Jesus word soos volg beskryf in Matteus 11:19: Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars”. Die vraag is: waarom word Jesus met hierdie terme beskryf. Wat was Jesus besig om te doen binne die denke van sy tyd?

Kom ons ondersoek ook twee ander teksgedeeltes om die saak te probeer belig. Lukas 14:21b-23 en Matteus 22:9-10 onderskeidelik: “‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen’. Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die man vir die slaaf: Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.”

“Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe. Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.”

Die plot van die verhaal wentel om iemand wat gaste uitnooi na ‘n bruilof. Die gaste draai egter op die laaste nippertjie uit. Dus is die bruilof gereed, maar daar is geen gaste nie. Die gasheer nooi almal van die strate af in wat wil kom fees hou. Die gaste sou in so ‘n geval ‘n mengsel wees van alle kleure, klasse en geslag. Kulties rein en onrein sou meng.

In terme van gewoontes en gebruike rondom eet sou dit ‘n nagmerrie wees. Dink byvoorbeeld hoe ‘n bedelaar wat kos vra, behandel word teenoor ‘n werkgewer wat uitgenooi word vir ‘n aandete in jou eie huis. Sou mens die bedelaar kos gee by die straathek, of in die kombuis laat aansit, of uitnooi om ‘n maaltyd te geniet saam met die gesin, of laat aaansit saam met jou werkgewer?

Hierdie verhouding rondom eet word beskryf as “kommensaliteit”. Dit kom van die Latyn mensa wat “tafel” beteken. Dit kan soos volg beskryf word: “It means the rules of tabling and eating as miniature models for the rules of association and socialization. It means table fellowship as a map of economic discrimination, social hierarchy, and political differentiation.”

Alhoewel hierdie ‘n verhaaltjie is, daag dit mens uit om juis soos wat die verhaal almal rondom dieselfde tafel plaas, ook die groter werklikheid van die lewe te omvorm tot die verhaal se tafelgemeenskap. Jesus het hierdie verhaal geleef en het Homself daarom die vernederende byname op die hals gehaal. Hy assosieer met mense wat in die samelewing vermy moet word. Hulle is nie “goeie geselskap” nie.

Ek is daarom oortuig dat die kerk oop moet wees vir almal wat daaraan wil behoort, al is hulle nie “goeie eetmaats” nie. Om die tafel kan dalk ‘n homoseksuele persoon sit, ‘n ongeletterde of dalk ‘n bedelaar. Aan voorbeelde ontbreek dit nie. Is ons bereid om soos Jesus die samelewing uit te daag ten einde vooroordele en diskriminasie tot ‘n einde te bring. Dit klink na iets wat opoffering mag verg, maar wat die kerk maar mag vra van lidmate. Dit vra toleransie vir mekaar, veral in die konteks van verskillende geloofsoortuigings.

Share this / Deel hierdie: