Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit … (Job 38:1)

Job het gely. Verskriklike dinge het met hom gebeur. Op een dag het hy alles verloor. Sy vriende probeer hom troos, maar hulle bereik niks nie. Job wou so graag sy lyding verstaan. Waarom moes hy ly? Wat presies het hy verkeerd gedoen? Omdat sy vriende hom nie kon help nie, wou hy graag vir God ontmoet. Hy sou God self na die hoekoms en die waaroms van sy swaarkry wou vra. Hy sou God dalk self op sy fout wou wys. Die fout dat Hy die verkeerde persoon laat ly het.

Op ‘n dag gebeur dit toe ook. God begin met Job in ‘n stormwind te praat. En wat ‘n gesprek is dit nie (lees dit gerus in Job 38-42). Dit is lank, dit is oorweldigend en die hele pad vryf God die vloer met arme ou Job. Dit was nie ‘n tweegesprek nie, maar ‘n  monoloog. Job kon nie ‘n woord inkry nie. Tot nog toe het Job baie gepraat. Hy het sy vuis gebal en allerhande goed oor God gesê. Maar in Job 38-40 is dit God se beurt. En Hy praat en praat en arme ou Job moet bontstaan.

God begin deur Job te vra of hy teenwoordig was tydens die skepping van die aarde. Of hy daardie dag by was toe God die aarde voltooi en dit mooi netjies op sy voetstuk gesit het.  Maar Job sal natuurlik niks daarvan weet nie, want hy was nie daar nie (Job 38:3-7). En so het God net vers vir vers aangegaan. Wat Hy gesê het, is ongelooflik mooi. Enige een met ‘n liefde vir die natuur sal hierdie hoofstukke geniet. Vir Job was dit nie so lekker nie. Hy kon nie God se vrae antwoord nie. Hy het nog gedink hy gaan God met al sy probleme konfronteer, maar toe gebeur die teenoorgestelde. God vra hom. En Job sukkel.

Aan die einde van die gesprek is Job eintlik sprakeloos (Job 42:1-6). Hy weet nou God is is die skepper, maar wat sê dit vir sy probleme? Dit sê dat God, die skepper van die hemel en die aarde, volle beheer oor die menswêreld het. Hy was daarom met Job se probleme bekend. Hy het van sy hartseer geweet. Hy het sy gesukkel om alles te verwerk, geken. Kortom: God het alles onder beheer; ook Job se lewe.

          En dit moes Job se troos wees: hy kon nie sy lyding verstaan nie, maar hy kon ten minste in God se skeppershande rus vind. Job sou nooit alles kon verklaar nie, maar hy sou te minste troos, kalmte en vrede by die grote God wat hemel en aarde geskep, kon vind.

Here, ons tas na die rede vir al ons lyding, maar ons greep skiet telkens te kort. Ons weet nie hoekom alles met ons gebeur het nie. En ons kan ook niks daaraan verander nie. Ons voel so magteloos. Ons dank U dat U die wêreld gemaak het en dat alles veilig in U hand rus, ook ons lewens. Gee ons die moed om te leef en ‘n kalmte wat alle verstand te bowe gaan.

Share this / Deel hierdie: