‘God het my voor julle uitgestuur’ …(Gen 45:5, 7, 8)

Die Josef-verhaal sekerlik een van die aangrypendste vertellings in die Hebreeuse Bybel, juis omdat dit so eg menslik is. Wie van ons het nog nooit wrewelrige gevoelens teenoor ‘n bedorwe brokkie en ‘n witbroodjie gekoester nie? Ons gaan miskien nie so ver soos Josef se broers nie, maar ons ken die emosies! ‘Hoogmoed kom tot ‘n val’ is ‘n bekende Afrikaanse spreekwoord, maar die Hebreeuse Bybel ken dit ook (vgl Spr 29:23). Josef kry sy verdiende loon – al is sy lessie dalk harder as wat nodig is. Daarom word die Josef-verhaal ook ‘n wysheidsvertelling genoem.

   Josef is in Egipte en sy broers en hul pa in Kanaän. ‘n Hele klompie jare gaan verby. In Egipte sit Josef nie ‘n enkele voet verkeerd nie en beklee uiteindelik ‘n pos net onder die farao. Toegegee, hy laat sy broers ‘n bietjie naels kou as hulle – soos wat hy in sy kinderjare gedroom het – voor hom kom buig, maar sy bedoelings is nie kwaadwillig nie, hy wil hulle net ‘n bietjie laat skrik. Die laaste keer kom hulle beangs terug met Josef se beker in Benjamin se sak. Juda lewer ‘n roerende pleidooi om genade, maar daarmee saam ook ‘n skulderkentenis oor die hele lelike verlede (Gen 44:18-32). By Josef breek al die opgekropte emosies van baie jare oop. Hy verwyt egter nie, hy sê wie hy is, en vra of sy pa nog lewe. Wat ‘n aandoenlike ontknoping!   

   Gedurende die jare van skeiding het ‘n belangrike ding gebeur. Josef en sy broers het grootgeword. Leuens en bedrog maak plek vir eerlike belydenis; in plaas van verbittering en verwyt, is daar versoening. 

   Die geskiedenis van Jakob/Israel beeld die mens op sy lelikste, maar ook sy mooiste uit. Ons lees van afguns, bedrog, en haat. Maar ons lees ook van liefde en vergifnis. Menslike keuses laat sake ‘n bepaalde wending neem. Nêrens gryp God direk in nie. Tog is Hy daar: by Josef in die tronk (Gen 40:21,23), en Josef self sien alles wat met hom gebeur as ‘n bestiering van God (45:5-8). Op ‘n onverklaarbare, selfs misterieuse wyse, was God daar: in die tronk en op die troon. En ‘n verhaal wat in weerwraak kon eindig, word ‘n verhaal van redding. 

   In die tronk of op die troon van die lewe, is sterk emosies betrokke. God se teenwoordigheid is nie altyd voelbaar nie. Juis daar is dit op sy nodigste. Menslike keuses kan iemand se lewe maak of breek.            

   Gebed: Here, laat my U teenwoordigheid ervaar, in sukses en mislukking.

Share this / Deel hierdie: