… daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut (Klg 3:22-23).

Klaagliedere is ‘n mistroostige boek. Dit vertel van die onmenslike lyding wat die inwoners van Jerusalem deurgemaak het ná die beleëring en uiteindelik die verwoesting van die stad (586 vC). En dis verskriklik. Die digter van die boek spel keer op keer die wreedhede van die oorlog en die gevolge daarvan uit: hongersnood, ontreddering, maar die ergste daarvan is sy gevoel van godverlatenheid.

In die middel van die boek, in die middel van al die ellendes, kom die verrassende belydenis: ‘Maar dit sal ek ter harte neem, en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan ne; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut’ (3:21-23).

Ons weet nie waarom hy dit sê nie, want dit lyk nie asof die situasie enigsins verbeter nie. Maar op ‘n manier ervaar hy tog ook God se nabyheid wat hom die moed gee om aan te gaan en te bly hoop.

Almal van ons ly soms, hetsy fisies of psigies. En in ons lyding ervaar ons dikwels dat God geen ag op ons slaan nie. Die digter van Klaagliedere, die man wat die allerverskriklikste ellende gesien en beleef het, wil vir ons sê dat God op ‘n manier in ons lyding tog ook naby is, al voel dit nie altyd so nie.

            Here, laat u ontferming elke môre nuut vir ons wees.

Share this / Deel hierdie: