Ek versmag van verlange na die tempel van die Here (Ps 84:3).

Psalm 84 is al die helderste lig in die Ou Testament genoem. En as ‘n mens dit ‘n paar keer deurlees en jou in die psalmskrywer se gemoed inleef, verstaan jy dit nogal. Dit fokus baie skerp op intense menslike emosies soos verlange, kalmte, vrede, rus. Veral die oorweldigende gevoel van verlange gryp ‘n mens aan.

Psalms 42-49 en 84-85 asook 87-88 word ‘Koragietiese psalms’ genoem want Korag was die hoof van ‘n groep wat tydens oggend- en aanddiens in die tempel moes gesing het. Al dié psalms het daarom ‘n baie duidelike teologiese lyn: op Sion, waar die tempel gestaan het, het God gewoon; daar kon sy nabyheid ervaar word en van daar het Hy die hele wêreld geseën.

Verlange na Jerusalem of die tempel was daarom ten diepste ‘n verlange na God. En volgens die skrywer van Psalm 42 was dit ‘n intense ervaring. Hy was weg van Jerusalem, die tempel en van God en dit was ‘n ondraaglike gevoel van eensaamheid en alleenheid. Hy vergelyk dit met ‘n bok in ‘n dorre streek: ‘Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God’ (Ps 42:2). Soos ‘n wildsbok in ‘n waterlose streek na water dors so smag die skrywer na God. Soos wat die wildsbok rusteloos na water rondsoek, so maak die verlange na God hom ook ongeduldig.

Psalm 84 vertel weer van pelgrims wat na ‘n lang reis by die tempel aangekom het. Elke jaar met die groot feeste soos pase en pinkster het hulle na Jerusalem toe opgetrek, maar die tog was nooit maklik nie want op pad was vele gevare (vgl Ps 121). Die aankoms in Jerusalem en die tempel was daarom ‘n blye oomblik.

En as die moeë pelgrim uiteindelik op Sion gestaan het, het hy van sy liefde vir die tempel gesing. ‘Hoe lief het ek U woning’, was die eerste woorde van sy lied. Hy was nie net vir die geboue-kompleks of die uitsig lief nie, maar veral vir God wat hy in sy woning ervaar het.

Dan vertel hy hoe hy na God verlang het. Hy het byna ‘versmag van verlange’. Dit beteken iets soos ‘vergaan of beswyk van verlange’. Totius se beryming het dit so mooi met die woorde ‘dors’ en ‘skreeu’ omskryf. Die verlange na God was soos iets wat binne-in ‘n mens skreeu: ‘Soos ‘n hert in dorre streke skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke, (so) skreeu my siel na U, o God!’

Here, wees U in hierdie pinkster die Een na wie ons verlang, maar ook die Een wat dié verlange in ons stilmaak.

Share this / Deel hierdie: