Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek (Num 10:34).

Die trompette het geklink en die volk was in beroering. Elke stam het sy plek ingeneem en was gereed vir die trek. Met Juda vooraan het hulle dié oggend Sinai vir goed verlaat (Num 10:11-36).

Maklik was dit ook nie. By so ‘n staning het daar allerlei kleinmensdinge gebeur. Kinders is gebore, vriende is gemaak, geliefdes het gesterf en in woestynsand begrawe. Al die dinge moes hulle agtergelaat het en verder tot by Paran getrek het (Num 10:12).

Hierdie trekkery belig nogal baie mooi die aard van Israel se aardse bestaan. Hulle was altyd op pad, altyd na die eindbestemming op weg, altyd na die beloofde land op koers. Altyd maar weer moes die staning opgebreek, die tente opgepak en die reis voortgesit word. Altyd moes die bekende gelos en die onbekende ingetrek word.

Aangrypend was dat Israel nooit alleen getrek het nie. God was by hulle. Op ‘n keer het Moses geweier om sonder God verder te trek. Na die goue-kalf-gebeure wou God ook nie meer nie. Hy was so ontnugterd en moedeloos dat Hy nie meer een tree saam met Israel wou gee nie. Dit was toe dat Moses gesê het dat hulle nie ‘n voet sonder Hom kan versit nie. Sonder God sou die pad net te swaar en die lang reis byna onmoontlik gewees het (Eks 33:1-16).

Weer was God se liefde vir die hardkoppige Israel net te sterk. Hy sou elke dag saam met hulle die woestynpad geloop het. En sy nabyheid sou hulle ook nog kon gesien het. Vooraan sou ‘n wolk wees en dít was die teken dat God naby aan hulle was. Al het die son hulle geskroei en die sand hulle gebrand, al het die dors en die honger hulle soms byna vernietig, was God nogtans naby en het Hy vir hulle gesorg. Dít het Israel se afbreek, inpak en rondtrek in die woestyn net soveel draagliker gemaak.

Voordat Israel dus die beloofde land kon binnegetrek het, moes hulle eers God se nabyheid in die felle woestynland ontdek het. Moes hulle eers leer om God dag vir dag en stap vir stap te kan vertrou. Dít was ‘n onontbeerlike ‘les’ vir hulle verdere lewensbestaan.

Here, soms word ons woestynpad net een te veel. Soms voel dit asof ons nie een tree meer kan versit nie. Leer ons om U in ons woestynland te kan ontdek sodat ons ons woestyntog met vreugde kan voltooi. Ó

Share this / Deel hierdie: