‘Ek het Israel leer loop,’ het die Here deur middel van die mond van ‘n profeet gesê. Dit het egter lank geduur, want Israel het voortdurend gestruikel. Telkens as dit bietjie swaar gaan, wou hulle terug – terug na die tyd toe hulle nog nie op hulle eie bene gestaan het nie.

Die hede is te hard, die toekoms is te onseker – die volk begin om die verlede te idealiseer, hulle verlang na die vleispotte van Egipte. Die goeie ou tye! Selfs die slawehuis word omgetower tot ‘n paradys. Dit lyk soos ‘n bekende tafereel: die spanning tussen die nood van die oomblik en die perspektief van die toekoms. Die woestyn is ‘n lang leerskool.

As hulle tog maar net ‘n bietjie vertroue gehad het! ‘Sê vir die volk dat Ek hulle sal voed,’ sê die Here vir Moses, ‘in die aand sal kwartels uit die hemel kom, en in die oggend sal daar brood wees.’ Teen die aandskemering het kwartels aangevlieg gekom wat hulle kon vang. Vroeg in die oggend was daar iets skilferagtigs, fyn soos dou, wat die grond bedek het.

‘Wat is dit?’ vra die volk. ‘Dit is brood van God,’ antwoord Moses, ‘manna – soet soos heuning.’

So word hulle honger gestil en hulle dors geles. ‘Laat ons God dank,’ sê Moses, ‘want ons ontvang dit alles uit sy hande.’

Share this / Deel hierdie: