Teks: Gen 38:26. Juda het dit herken en gesê: ‘Sy is onskuldig, ek nie!’

Juda is ‘n belhamel. Saam met sy broers beraam hy ‘n plan om van Josef ontslae te raak. Dit is sy voorstel om Josef aan Midianitiese handelaars verkoop. Verder bedink die broers ‘n groter geknoei: doop Josef se tuniek in die bloed van ‘n boklam, en sê ‘n roofdier het hom opgevreet. En toe hul vader Jakob die kledingstuk herken, is hy ontroosbaar …

Juda se optrede teenoor die meisie Tamar is ook uiters onsensitief. Eers gee hy haar aan Er, sy oudste, en as dié kinderloos sterf, gee hy haar aan Onan, sy tweede. So bepaal die leviraatshuwelik immers: as ‘n broer kinderloos te sterwe kom, moet sy weduwee aan die volgende broer gegee word om die oorledene se naam en nageslag te laat voortleef. Maar Onan sorg dat hierdie verbintenis onvrugbaar bly, en hy sterf ook. Na regte moet Juda Tamar nou aan Sela, sy jongste gee. Sela is egter nog nie mans genoeg nie, en Juda stuur Tamar dus terug na haar pa om daar te bly wag tot Sela groot is. Intussen sterf Juda se vrou, Sela word groot, en Juda doen niks omtrent Tamar nie.

Sy besef sy moet self ‘n plan maak. Toe sy hoor haar skoonpa gaan verbykom om sy kleinvee te laat skeer, vermom sy haar soos ‘n prostituut en wag hom in. Juda maak van haar dienste gebruik, maar sy eis betaling en ‘n pand: ‘n boklam, sy kierie en sy ring. En dis net hier waar Juda se eie geknoei van die verlede – met ‘n boklam en persoonlike besittings – hom inhaal. As hy die boklam aan die ‘prostituut’ stuur, hoor hy sy skoondogter is swanger. Onmiddellik wil hy haar laat verbrand, maar sy bring die bewysstukke tevoorskyn van die man by wie sy swanger is. Juda herken dit as syne. Hy is skudig. Hy het sy verantwoordelikheid versuim.

Dit is die draaipunt. Later in die verhaal ontmoet ons ‘n volwasse, verantwoordelike Juda. Hy is besorg oor Benjamin, hy pleit voor Josef ter wille van sy bejaarde vader. Hy erken skuld en aanvaar verantwoordelikheid vir wat hy gedoen het. Uiteindelik loop alles goed af: die hele familie kom Egipte toe en word van ‘n gewisse hongerdood gered.

Om skuld te erken, is nie maklik nie. Dit verg insig en veral moed as vergifnis ook ter sprake is. Maar soms is ‘ek is jammer’ die enigste manier om ‘n skeefgeloopte storie weer op koers te kry.

  Gebed: Here, help my om te kan sê ek is jammer.

Share this / Deel hierdie: