U het my mislei Here, en ek het my laat mislei (Jer 20:7a).

Jeremia is diep teleurgesteld. Die Here self het hom op ‘n jong ouderdom tot profeet geroep (1:6). Sy protes het niks gehelp nie, die Here het dit eenvoudig nie aanvaar nie. Sedertdien het hy alles gedoen wat die Here hom beveel het, maar al wat hy teruggekry het was vernedering en bespotting van mense (Jer 20:8).

Jeremia se ervaring is nie uniek nie. Die digter, NP Van Wyk Louw beaam hierdie gevoel. Sy gedig, ‘Die Profeet’ begin met die woorde: ‘U het nie woord gehou met my, o Heer:’ Beide profeet en digter beskuldig God. Beide het geglo dat God hulle vir ‘n besondere taak roep. Beide het verwag dat God hulle vrede en rus sou gun as hulle hul taak met oorgawe uitvoer. Die teendeel het egter gebeur. Van Wyk Louw skryf dat God se woorde en woede en skrik op hom gekom het, en hom genadeloos tot op sy knieë neergeslaan het … ‘totdat die nag my in ‘n donker hoop gehurk, en aan die snik gevind het’ (r 17-19). Jeremia gee oor: ‘U was te sterk vir my, U het gewen’ (Jer 20:7b).

Profeet en digter worstel met God. Hul noodkrete het ‘n adres – en dis God. Vir nie een van die twee gebeur daar ‘n wonderwerk om hulself of hul geloof te red nie. Tog verander iets. Vanaf vers 11 begin Jeremia begin skielik ‘n ander deuntjie sing. Sy twyfel en klag swaai nou om in ‘n gebed van lof en vertroue op God. Hoe gebeur dit?

Miskien vul Van Wyk Louw die gaping in: ‘Ek het soos glas U en U werk deurskou, gesien U is die Rustelose, U is die wind wat warrelend oor die vlaktes waai van die heelal, dat die blink stof van sterre staan.’ En hy sluit sy gedig af: ‘maar ek, aan wie U self U werk verklaar het, gaan dán met die nuwe heilige wete uit: dat hierdie duisternis van my U lig en waarheid is, hierdie verwarde spraak U suiwer en deursigtige woord en sin; dat al my onrus is die saamswaai met u magtige wind – en Heer, ek staan weer sterk in die andere genade wat U gee.’

Dis paradoksaal. In die duisternis van onbegrip en twyfel, lê God se waarheid. In verwarde spraak word God se Woord gehoor. En wanneer die digter besef dat sy eie onrus met die magtige wind van die Here saamswaai, vind hy ‘n ander genade wat hom help om sterk te staan.

Ook Jeremia probeer sy bes om homself van God los te skeur, en nie meer in sy Naam te praat nie, maar dan word dit in hom ‘soos ‘n vuur wat brand’ en waarteen hy nie weerstand kan bied nie (Jer 20:9). Uiteindelik bely die profeet: ‘Maar U is by my Here, en U is magtig en sterk’ (Jer 20:11). In sy diepste oomblikke van lyding en terwyl hy God met bitterheid aankla, ervaar Jeremia God se nabyheid.

Die lewe is meestal nie maklik nie. Dikwels voel ons gewerp, selfs verwerp. Ons twyfel aan God. Hy voel ver en afwesig. Ou Testamentiese gelowiges soos Jeremia en Job kla God vir hul ellende aan. Hulle twfel of Hy hulle lot ooit raaksien en of Hy enigsins nog vir hulle omgee. Maar juis in hierdie donkerste momente van die lewe, word twyfel in die lig van geloof ingebring.

Here, help my glo as dit swaar gaan met my.

Share this / Deel hierdie: