Hy (Job) was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy … Meteens het daar ’n sterk win

Geen ander boek in die Ou Testament begin met so ‘n getuigskrif nie. In die openingsvers word gesê daar was man uit Us met die naam van Job en dan rol die woorde oor sy goedheid: hy was vroom, hy het die Here gedien en hy het die kwaad vermy. Sommer in die eerste vers van die boek leer ons al van hierdie besondere man. In die res van die boek vertel ander mense ook van Job se vroomheid en opregtheid.

En volgens die boek Spreuke sou iemand soos Job ook baie voorspoed ervaar het. Iemand wat wys was en wat geweet het hoe om reg te leef, sou baie kinders hê, ryk wees, ‘n groot naam hê en nog baie ander wonderlike dinge meer. En dit is presies wat van Job gesê word. In vers 1 word gesê hy is vroom en dan onmiddellik word van sy rykdom vertel. Hy het duisende van dit en nog meer van dat gehad. Daar word selfs gesê dat Job naderhand die belangrikste man in die hele ooste was (Job 1:4). Soos dit ook by ‘n vroom mens pas, het hy baie kinders gehad. En sy kinders het die welvaart wat hulle pa geskep het, geniet. Hulle was lief partytjies en het voluit geleef. So erg dat Job soms bang was dit ruk hande uit en daarom het hy gereeld namens hulle gaan offer. As hulle dan verkeerd gedoen het, was pa Job daar om namens hulle ‘n brandoffer te bring.

Op ‘n dag het Job se lewe egter verkrummel. Die een slaaf na die ander kom met die tyding aangehardloop dat Job se kinders almal dood is en dat omtrent al sy vee gesteel is. Job het in ‘n oogwink alles verloor.

Hoe is dit dan moontlik? Job was dan so vroom en opreg. Hoe is dit tog moontlik dat iemand wat so naby aan die Here geleef het, so kan ly? Het God beheer oor Job se lewe verloor? Kon Hy darem nie die teenspoed gekeer het nie? Kon Hy darem nie so ‘n wonderlike mens soos Job al die lyding gespaar het nie?

Dit is die groot probleem waarmee die boek Job worstel. Indien ons die boek Spreuke lees en dan sommer direk na Job toe oorslaan, word die probleem nog groter. Die basiese vraag is dan: Kán ‘n gelowige ly? Waarom gebeur sulke slegte dinge met goeie kinders van God? Job se vriende het ‘n vinnige antwoord gehad. Hulle het gesê lyding is die gevolg van sonde. Job het verkeerd gedoen en klaar. Hierdie soort antwoord kon Job nie troos nie.

Dit is ook nie die soort antwoord wat ons ooit kan te vrede stel nie. Lyding is deel van gelowigwees. In die antieke tyd het mense ook met hulle gode oor hulle lyding geworstel. Dit is aangrypende leesstof. Vir hulle was dit asof die gode heeltemal beheer verloor het. Lyding was die gevolg van die gode se onvermoë om die kwade te keer.

By Job is dit totaal anders. Lyding is volgens die boek Job onafwendbaar, maar hoegenaamd nie omdat God beheer verloor het nie. Dit was juis Job se uitdaging: om sy lyding nie los van God se grootheid en sy almag te verstaan nie. Sy lyding het juis in God se skeppershande nuwe betekenis gekry.

Here, as ons swaarkry, voel dit soms asof U ver is. Soms kan ons dit nie verstaan dat dit juis óns is wat moet ly nie. Ons wat lief is vir U en wat U wil dien nie. Ons sukkel om lyding met U goedheid te versoen. Here, ons kan ons lyding nie verklaar nie, maar leer U ons om nuwe lewensin in ons swaarkry te ontdek. Ó 

Share this / Deel hierdie: