Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie (1 Kon 19

 

Ons ontmoet die profeet Elia in 1 Konings 17. Hy is maar ‘n bywoner uit Gilead (1 Kon 17:1), maar as daar ooit ‘n heethoof was, is hy die een. Sy hele bediening staan in stryd met Agab, koning van Israel, en sy Baäl-aanbiddende vrou, koningin Isebel. As gevolg van die koningshuis se goddeloosheid, straf die Here Israel met droogte. Trouens, die hele Israel hink op twee gedagtes: is die Here of is Baäl werklik God?
Die ware God laat Homself op die berg Karmel blyk. Daar is ‘n offerdier op die altaar, en ‘n profete-gebed moet vuur uit die hemel laat kom om die dier te verbrand. Die Baäl-profete is eerste aan die beurt. Hulle spring en dans, kerf hulself stukkend, maar wat hulle ookal probeer, niks gebeur nie. En dan kom Elia met ‘n eenvoudige gebed: ‘Here, … laat dit tog bekend word dat U God is … dat ek u dienaar is … Antwoord my Here, antwoord my tog …’  Wonderbaarlik kom daar vuur uit die hemel, en verbrand alles. Die offer die hout, die klippe, en lek selfs die water in die sloot op. ‘n Wonderwerk.
Maar na hierdie volslae oorwinning – wat ‘n antiklimaks! Isebel soek Elia lewe, en hy word bang. Weg is die heethoof. Weg is sy groot geloof. Die profeet slaan op vlug en nou ontmoet ons ‘n aartsdepressiewe mens onder ‘n besembos met ‘n intense begeerte om te sterf (1 Kon 19:4). Hy sê: ‘Nou is dit genoeg Here! Neem my lewe …’
Na alles wat vooraf gebeur het, sou ‘n mens kon dink dat die Here darem vir Elia in hierdie oomblik van angs en wanhoop tegmoet sou kom. ‘n Sagte vertroosting? Nog ‘n wonderwerk?
Maar nee!
Daar kom weliswaar ‘n engel wat vir hom kos bring, maar die boodskap is hard. Hy moet die pad vat – en hy kom by die berg Horeb. Daar gaan sit hy in ‘n grot en wag vir ‘n kragtoertjie, vir nog ‘n wonderwerk soos op Karmel. Maar tevergeefs. Die een na die ander natuurverskynsel speel voor sy oë of, maar geen Here nie. En wanneer sy ore die dreunende stilte nie meer kan vat nie, kom die stem van die Here tot hom: ‘Salf Gasael tot koning van Aram. Salf Jehu tot koning van Israel. En salf Elisa tot jou opvolger’ (vgl v16).
Wat ‘n boodskap! Veral vir ‘n depressiewe mens. Elia voel alreeds so ellendig, en benewens die klomp opdragte wat hy nou moet uitvoer, moet hy ook nog sy opvolger gaan salf. Nie juis iets wat hom troos nie!
Tekenend van ons lewe? Hoe dikwels wag ons nie ook op wonderwerke nie? Hoe dikwels misluk ons grootse ideale – selfs ter wille van ‘n baie goeie saak? Hoe dikwels wil ons ook soos Elia onder die besembos gaan lê en uitroep: ‘Here, nou is dit genoeg!’ En, hoe dikwels wens ons die Here wil maar net een keer – al is dit net een keer – ‘n kragtoertjie uithaal, sodat ons weet Hy bestaan … maar al wat ons hoor is sy oorverdowende stilte.
Elia voer sy opdragte uit.
Hoe is dit moontlik? Hoe kry hy dit reg?
Al wat hy hoor is: ‘Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie’ (1 Konings 19:18).
Dis nie ‘n wonderwerk wat Elia laat aangaan nie. Sy lewe raak nie makliker nie, inteendeel! Maar die Here verander sy perspektief.
       Here, ek sit op moedverloor se vlakte. Gee my tog ‘n ander perspektief.

Share this / Deel hierdie: