk aangesê om haar plek in die huishouding te ken – sy moet haar aan die gesag van haar eienares onderwerp (v 9). Maar daarmee saam ontvang sy ‘n belofte, amper identies aan die belofte wat die Here aan Abraham in Genesis 12:2 en 15:5 gemaak het: die Engel belowe Hagar ‘n nageslag wat te veel sal wees om te tel (Gen 16:10).                    

   Is dit genoeg troos vir Hagar om terug te keer na ‘n huishouding waar haar teenwoordigheid groot spanning veroorsaak? Nee. Nie die belofte van ‘n nageslag nie (v 10), maar die besef dat God haar raakgesien het (v 13). God ken haar naam en sien haar swaarkry. Hagar het ‘n unieke Godservaring beleef.

   Gebed: Here, onthou my naam, en sien my raak as ek swaarkry, al is dit my eie skuld.

Share this / Deel hierdie: