Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid (Spr 11:2).

Augustinus het gesê dat ’n hoogmoedige mens aan vergeetagtigheid lei. Hy het vergeet dat hy van die aarde se bogrond gemaak is en eintlik niks is nie. Hy het vergeet dat hy net deur God se genade iets is.

Toe Josef jonk was, het hy ook aan so ’n vergeetagtigheid gelei (Gen 37). Opgewonde het hy een oggend sy broers van ’n droom vertel. Hulle was besig om gerwe te bind en toe het al die ander gerwe voor syne gebuig. Sy broers was woedend, maar sy volgende droom was nog meer arrogant: die son, maan en sterre het voor hom gebuig (Gen 37:5-9).

Op ’n baie eienaardige manier is daar ’n noue band tussen die Josefsverhaal (in Gen 37-50) en ons teksvers uit Spreuke. As ’n mens Genesis baie intensief lees, ontdek jy in hoofstuk 37 ’n interessante breuk. Dit is die begin van die Josefsverhaal en is heeltemal anders as die voorafgaande hoofstukke. Ons noem dit ’n ‘wysheidsverhaal’ en is deurdrenk van die soort teologie wat ons in Spreuke kry. En Spreuke help ons onder andere om Josef se ongelooflike arrogansie te begryp

Eers moet ons onthou dat die woordjie ‘wysheid’ in die boek Spreuke nie op die een of ander akademiese kwalifikasie dui nie, maar op ‘n lewenswyse. So was die leefwyse van ’n dwase mens selfvernietigend: hy het sy humeur in die openbaar verloor, geheime uitgelap, mense met sy woorde vernietig en nog baie ander dinge meer. Volgens ons teksvers was ‘n dwase vol van homself. Hy was arrogant, hovaardig en het hom altyd bo ander mense verhef. Sulke gedrag was egter selfvernietigend. Wie homself aangestel en verhef het, is op verskriklike maniere verneder. Dít sien ons so mooi in Josef se lewe: sy hoogmoed het hom in ’n put van ellende laat beland.

‘n Wyse mens daarenteen was nederig. Volgens die Spreukeboek het nederigheid met ‘n bepaalde lewensinstelling gepaardgegaan. Elkeen moes weet waar hy inpas en daarvolgens lewe. Elkeen moes sy eie-ek kruisig asook alle eiebelang, afguns of hebsug aflê.

In so ‘n nederige lewenshouding het daar soveel vreugde gelê. Spreuke omskryf dit met die woordjie ‘tevredenheid’. ‘n Nederige het die groot kuns van tevredenheid aangeleer. ‘n Tevredenheid met wie hy was asook met wat hy besit het. Mooi word dit in Spreuke 30:8 verwoord: ‘… moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het’.

Here, ons is so vol van onsself. Alles draai net om ons. Leer ons egter die vreugde van nederigwees en leer ons die kuns van tevredenheid.

Share this / Deel hierdie: