As ’n vloedramp skielik die dood bring, lag God oor die wanhoop van die onskuldiges (Job 9:23).

Jeremia het dit gedoen en die skrywers van die klaagpsalms het dit nog erger gedoen, maar by Job is dit die ergste. Hulle het dit met ‘n geweldige skerpheid gedoen. So erg dat die woorde ons nou nog diep tref. En tog is die felheid ook mooi. Op ‘n ander soort manier mooi. Want dit sê iets van menswees en van menslike ervaringe. Dit beklemtoon dat ‘n gelowige nie alles net passief hoef te aanvaar nie. Wat egter die mooiste en die aangrypendste is, is dat God dit toelaat en aanvaar. Dat Hy die mens selfs die ruimte gee om dit te doen.

Ja, ons praat van verset. Loutere onverdunde verset teen God. Jeremia wou nie die werk doen wat aan hom opgedra is nie. Dit het geweldige spanning en stryd meegebring. En in die proses het Jeremia ‘n gevoel van ontnugtering gehad. Dit het gelyk asof God ontrou word. Asof God net nie doen wat Hy belowe het nie. Daarom sê Jeremia baie skerp: ‘Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ’n stroom wat nie standhoudend is nie’ (Jer 15:18). Op ‘n ander plek het hy weer oor die sin van sy eie bestaan gewonder. Hy moes nooit gebore gewees het nie: ‘Waarom is ek gebore, net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?’ ( Jer 20:18).

By Job is dit amper die ergste. Hoofstuk vir hoofstuk van die boek Job draai op die een of ander manier om Job en sy pyn. Sy vriende het hom probeer troos, maar dit het nie gehelp nie. Hulle het ook heeltemal die verkeerde goed gesê. Job het ook niks van wat hulle gesê het, aanvaar nie. In die een na die ander gesprek het hulle al hoe meer van mekaar verwyderd geraak.

Uiteindelik het net God nog vir Job oorgebly. En hier het Job se grootste probleem gelê. Die Een wat hom moes help, die Een wat aan sy kant moes kom staan het, het teenoor hom gaan staan. Van God kan jy niks meer verwag nie. Hy lag vir jou en Hy stoot jou maar weer in die modder. Lees net hoe skerp formuleer hy dit: ‘Eintlik is dit om ’t ewe, daarom dink ek: of ’n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou tog. As ’n vloedramp skielik die dood bring, lag God oor die wanhoop van die onskuldiges (Job 9:22-23).

As lyding deel van ‘n gelowige se lewe is, is verset dit ook. Die wonderlike is dat God dit toelaat. Jeremia sê dat jy van God niks meer kan verwag nie en tog laat God hom toe om sy hart uit te praat. Job bal sy vuis vir God en God gee hom al die vryheid om sy woede uit te sê.

God gee ruimte vir die klag. God laat die verset toe. Daar is egter ook ‘n anderkant. Terwyl die mens skop en skree, raak hy al hoe meer in God se liefde verstrengel. Terwyl die mens die vuis teen God bal, trek Hy haar stadig maar seker na Hom toe. Ons moet en kan ons teen God verset, maar op ‘n dag moet daar ook rus kom.

Here, ons voel soms so ontnugter oor dit wat U doen. Soms voel ons dat die lewe nooit weer goed sal word nie. Ons kla voor U en stort ons hart dag en nag voor U uit. En tog lyk dit asof niks gebeur nie. Gee dat ons U liefde so intens sal ervaar dat ons gevoel van neerslagtigheid in blydskap sal verander. En ons klag in lof.  Ó

Share this / Deel hierdie: